Friday 29 March 2013





GOEIE VRYDAG -  OORWINNING

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare.  -  2 Kor. 4:18

Vandag herdenk ons seker die lelikste daad wat die mensdom nog óóit gedoen het op hierdie aarde – naamlik die kruisiging van die Seun van God.  As ons oë op die sigbare gebeurtenisse gerig is, sal ons seer sekerlik in sak en as gaan sit met hierdie herdenking.  Maar gelukkig, na al die eeue heen, kan ons ons oë op die onsigbare rig.

Die geloof van die dissipels was in flarde daar waar hulle gebroke voor die kruis van Jesus gestaan het.  Maar later het hulle geleer dat die kruis maar net ‘n stopplek was op die pad na oorwinning en die Opstanding.  Vir die sondes van die wêreld en die mens het Hy Sy bloed vergiet, en drie dae later het Hy opgestaan en geseëvier oor alles en almal wat Hom probeer breek het.

Laat ons dan ook vandag waar ons die kruishout gade slaan, alles wat ons aan bande lê – alle sondes en griewe, neerlê aan die voet van die kruis om daar skoongewas te word in Sy liefdesbloed, en ook ons sal, soos Jesus, oorwinnaars wees!

Gebed:  Dankie Heer, vir ‘n rein hart.

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 20 March 2013





GODS  LIEFDE


God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.  -  1 Joh 4:16


As jy vandag dink aan God, dink aan Sy wonderbaarlike liefde.  Dink hoe hierdie liefde van hom orals rondom jou is en orals aan die werk is.  Selfs in mense en omstandighede waar dit nie gesien kan word nie, is dit aan die werk, nou en vir ewig.

Dit is dus nodig om na almal en alles te kyk met die oë van liefde, want dit is liefde wat God genoop het om die wêreld en alles daarin te skep.  As ons dus alles om ons koester met liefde, werk ons in harmonie met God.

Hierdie liefde in harmonie met Gods liefde, kan wondere verrig.  Raak mense, gebeure en omstandighede saggies aan met Sy liefde in jou hart en sien hoe hierdie liefde heel, orde bring, lei en seën, reg laat geskied en vrede bring.  Wees bly en dankbaar oor Gods liefde wat steeds aan die werk is en wondere laat geskied.


Gebed:  Gods liefde verrig wondere.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 19 March 2013





MOED

Vertrou op die Here!  Wees sterk en hou goeie moed!  -  Ps. 27:14

Moed laat ons dadelik dink aan ‘n held, maar dit is baie meer as dit.  Dit behels ‘n sterk wil, deursettingsvermoë en vasberadenheid.

Ons beskik oor die nodige moed om ‘n nuwe beroep te begin, of ‘n nuwe vaardigheid aan te leer.  Ons het die moed om met welslae ‘n groep mense toe te spreek of ‘n moontlike nuwe werkgewer te nader.  As sekere dinge ons ontstel, het ons die moed om die werkinge van Gods lewenskrag in ons en om ons aan die werk, te bevestig, en te glo in die beste oplossing.

Ons het die moed wat nodig is vir enigiets wat ons graag wil aanpak, want Gods Heilige Gees woon in ons, en ons vertrou op Hom.  Dit is moed wat ons krag gee om aan te hou glo in selfs die grootste uitdagings waarvoor ons te staan mag kom.

Moed en geloof is al wat nodig is om die grootste twyfel en vrese te oorbrug, en ons te lei tot genesing, voorspoed en vrede in ons gemoed.

Gebed:  Op U, o Heer, vertrou ek!

~ Uit Daelikse Woord ~


Sunday 17 March 2013





‘N  LIGTE  AANRAKING

In die Here is julle lig.  Leef dan as mense van die lig.  -  Ef.  5:8

Elke nuwe dag is ‘n spesiale dag as ek dit ‘n ligte aanraking gee.  Dit is ‘n dag wat ek seën met die lig van die Vader – die ware lig wat skyn in die duisternis – wat misverstand uit die weg ruim en mense inspireer om reg en ordelik op te tree.

Met die lig wat in my en om my skyn, is daar vrede in my gemoed.  My verstand is helder en ek lewer my heel beste.  Ek sien net die positiewe en die goeie in elke mens en in elke uitdaging.  In stilte seën ek alles waarvoor ek te staan kom, en oorhandig dit aan God vir lig en wysheid.

Ek gee die ligte aanraking van my liefde en lewensvreugde en entoesiasme aan elke mens wat my pad mag kruis.  Elke oomblik van elke dag hou ek in die lig van Gods liefde en sorg.  Die ligte aanraking bring lig in alles wat my aangaan.  Dit is ‘n wonderwerkende krag in my en om my, en laat my leef soos dit ‘n kind van die lig betaam om te leef.

Gebed:  Ek gee alles in my lewe ‘n ligte aanraking.

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday 16 March 2013





GEBED  VIR  MY  KINDERS

deur  Geke Wiersma

Ek lê die name van my kinders in U hande.
Graveer Ú hul daarin met onuitwisbaar skrif.
Dat niks of niemand hul daaruit kan brand nie,
ook nie as satan hul soos koring sif.
Hou U my kinders vas as ek hul los moet laat
en laat U krag vir altyd bo hul swakheid staan.
U weet hoe eindeloos die wêreld hul sal haat
as hul nie met die wêreld saam wil gaan.
Ek vra U nie om hul verdriet te spaar,
maar 
wees U tog hul troos, as hulle eensaam is en bang.
Wil om U naam’s ontwil hul in U hand bewaar
en laat hul 
nooit van U vervreem nie, nooit, hul lewe lang!
Ek lê die name van my kinders in U hande.
Amen.

(Uit Nederlands vertaal)






OPTIMISTIESE  REAKSIE

‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens.  -  Spr  17:22

Ons groet ander mense met die woorde: “Hoe gaan dit?”  Maar ons mag net sowel vir onsself die vraag afvra:  “Hoe gaan dit met my?”

Dít is my geleentheid om ‘n positiewe, gesonde benadering te bevestig deur my eie antwoord te baseer op die werklikheid instede van op die voorkoms van dinge, en deur my antwoord een te maak wat lewe, gesondheid en heelheid benadruk in plaas van om uit te wy oor pyne, kwale en probleme.  Hoe gaan dit met my as ‘n kind van God, ‘n geestelike wese?

Ek reageer hierop met sterk, positiewe gedagtes:  “Ek is sterk, gesond, lewenskragtig en vol energie.  Ek is gelukkig en entoesiasties oor die lewe.  My probleme begin gladnie meer so groot lyk as ‘n ruk tevore nie, want my Heer wag alreeds dat ek dit aan Hom moet oorhandig!”

Wanneer ek die dag, naweek of nuwe week  begin met hierdie positiewe gesindheid, het dit dieselfde optimistiese uitwerking op almal met wie my pad deur die dag kruis en met vreugde kan ek sê:  “Ek is ‘n stralende kind van ‘n ongelooflike Hemelvader!”

Gebed:  Ek is ‘n geestelike wese.

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday 15 March 2013





WANNEER JY OUD WORD

Lees  PREDIKER  12:1-8

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor ... die jare aanbreek waarvan jy sal sê:  “Ek het daar niks aan nie.”  PRED 12:1

Dit is ‘n pynigende gedagte om te dink dat jou jeug vir ewig verby is.  Die ouderdom bring gewoonlik ook matelose eensaamheid met hom saam:  medereisgenote val weg langs die pad.  Die omgewing waarin jy jou bevind, is dikwels nie meer dié waarin jy grootgeword of jou lewenstaak verrig het nie.  Jou kragte kwyn al hoe vinniger.  En die moeilikste om te aanvaar is dít:  “Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil;  maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie”  (Joh  21:18).

En tog:  vir die Christen-bejaarde is dit ‘n troos om te weet dat God ook ‘n God van die ouderdom is, dat daar by Hom oorvloedige vergoeding is vir die skade wat die jare aan ons lewe doen.  Waar Hy liggaamskragte wegneem, skenk Hy meer geestelike krag.  Krag van buite word vervang deur krag van binne.  Dan verstaan ons die Woord van die Here wat sê:  “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige”  (Sag  4:6)

Heilige Vader, dankie dat ek nie slegs verloor met die wentelende jare nie, maar dat ek ook oneindig baie wen omdat ek u kind is en gelowig op U kan vertrou, ook in die ouderdom.

Wie as ‘n vriend van God ouer word, vind dat die ryper jare allermins ‘n afdraende pad is – KOBUS ANTHONISSEN.

~ Uit Op vlerke van geloof deur Solly Ozrovech ~



Thursday 14 March 2013





VASTE  GELOOF

En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.  -  Jak.  1:4

Soms wanneer dit voel asof my hele lewe om my in flarde lê, is al wat my staande hou my geloof.

My geloof is in God en in Sy almag, waarteen geen duisternis óóit staande kan bly nie.

My geloof is in God en Sy geregtigheid, wat sal toesien dat níks wat myne is van my af weggeneem kan en sal word nie.

My geloof is in God en Sy lewegewende krag wat énige ongesteldheid na liggaam of gees kán en sál genees.

My geloof is in God en Sy liefde wat altyd vir my sê  “Ek is hier”, hoé alleen en verlate ek ookal mag voel.

My vaste geloof laat my rus in Sy ewige arms wat áltyd onder my is om my te onderskraag en te beskerm.

Gebed:  Ek glo in God en in Sy Almag!

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 13 March 2013





HARMONIE

Bo dit alle moet julle mekaar liefhê.  Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.  -  Kol. 3:14

Harmonie bring die goeie en die mooie na vore.  ‘n Soeke na harmonie bring Gods orde in moeilike en ongelukkige menseverhoudings of uitdagings na vore.

Met liefde in my hart, is ek in harmonie met alles en almal om my, en straal ek vrede en vreugde uit sover ek gaan.

Harmonie is altyd beskikbaar, en wanneer ek ‘n beroep daarop doen om onaangename situasie binne te vloei, sal dit.  Ek bevestig orde en harmonie vir alles en almal wat my lewe raak.

Ook in my eie lewe streef ek na harmonie en vrede.  Ek sonder gereeld tyd af om my diepste heiligdom binne te gaan in gebed, die plek waar ek gevul word met ál die liefde, lig en genade wat ek nodig mag hê gedurende elke dag van my lewe.  My gedagtes word omskep in lig-gedagtes, en ek weet dat dít wat met my gebeur, afhang van dit wat ek dink.

Harmonie en vrede heers in my gemoed!

Gebed:  Harmonie en vrede heers in my gemoed.

~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 12 March 2013





‘N ONTDEKKINGSTOG

By God is wysheid en krag ...  Hy gee lig in donker dieptes,  Hy maak donker plekke lig.  -  Job 12:13,22

Ongeag hoe dikwels ek ‘n bekende pad ry, is daar altyd iets nuuts om te ontdek.  Al ken ek ‘n geliefde hoe lank, is daar altyd iets nuuts wat ek kan leer omtrent die persoon.

Hemelse wondere omring my elke dag, en tog is daar nog so baie waarvan ek nie eens bewus is nie.  Soos byvoorbeeld ‘n klein akkertjie wat vandag van ‘n boom afval, waar dit onder die stof en grond verdwyn en dan begin ontkiem en groei tot ‘n reuse-akkerboom iewerss in die verre toekoms.

Ek kyk na myself en Gods hele skepping met die oë van ‘n avontuurlustige ontdekker.  Soms staan ek verbaas oor wát ek alles in myself ontdek, veral as ek geen perke plaas op dít waartoe ek in staat is nie.

Maar die belangrikste ontdekking wat ek óóit kan doen, is my eie geestelike waarde as kind van God -  ‘n skepping van lig, liefde en krag!

Gebed:  Vandag is ek op ‘n ontdekkingstog!

~ Uit Daelikse Woord ~









VRY

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.  -  Deut.  5:6

Ek begin ‘n nuwe lewe deur my vry te maak van ou gedagte-patrone en leefwyses wat nie meer tot my heil is nie.  Vry en ongebonde volg ek my pad van lig, in harmonie met Gods goeie plan vir my.

As kind van ‘n Hemelvader is daar niks waarvoor ek bang is nie.  Stap vir stap volg ek Sy lig wat so helder op my pad skyn – en ek weet wat om waar en wanneer te doen en ek doen dit met vreugde in my hart.

Géén negatiwiteit van die verlede het enige houvas meer oor my nie.  God die Vader het my vry gemaak, en in die krag van Hom wat in my woon, is ek daartoe in staat om die bande wat my probeer bind, te verbreek.  Splinternuwe weë, nuwe deure gaan voor my oop, en my lewe begin weer opnuut.

Uit die plek van slawerny het Hy my bevry.  Van negatiewe herinneringe, gewoontes en gedagtes het Hý my verlos, en hier en nou is die beginpunt van ‘n nuwe vryheid, ‘n nuwe lewe vir my!

Gebed:  Ek is vry en begin opnuut!

~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 11 March 2013





ALTYD MET MY

Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?  -  Eks. 33:14

ALTYD  MET  MY!  Wat ‘n wonderlike versekering is dit nie!  Ek begroet die dag met ‘n glimlag want God is met my.  Hoe kan dit anders as om ‘n goeie, gelukkige dag te wees.

ALTYD  MET  MY!  Nie net in tye van nood is my Hemelvader met my nie, maar te alle tye!  Ja, terwyl ek besig is met aktiwiteite van die dag – met werk, inkopies doen, besoek aan my vriende of my daaglikse pligte – Hy is altyd met my!  Wat ‘n hemelse verskil maak dit net nie!

ALTYD  MET  MY!  Hóé dankbaar is ek net nie dat God altyd met my is nie, dat ek nóóit óóit alleen is nie, nóóit sonder ondersteuning en onderskraging is nie, nóóit sonder hulp en bemoediging is nie!

ALTYD  MET  MY!  Vandag, môre en elke dag is dit ek en U, o Heer!  Hóé heerlik is hierdie wete nie!

Gebed:  My Hemelvader is áltyd met my!

~ Uit Daelikse Woord ~

Sunday 10 March 2013





LEWENDE  WATER 

Die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en hom die ewige lewe gee.  -  Joh. 4:14

Die fontein van lewende water waarvan Jesus gepraat het, is binne-in my.  Dit borrel in my op en omskep my in ‘n stralende kind van God, ‘n kind van die lig, tot seën van elkeen met wie ek in die loop van die dag te doen mag hê.

Ek is gelukkig en vol lewe, en almal kan dit sien.  Dit is borrelende lewende water wat ek nie net vir myself kan hou nie, maar onvoorwaardelik ook op andere uitstort.  Ek mag woorde van bemoediging spreek teenoor iemand wat in in sak en as sit.  Of ek mag met baie mense te doen kry, vir wie my lewensvreugde, my liefde en vrolike optimisme tot veel seën is.

As ek elke oggend put uit hierdie borrelende fontein van liewe diep in my wese, sal my dag ‘n seën wees, nie net vir my nie maar vir elkeen wat my Heer na my toe stuur om te help, te lei en Hom sodoende te dien en te eer.  Geen dag sal meer doelloos en leeg wees nie, en die fontein sal nooit uitgeput raak nie, want hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek.

Gebed:  Dit wat ek het om te gee, gee ek met liefde.

~ Uit Daelikse Woord ~






Friday 8 March 2013






SËEN  HIERDIE HUIS

Die Here op hierdie plek.  -  Gen  28:16

‘n Seën vir ‘n tuiste is in werklikheid ‘n gebed wat die mense wat al die mense wat daar woon asook dié wat daar kom kuier, omvou.

Ek seën my tuiste omdat dit meer is as net ‘n woonplek is.  Dit is ‘n plek van vrede en harmonie, en wanneer ek mense in my tuiste verwelkom, verwelkom ek ook vir Christus wat in hul woon.

Ek sien my huis as ‘n plek van gasvryheid.  Die aangename atmosfeer wat hier heers, is as gevolg van die aangename mense wat hier kom kuier en ook die aangename mense wat hier woon.

In my gebede dink ek aan alle mense wat op soek is na ‘n huis, of smag na meer harmonie in die huise waar hulle woon.  Mense en families wat moet verwissel van woning en op nuwe plekke weer ‘n tuiste moet skep, het baie gebede nodig. 

Maar in die besonder dink ek aan hergberglosemense wie se diepste begeerte maar net is, om wanneer die onbekende nag aanbreek in veiligheid te kan gaan slaap. Heel of verslete van binne of buite of meubels is vir hulle nie voorwaardes of voorkeure nie.  Daarom bid ek met my hele hart vir elkeen van hulle, dat die Here Jesus vir hulle uitkoms sal bring en ook vir hulle genadig sal wees en hulle sal seën volgens sy wil en dat ons as Christenmense sal uitreik na hulle, al is dit op die eenvoudigste manier.  Die grootste geskenk wat ons vir hulle kan gee, is om vir hulle te bid wanneer ons in die aand gaan slaap.

Gebed:  Seën my huis, Heer, met liefde, vrede, harmonie en gasvryheid.

~ Uit Daelikse Woord ~



Wednesday 6 March 2013





WEES NOU BLY!

Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  PS  118:24

Voel ons soms bekommerd en onseker omdat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie? 

As ons glo dat iets in die toekoms gaan gebeur wat ons gelukkiger, ryker en ons lewe voller gaan maak, begin ons om vir die toekoms te lewe, en vergeet van die huidige.  ‘n Plan of ‘n mikpunt mag vir ons van baie groot waarde wees, maar dit beteken nie dat ons vandag sommer deur ons vingers moet laat glip nie.

Die verlede is verby en die toekoms lê nog voor ons.  Nóú, op hierdie oomblik, leef en beweeg ons in die teenwoordigheid van Christus ín ons en óm ons.  Vandag se nou, bepaal die toekoms van môre.

Laat ons dus reeds nóú besluit om vandag en elke oomblik van hierdie dag af te lewe soos dit kinders van die lig betaam om te leef, en ons kan maar vooruit dankie sê vir Gods seëninge op elke nuwe dag wat ons binnegaan.

Gebed: Dierbare Heer Jesus, ek juig oor vandag en sê dankie vir môre!

~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 4 March 2013


\\



GENADE

Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang ... die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.  -  Joh. 1:16-17

Aan die begin van elke nuwe dag, beklemtoon ek die waarheid dat Gods liefde en lig in my kragtig genoeg is om my te help om énige uitdaging wat my pad mag kruis, te bowe te kom.  Ek is gladnie bang vir wat die dag vir my inhou nie.  In plaas daarvan seën ek hierdie mooi dag met ‘n stille dankgebed in my hart vir die voorreg dat dit alles wat ek nodig het om ‘n vol en ryk lewe te geniet, in oorvloed aan my bied.

Gods lig, liefde en krag is vrylik tot my beskikking – my drie stralende diamante wat ek elke dag saam met my dra – hemelse geskenke deur God in Sy genade aan my toebedeel.  Hierin opgesluit is álles wat ek nodig het om van élke dag ‘n sukses te maak – moed en durf, gesondheid, lewenslus en voorspoed, is maar net ‘n paar van die geseënde  geskenke wat deur my Heer Jeus Christus aan my gegee is.

Vandag sê ek spesiaal dankie vir Gods liefdevolle genadegawes in my lewe.  Met ‘n siel wat sing maak ek dit my eie, en my lewe word al hoe ryker en voller.

Gebed:  U genade Heer, maak my vry!

~ Uit Daelikse Woord ~









BLYDSKAP

Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig ... die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet  hulle verheug voor die Here, want Hy kom.  -  Ps. 96:11-13

Luister ... kan jy dit hoor?  Dit is ‘n lied van blydskap wat weerklink oor die hele aarde heen.  Van die kleinste voëltjie tot by die magtigste waterval, hoor ons hierdie hemelse melodie.

Sal ons saam sing?  Sal ons die loflied in ons siel laat weerklink in ons woorde -  die lied wat aan ‘n ieder en ‘n elk wys hoe bly ons is om te kan leef in hierdie wonderlike wêreld?

Ons sing ‘n lied van dank vir die hemelse gawes waarmee God ons so ryklik seën, en wat ons vrylik kan gebruik om andere om ons ook te seën en op te hef.  Ons is bly en dankbaar oor alles wat ons is, alles wat ons het en alles wat ons moet en kan doen om hierdie wêreld nog mooier, voller en ryker te maak – gereed vir die koms van die Here, want Hy kóm!

Ons sing ‘n vrolike lied tot eer van God – ons sien Sy lig helder skyn in ons en om ons, ons deel Sy liefde in ons harte met elkeen wat ons pad mag kruis – en gaan vrolik en bly voort op ons pad van lig!

Gebed:  Vrolik en bly sing ek op my pad van lig!

~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 3 March 2013





‘N  DANKBARE  HART

Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer. 
Ps.  86:12  (OV)

Wanneer is ons so dankbaar dat ons ons Here en God wil loof met ons hele hart en sy Naam vir ewig eer?   Wanneer Christus sy intrek in ons hart geneem het  - wanneer ons gedagtes helder verlig word in die vlam van sy liefde in ons  -  wanneer elke sel en atoom in ons liggaam helder verlig word in hierdie helder stralende vlam wat deur niks en niemand uitgewis kan word as dit eers eenkeer begin brand nie, en ons omskep word in ligwesens, dit is wanneer daar geen perke aan ons lof en dank is nie!   Dit is wanneer ons met ‘n lied in ons hart rondloop, en God vir ewig eer.

En hoe eer ons Hom?   Ons eer Hom deur die liefde en deernis wat ons toon teenoor ons medemens.  Ons eer Hom deur die lig-idees waarmee ons ook lig bring vir andere om ons.  Ons eer Hom met ons diep geloof in sy werke in ons en om ons, in ons land en in ons wêreld.

Voor die wonder van ons mens-wees in Hom, voor die wonder van soveel lig in ons gedagtes en liefde in ons hart, hoe kan ons óóit genoeg dankie sê?

Gebed:  U Naam Heer, eer ek vir ewig!

~ Uit Daelikse Woord ~






Friday 1 March 2013





~ AAN ALLE VROUE OP VROUEDAG ♥~

Liewe Jesus se briefie vir Sy kinders:
 

"Toe Ek op jou besluit het, was daar soveel vrede, kalmte en liefde in My hart. Ek het geweet hoe jy gaan lyk, hoe jou stem gaan klink en hoe jou glimlag ander mense
 se harte gaan verander sels toe jy nog net ñ gedagte was. Ek het jou begin vorm in jou ma se skoot, jou vinger afdrukke lyntjie vir lyntjie getrek en geweet hierdie patroontjie op jou vingertjie so Ek nooit weer herhaal nie. Jy is nie ñ fout nie. Ek maak net mense na My beeld. Toe die tyd reg was het Ek jou volmaakte lyfie in jou moeder se arms neergelê. Ek het in jou ogies gekyk, gestaar en geweet Ek het ñ besonderse mensie gemaak. Nog nooit het Ek daarna My oë van jou afgehaal nie. Ek het jou gesien opgroei. In die dag bewonder Ek jou en in die aande sit Ek langs jou bed en kyk hoe jy aan die slaap raak. Soms het daar trane oor jou wange gerol oor gebroke verhoudings, verkeerde besluite en soms sommer net omdat jy soos ñ mislukking gevoel het. Daar was dae wat jy seergekry het, dae wat mense jou nie verstaan het nie, dae wat jy moedeloos was. Dae wat jou pyn jou wou vernietig het! Ek het saam jou gehuil My hande gehou en jou kosbare trane opgevang. Ek ken seer. Ek ken pyn. Daar was self ñ tyd wat mense My nie verstaan het nie. My verneder het. My verwerp het en aan ñ kruis vasgespyker het, daarom weet Ek hoe jy voel. Daar was dae wat jy deurmekaar gevoel het en gewonder het, wat, waar en hoekom. Ek wil net vandag vir jou sê, nie een van die foute wat jy gemaak het, het My onkant gevang nie. Ek was nie verbaas nie. Ek weet alles. Ek sien alles. Ek kyk nie na jou met oë wat oordeel nie. Ek kyk na jou met oë van liefde en Ek luister na jou met My hart, omdat Ek ñ God is wat uit liefde bestaan. Soms het die mense al die verkeerde prentjie van My vir jou geskilder. Ek wil jou nie straf nie. Ek ken jou beter as enige iemand anders. Ek is lief vir jou!!!"