Thursday 23 October 2014

Geloof in Aksie




Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop.  -  Hebr. 11:1


          Geloof  om seker te wees van die dinge wat ons hoop, word al hoe sterker met gebruik.
          Net soos die spiere in my liggaam al hoe sterker word met gebruik, groei my geloof in God en Sy werke in my en om my, by die dag.
          Ek wag nie op ‘n uitdaging om my geloof aan die werk te stel nie.  Niks in my alledaagse handel en wandel is te klein en nietig vir my om in geloof te benader nie.  Dit is die klein, eenvoudige dade van geloof wat die sterk fondament lê waarop ek staande kan bly wanneer ek voor groot uitdagings te staan kom.
          As ek ‘n behoefte het aan genesing, staan ek vas in die vertroue dat ek genees sal word.  Om te weet en te bevestig dat genesing altyd moontlik is, is geloof in aksie.
          As ek voor ‘n uitdaging te staan kom waarvoor daar skynbaar geen oplossing is nie, staan ek vas in my geloof en ek weet dat daar vir enigiets onder die son ‘n volmaakte oplossing is.


Gebed:  My geloof in God en Sy werke groei by die dag.


~ Uit Daelikse Woord ~

Monday 20 October 2014

Laat Los, Laat God




Dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.  -  Filip. 2:13


Ek laat los.  Ek laat los alle vrees wat ek mag hê – vrees vir mense,  die toekoms en vrees dat ek miskien die verkeerde dinge mag doen.  Ek laat los twyfel – twyfel in myself, twyfel in my vermoëns, twyfel of iemand my liefhet.  Ek laat los enige geloof in wat negatief is, sowel as enige geloof dat die lewe onvriendelik en onregverdig is teenoor my.  Ek laat los en laat God!

Ek laat God deur my dink en deur my lewe.  Al my gedagtes, al my woorde, alles wat ek doen is in harmonie met Sy lig en liefde.  Ek staan vas in my geloof.  Ek glo in mense en in die goedheid wat die toekoms inhou.  Ek glo dat ek die regte besluite sal neem en die regte dinge sal doen.  Ek glo in myself want ek is ‘n kind van God.  Ek is oop en ontvanklik en in staat om Sy liefde uit te leef.  Ek laat los en laat God!

Ek sien die wêreld en al die mense in die wêreld soos God ons sien – besig om te leer om Sy liefde uit te leef en besig om te loop in Sy pad van lig.


Gebed:  Ek laat los en laat God!


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 14 October 2014

EEN TREE




As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie.  -  Spr. 4:12


Klein kindertjies moet eers klein treetjies gee voordat hulle kan loop of selfs hardloop.  Die eerste treetjie is meer wankelrig, maar dit is die begin van ‘n ontdekkingstog ‘n hele nuwe wêreld in.

En nou, as volwassenes is ons nog steeds besig om daardie eerste tree die onbekende in te gaan.  Van oomblik tot oomblik, van dag tot dag, jaar in en jaar uit, betree ons die onbekende, en ons weet steeds nie wat op ons wag nie.

Dit sou seker ‘n groot waagstuk gewees het – en vir baie mense is dit seker ‘n waagstuk – as ons nie met vertroue, met ons hand in dié van die Heer, tree vir tree voortgegaan het op ons lewensweg nie.

Hoe jammer vir hulle wat nie hierdie versekering het nie, hulle wat bang en onseker opstaan en gaan slaap.  Ons bede vir diesulkes is, “Laat U lig vir hulle deurbreek, Heer.”

En ons, sien ons wérklik die lig?  Is elke nuwe tree ‘n opwindende uitdaging omdat ons weet ons Heer is altyd net een tree voor ons?  Hy lei ons, rig ons, en sorg dat ons nie ons voet stamp of seerkry nie.  Daar sal niks in ons pad wees nie!


Gebed:  Niks is in my pad nie!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 8 October 2014

BID VIR ANDER






In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal.  -  Fil. 1:4


Gods voorsiening vir my geliefdes oortref my stoutste verwagtinge aangaande hulle.  *Dankie, Dierbare Vader!*

Sy lewenskrag werk en straal in en deur en óm hulle, om hulle gesond en sterk te maak en in élke behoefte van hulle te voorsien.

Soms dink ek ek weet présies wat hulle moet doen of nie moet doen nie, en dra dit dan ook so aan hulle oor.  En *tog* - diep in my hart wéét ek dat ek slegs moet bid vir Lig, Liefde en Krag op hul lewenspad, en as hulle handel en wandel in Sy lig, sal Sy seëninge wat Hy op hulle uitstort soveel groter wees as wat ek kan droom in my wildste drome!

So innig lief soos wat ek my familie en vriende het, weet ek dat ons Hemelse Vader hulle lief het met ‘n veel inniger en dieper liefde, want hulle is ook kinders na-aan Sy vaderhart.  In Sy liefde lei en beskerm Hy hulle elke tree van die pad wat hulle moet loop.

“Hier is my geliefdes, dierbaarste Heer.  Ek weet Ú sorg vir hulle – leer my hoe om hulle met my hele hart en siel onvoorwaardelik en sonder kommer in Ú troue sorg te laat, want álleen *dan* kan ek ook met blydskap vir hulle bid!”


Gebed:  Met blydskap bid ek vir my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 5 October 2014

BEANTWOORDE GEBED





Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.  -  Joh. 11:41


Wanneer ons bid, verwag ons die regte, volmaakte antwoorde op ons gebede.  En tog raak ons soms so moedeloos, omdat dit lyk asof ons gebede maar net nie beantwoord word nie.  Dan het dit tyd geword om na onsself te kyk, en vas te stel wat ons gesindheid is wanneer ons bid.

Probeer ons vir God voorskryf presies wat Hy moet doen, of eindig ons elke gebed af met die woorde:  “Dit, Here is wat ek graag wil hê, maar as U iets beter in gedagte het, dan sê ek nou by voorbaat dankie daarvoor.  Laat U wil geskied!  In Jesus Naam vra ek dit.”

In watter lig sien ons die uitdaging wat ons in gebed opdra?  Sien ons dit as synde iets wat lei tot ons verdere geestelike groei, of soek ons onmiddelike antwoord op materiële gebied.  Is ons positief omtrent die saak, of  bly ons gedagtes negatief en vol kommer.  Met ander woorde, glo ons? 

As ons opreg bid, en glo in Gods liefde en lig, dan sal ons gebede op die regte tyd, op die regte manier beantwoord word – vir onsself of vir enigiets of iemand vir wie ons bid, en ons sê byvoorbaat dankie!  En ons bid of vra dit om Jesus ontwil.


Gebed:  Dankie Heer, dat U my gebede verhoor!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 2 October 2014

LEIDING





Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.  -  Jes. 26:3


Lyk dit asof ek geen beheer het oor die dinge wat gebeur in my lewe nie?  Ek bly net kalm, want ek weet met Gód in bevel hoef ék nie in beheer te wees nie.

Waar ek ookal mag gaan, my Heer gaan saam met my.  Saggies lei Hy my en rig Hy my voetstappe op Sy pad van lig.  Vir elke situasie is daar die regte oplossing en op hierdie waarheid verlaat ek my, wat die omstandighede waarin ek my mag bevind, ookal mag wees.

Ek glo vas dat alles vir my ten goede meewerk, en omdat ek na alles wat met my gebeur met die oë van geloof kyk, is dit vir my moontlik om te reageer op die leiding wat ek van Bo kry.

Elke dag, elke tree, stap my Heer saam met my.  Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe, en uit die diepte van my hart sê ek nou dankie vir hierdie grootse waarheid.  Met lig in my denke en liefde in my hart, skep ek ‘n atmosfeer van liefde en harmonie in my en om my – vandag, môre en elke dag!


Gebed:  Op U dierbare Heer, stel ek my vertroue!



~ Uit Daelikse Woord ~