Tuesday 28 February 2012





STIL-TEVREDE


Die Here jou God is by jou … Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou – Sef. 3:17


Hoe heerlik om te weet – die Here is by ons. Elke oomblik van elke dag is Hy net hier aan ons sy – Hy deel in ons vreugdes, Hy troos ons in ons smart, Hy wandel saam met ons en handel saam met ons, en omdat ons Hom ken op al ons weë, is Hy stil-tevrede in Sy liefde vir ons.

En as Hy sien ons is gewillig om voortdurend lief te hê en te bid vir  wie ookal dit nodig het, jubel en juig Hy oor ons , want dan weet Hy, Sy koms na hierdie aarde was nie verniet nie.

Heer van my hart, vir geen oomblik gaan ek vandag vergeet dat U net hier by my is nie, en ek gaan saam met al my Ligvriende hierdie maand spesiaal wy aan gebed. En Heer, lê U die woorde in my mond, lig-bring woorde wat insig bring en gebroke harte saggies aanraak, en laat U krag die krag bring aan elke werker in die Lig, oor heel die wêreld heen. Mag ek U altyd stil-tevrede maak in U liefde, Heer, tot hierdie stil-tevrede ook in my hart ‘n weerklank vind.


Gebed:  Die Here my God is by my!


~ Uit Daelikse Woord ~








WENNER


God was met hom, en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk.  – Hand. 7:9-10  (OV)


Voordat ek nie baie goed verstaan wat dit beteken om ‘n wenner in die lewe te wees nie, mag ek nooit voel dat ek ‘n wenner is nie.

Ek is altyd ‘n wenner as ek die krag van Christus in my gebruik om te seëvier oor alle negatiewe gedagtes, gewoontes en handelinge.  ‘n Ware wenner is nie iemand wat daaraan dink om met ander mense te kompeteer nie, dus gaan ek my ook nie daarop toelê om beter as andere te wees nie.

Ek mag nie die top-presteerder in ‘n toets wees nie, maar ek is ‘n wenner as ek nie die geringste twyfel in my vermoë om die toets te ondergaan, toelaat om my daarvan te weerhou om my daarvoor voor te berei nie.  Ek is altyd ‘n wenner as ek van my kant af my bes doen.

Met my hand in dié van my Heer, sien ek en wandel ek in die lig, en ek is en bly ‘n wenner in die arena van die lewe.  Niks en niemand kan my hoegenaamd laat twyfel aan die waarheid van hierdie stelling nie.  Niks en niemand kan my minder as ‘n wenner maak nie!


Gebed:  Ek is ‘n wenner!


~ Uit Daelikse Woord ~







Saturday 25 February 2012





WAARDERING


Kyk daar, kyk na die lande;  hulle is ryp vir die oes.  – Joh. 4:35


‘n Toegewyde Ligvriend begin elke oggend met die woorde:  “Goeiemôre Hemelvader!  Reken my vandag asseblief  in by alles wat goed en mooi is!”

Om op so ‘n positiewe noot die dag te begin, is ‘n wonderlike manier om ons voor te berei vir die seëninge wat die dag mag bring.  Dit is ‘n houding wat ons meer oplettend maak teenoor alles wat gebeur.  Ons verwag die goeie, en sien tot ons verbasing raak dat dit orals om ons is.  Die voëltjies sing, mense glimlag en alles om ons getuig van ‘n mooie, blye dag.

So ‘n houding is ook so aansteeklik, en ons positiewe, entoesiastiese gesindheid beïnvloed almal met wie ons te doen kry, totdat hulle ook lag en net die mooie en goeie begin sien en waardeer.

Dit sal ook al hoe beter met ons begin gaan, want as ‘n mens die goeie verwag, maak jy jou gereed om dit te ontvang, en dit kom dan ook op jou weg.  Dis ‘n houding wat almal en alles waarmee ons te doen kry, aanraak en seën, en die lied in ons hart vind ‘n refrein in die hart van ons medemens.


Gebed:  Ek kyk, ek waardeer, en ek sê dankie dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 17 February 2012





GLIMLAG


Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie.  – Job 29:24


‘n Glimlag is ‘n geskenk van liefde, of dit nou vir ‘n vreemdeling, ‘n vriend of ‘n geliefde is.  Dit dra boodskappe van liefde, van aanmoediging en vriendelikheid oor.  ‘n Glimlag is ‘n stil geskenk van begrip, deernis en goedgesindheid.

Ons glimlag is ‘n welkom geskenk wat ons gee wanneer ons miskien in ‘n lang tou moet staan en wag, bestuur of wanneer ons luister en met andere praat.  Al weet ons dit nie altyd nie, ons glimlag kan spanning breek, laste verlig en is boodskappers van Gods liefde in ons harte.

Ons glimlag is soos ‘n omhelsing wat andere toevou in liefde en tere sorg.  Daar gaan nie ‘n dag om sonder talle geleenthede om andere te seën met ons glimlag nie.  Vryelik deel ons dit uit aan vriend en vreemdeling, en die seëninge wat ons so ontketen vir hulle en vir ons, ken geen perke nie.

Ons glimlag is ‘n geskenk van liefde.


Gebed:  My glimlag is ‘n geskenk van liefde. Help my om dit vandag goed te gebruik Heer.


~ Daelikse Woord ~




Thursday 16 February 2012





HELING


Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees.   Jer  30:17


My inwonende Christus, die Prins van liefde wat in my hart woon, is altyd daar om my te vul met nuwe lewenskrag en energie en ek het niks anders nodig, as ek Hom ken op al my weë nie!

Ek sluit my oë en konsentreer op hierdie hemelse teenwoordigheid binne-in my.  Ek sien hoe Sy lig my ganse wese deurstraal – hoe elke sel en orgaan helder verlig word, en alles wat nie van die lig is nie, uitgewis word. Na siel en liggaam word ek hernu.

Hierdie helingsproses is ook nie beperk tot die paar oomblikke wat ek daaraan aandag gee nie – dit is altyd daar. Wanneer ek my gedagtes stil maak en daarop konsentreer, kom ek in harmonie met die wonderwerkende krag daarvan.

Die lig van die Vader verhelder my denke en omskep my gedagtes in lig-gedagtes.

Die liefde van die Seun vul my hart en skep harmonie in die werkinge van my liggaam.

Die krag van die Heilige Gees vul my met nuwe lewenskrag en energie, en ek is ‘n stralende, gesonde kind van die lig!


Gebed:  Ek is ‘n stralende, gesonde kind van die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 15 February 2012





WAARDIG


As ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.
1 Joh. 3:20  OV


Wanneer ons voel ander mense is soveel beter as ons, is ons besig om na onsself te kyk met die oë van die mens wat ons is.  Maar ons is baie meer as dit!  Ons is geestelike wesens op ‘n pad van lig, en aan ons skeppende vermoëns is daar geen perke nie, aan ons liefde vir andere is daar geen perke nie, en aan dit wat ons kan wees en kan gee uit die oorvloed in ons hart, is daar geen perke nie!

Ons mag miskien nie waardig voel nie, maar Christus in ons is lofwaardig.

Ons mag ongeliefd voel, maar aan die liefde van Christus in ons, is daar geen perke nie.

Ons mag voel dat ons oor geen talente of vermoëns beskik nie, maar Christus in ons, is uiters begaafd en in staat tot groter dinge.

Ons sal nie langer hierdie skepping van God, wat ons is, verkleineer en minag nie.  Ons sal onsself sien as ‘n geestelike wese op ‘n pad van lig, en in alles wat ons dink, doen en sê, sal ons hierdie waarheid duidelik sigbaar maak.


Gebed:  Ek is ‘n waardige kind van God!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 14 February 2012





LIEFDE



Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hievan is die liefde!  
1 Kor. 13:8


Liefde bly – hoe groot is hierdie waarheid nie, maar dit het ‘n kanaal nodig om deur te werk.  Ek maak dus my hart en gemoed oop vir die liefde van Christus om vrylik in my, deur my en om my te vloei en te werk.  Wanneer ek dit doen, word nie net ék daardeur geseën nie.  My medemens, my land en my wêreld en alles daarop, word ook daardeur geseënd.

Vandag leef ek die liefde van die Heer van my hart ten volle uit.  Dis die soort liefde wat onvoorwaardelik vergewe, wat alle struikelblokke oorkom en harmonie en vrede skep so ver ek gaan.

Dit is die soort liefde wat deur my gedagtes, my dade en my woorde werk om dié wat moedeloos is, op te hef en met nuwe moed te vul, om dié wat gebroke van hart is, te vertroos.

Dis die soort liefde wat oor die klein menslike struwelinge, twis en tweedrag heen kyk, en die lig sien deurbreek in selfs die donkerste nag.  Dis die soort liefde wat beskerm en vrede bring.


Gebed:  Dankie Heer, vir U grootse liefde ook vir my.


~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 12 February 2012





VOL VERTROUE


Die Here sal jou beskerm.  – Spr. 3:26


Wie en wat is ek werklik?  Ek is ‘n geseënde kind van ‘n hemelse Vader.  Hy het my lief, sien na my om en sorg dat dit altyd goed gaan met my.

As Sy kind is ek nooit alleen nie.  Sy Heilige Gees woon in my, en is slegs een gebed ver.  Dit is dus nie vir my nodig om enige uitdaging alleen te oorkom nie – Hy weet van alles wat met my gebeur, en staan vas aan my sy.

Waar en wanneer ek voor een of ander vorm van weerstand of ‘n uitdaging te staan kom, bly ek vol vertroue en gebruik ek sonder om twee keer te dink die volgende bevestiging:  “Ek vertrou volkome op Hom wat in my woon, en in die werke wat Hy in en deur my doen.

Ek beskik oor die wysheid om die regte besluite te neem, en die nodige moed om my besluite deur te voer.  My positiewe gedagtes, my gebede en dade, hou my voete stewig op my pad van lig – ‘n pad waarop ek blymoedig voortgaan, my hoogste heil tegemoet.

Die Here beskerm my, lei my en rig my op al my weë.  Dit weet ek, glo ek en ek maak daarop staat.


Gebed:  Ek vertrou volkome op Hom wat in my woon.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 8 February 2012




BLYDSKAP

Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel. 
Ps. 126:2  OV

Vir al die skoonheid en wonder van ons wêreld, vir elke mooi nuwe dag, is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel!  So groot is ons vreugde dat dit elkeen wat ons pad mag kruis ophef.

Ons soek die goeie in alle situasies.  Dit mag soms vir ons onmoontlik wees om onmiddellik die blink kant te sien, maar ons weet dat dit een of ander  tyd sigbaar sal word.  Ons raak ontslae van alle spanning en vrese – ons ontspan in die wonder van Gods liefde en lig ook vir ons.

Soms mag ons moedeloos raak – die wolk bly donker en die lig wil net nie deurbreek nie.  Ons gedagtes is in so ‘n harwar dat dit selfs vir ons moeilik is om te ontspan.  Daar is egter nog een wonderlike gawe waaroor ons beskik.  Dit is ons vermoë om mooi herinneringe op te roep.  As ons begin dink aan die aangename ervarings in ons lewe of iets moois en bedagsaam wat iemand een of ander tyd vir ons gesê het, sal ons siel weer begin sing van blydskap, en weldra sal al die wolke verdwyn!

Gebed:  My siel sing binnekant my!

~ Uit Daelikse Woord ~  

Tuesday 7 February 2012





VERWAGTING


Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.  – Ef. 6:18


Diep in gebed, in my binneste heiligdom, lê ek alles wat my kwel, elke kommer en sorg, in die hande van my eie inwonende Christus.  Op rakkies van lig plaas Hy my gebedsversoeke, en een vir een word elke las omskep in ‘n pakkie van lig – lig wat die las omskep in ‘n seën.

Dit glo ek, dit verwag ek, en ek maak my gereed vir wonderwerke om te geskied, in my en om my, en ook vir alles en almal vir wie ek bid.  Want waar daar lig is, daar is God  en waar God is, daar is lig, liefde en krag, in oormaat.

Ek vergeet ook nie om elke versoek wat ek aan Hom rig af te sluit met die woorde – “Dit Here, is wat ek graag wil hê.  Maar as U iets beter vir my in gedagte het, dan sê ek nou byvoorbaat dankie daarvoor.”  Wie weet beter as reeds Hy, wat vir my en my geliefdes se sieleheil die beste is.  Daarom laat ek alles in Sy bekwame hande.

Ek handel in die lig, ek wandel in die lig, en my pad van lig lê duidelik en helder voor my uit.


Gebed:  Vol verwagting volg ek Gods lig en leiding.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 6 February 2012





BID VIR ANDERE


Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig. Joh 7:24


Ek mag so bekommerd wees oor die welstand en gesondheid van my geliefdes, dat ek skoon vergeet om hulle te seën met my positiewe gedagtes en gebede. Die omstandighede waarin hulle verkeer of hul ongesteldhede mag my gedagtes so in beslag neem, dat ek met kommer bid in plaas van met geloof.

Vandag besluit ek om, wanneer ek vir my geliefdes bid, te onthou om positiewe, opbouende, kragtige gebede vir hulle te bid. Ek sien hulle as wys, sterk en voorspoedig in die lig en liefde van God.

As daar onenigheid ontstaan het  tussen my en een van my geliefdes, of tussen hulle onderskeidelik, seën ek elkeen in die saak betrokke met my positiewe gedagtes en gebede. Ek oordeel nie op die oog af nie, ek oordeel regverdig. Ek dink, bid en doen dit wat tot die hoogste heil van elkeen van my geliefdes en ook vir my is.


Gebed: Geliefde, die lig van God skyn op jou, die liefde van God waak oor  jou!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 3 February 2012





EK STAAN WEER OP


Al het ek geval, ek staan weer op.  Al sit ek in die duisternis, die Here is ‘n lig vir my.  Miga 7:8


Daar is niks in die wêreld wat die mag het om ons neerslagtig en mismoedig te hou nie. Geen mens beskik oor die mag om ons onder te hou nie.

Ons kan vir ons gedagtes en ons gevoelens sê:  “Ek staan weer op”.

Ons kan opstaan omdat ons Gods eie Christusgees binne-in ons het.

Ons kan opstaan omdat Gods lied van lewe binne-in ons is.

Ons kan opstaan.

Ons gees styg bokant die wolke uit. Ons sweef op die vlerke van gebed en ons hart sing ‘n blye lied.


Gebed:  Ek staan weer op!


~ Uit Daelikse Woord ~