Monday 4 March 2013





BLYDSKAP

Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig ... die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet  hulle verheug voor die Here, want Hy kom.  -  Ps. 96:11-13

Luister ... kan jy dit hoor?  Dit is ‘n lied van blydskap wat weerklink oor die hele aarde heen.  Van die kleinste voëltjie tot by die magtigste waterval, hoor ons hierdie hemelse melodie.

Sal ons saam sing?  Sal ons die loflied in ons siel laat weerklink in ons woorde -  die lied wat aan ‘n ieder en ‘n elk wys hoe bly ons is om te kan leef in hierdie wonderlike wêreld?

Ons sing ‘n lied van dank vir die hemelse gawes waarmee God ons so ryklik seën, en wat ons vrylik kan gebruik om andere om ons ook te seën en op te hef.  Ons is bly en dankbaar oor alles wat ons is, alles wat ons het en alles wat ons moet en kan doen om hierdie wêreld nog mooier, voller en ryker te maak – gereed vir die koms van die Here, want Hy kóm!

Ons sing ‘n vrolike lied tot eer van God – ons sien Sy lig helder skyn in ons en om ons, ons deel Sy liefde in ons harte met elkeen wat ons pad mag kruis – en gaan vrolik en bly voort op ons pad van lig!

Gebed:  Vrolik en bly sing ek op my pad van lig!

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: