Thursday 2 October 2014

LEIDING





Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.  -  Jes. 26:3


Lyk dit asof ek geen beheer het oor die dinge wat gebeur in my lewe nie?  Ek bly net kalm, want ek weet met Gód in bevel hoef ék nie in beheer te wees nie.

Waar ek ookal mag gaan, my Heer gaan saam met my.  Saggies lei Hy my en rig Hy my voetstappe op Sy pad van lig.  Vir elke situasie is daar die regte oplossing en op hierdie waarheid verlaat ek my, wat die omstandighede waarin ek my mag bevind, ookal mag wees.

Ek glo vas dat alles vir my ten goede meewerk, en omdat ek na alles wat met my gebeur met die oë van geloof kyk, is dit vir my moontlik om te reageer op die leiding wat ek van Bo kry.

Elke dag, elke tree, stap my Heer saam met my.  Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe, en uit die diepte van my hart sê ek nou dankie vir hierdie grootse waarheid.  Met lig in my denke en liefde in my hart, skep ek ‘n atmosfeer van liefde en harmonie in my en om my – vandag, môre en elke dag!


Gebed:  Op U dierbare Heer, stel ek my vertroue!



~ Uit Daelikse Woord ~






No comments: