Wednesday 8 October 2014

BID VIR ANDER






In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal.  -  Fil. 1:4


Gods voorsiening vir my geliefdes oortref my stoutste verwagtinge aangaande hulle.  *Dankie, Dierbare Vader!*

Sy lewenskrag werk en straal in en deur en óm hulle, om hulle gesond en sterk te maak en in élke behoefte van hulle te voorsien.

Soms dink ek ek weet présies wat hulle moet doen of nie moet doen nie, en dra dit dan ook so aan hulle oor.  En *tog* - diep in my hart wéét ek dat ek slegs moet bid vir Lig, Liefde en Krag op hul lewenspad, en as hulle handel en wandel in Sy lig, sal Sy seëninge wat Hy op hulle uitstort soveel groter wees as wat ek kan droom in my wildste drome!

So innig lief soos wat ek my familie en vriende het, weet ek dat ons Hemelse Vader hulle lief het met ‘n veel inniger en dieper liefde, want hulle is ook kinders na-aan Sy vaderhart.  In Sy liefde lei en beskerm Hy hulle elke tree van die pad wat hulle moet loop.

“Hier is my geliefdes, dierbaarste Heer.  Ek weet Ú sorg vir hulle – leer my hoe om hulle met my hele hart en siel onvoorwaardelik en sonder kommer in Ú troue sorg te laat, want álleen *dan* kan ek ook met blydskap vir hulle bid!”


Gebed:  Met blydskap bid ek vir my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: