Monday 29 September 2014

VOLG MY





Dit (is) nie jou saak nie.  Volg jy My!  -  Joh. 21:22


“Hoekom maak hy ...?”   “Sy behoort ...”   “As ek in sy skoene was ... “   Ons is almal by tye só geneig om beterweterig te wees en ander se doen en late kritiseer.  As ons ons volgende keer betrap dat ons dit doen, laat ons dan Jesus se woorde onthou:  “Dit (is) nie jou saak nie.  Volg jy My.”  Wat ‘n ander mens doen of nie doen nie, die soort lewe wat hy voer en die besluite wat hy neem, is waarlik nie ons besigheid nie.

Ons kan natuurlik ander help deur hulle te seën en vir hulle te bid, maar op die persoonlike vlak moet ons hulle laat gaan en toelaat om hulle eie lewens te leef volgens die leiding wat hulle ontvang.

“Volg jy My!”  Dit is die belangrike ding wat ons moet onthou.  Ons moet ons aandag op Christus vestig en ons nie skuldig maak aan kritiek en veroordeling nie.  Ons moet die voorbeeld van die Christus-liefde volg wat verby die voorkoms van dinge kyk en die beste in ander sien, die beste van ander verwag en die Christus in ander sien.


Gebed:  Ek volg Christus!

                                               
~ Uit Daelikse Woord ~








Saturday 27 September 2014

BLYDSKAP





Die blydskap in die Here - dit is julle beskutting. - Neh. 8:11


My blydskap in die Here ken geen perke nie.  Dit vul my hart tot oorlopens toe.  My siel sing in my, en vrolik en bly, vol entoesiasme, gaan ek voort op my pad van lig.

Elke dag is 'n avontuur waarin ek al hoe meer van die wondere van Gods wêreld om my  ontdek. Geen uitdaging kry my onder nie, want ek weet ek beskik oor die vermoë om bo enigiets wat dreig om my aan bande te lê, uit te styg. Ek struikel nie en ek huiwer nie, want my blydskap in die Here is my krag.

Die blydskap in die Here waarvan my hart so vol is, die blydskap wat my siel laat sing, maak my sterk en vol moed. Dit werk en straal in my en om my, en almal met wie ek my lewe deel, word daardeur geraak en opgehef.

My blydskap in die Here is 'n liefdevolle stut onder my wat my in staat stel om my doelwitte met sukses na te streef. Met moed en durf doen ek dit wat vir my die heel beste is onder die omstandighede waaronder ek my tans bevind.


Gebed: My blydskap in die Here is my krag.



~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 15 September 2014

GODS GENADE





Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade.  -  Hand. 20:32


Liefdevolle Vader, ek dank U vir U genade wat my stok en my staf is, elke oomblik van elke dag.  Selfs nog voor ek vra, voorsien U alreeds in elke behoefte in my lewe.

Dankie vir die seëninge wat u so oorvloediglik op my uitstort, nie oor dit wat ek gedoen het of nie gedoen het nie, maar omdat U my liefhet en na my omsien, net soos ek is.  U maak my so sterk, dat niks en niemand my kan breek nie.

U genade is ‘n fondament van liefde waarop ek staan.  Dis so sterk onder my, dat ek nie bang word wanneer onbillike eise aan my gestel word of vreesaanjaende voorspellings gemaak word aangaande ons land of die wêreld nie.  Sag en teer vou U my toe in U liefde en genade.

Dankie Heer, vir U troue sorg en genade, vir my, vir my geliefdes – vir alles en almal in my lewe, ons land en ons wêreld.  Baie, baie dankie, dierbaarste Heer!


Gebed:  Dankie Heer vir U grenslose genade.



~ Uit Daelikse Woord ~



Thursday 11 September 2014

VERGEWE






By U is daar vergifnis.  -  Psalm 130:4


Hoe wonderlik die wete – by God is daar vergifnis, want by Hom is daar liefde.  En waar daar liefde is, kan geen wrok bly staan nie, geen teleurstelling kan ‘n houvas in ons gedagtes kry nie, geen herinnering uit die verlede kan ons meer ongelukkig maak nie, want die liefde van God wat heers in ons hart, is groter as al hierdie dinge.

Soos ‘n swaar las wat ons aflê, so is die vryheid wat ons ervaar wanneer ons andere, en ook onsself vergewe.  Ons daad van vergifnis maak ons nie net los van die verlede nie.  Dit lei ons ook een tree verder op ons pad van lig, ‘n nuwe toekoms met nuwe geleenthede tegemoet, vry van laste wat ons met ons saamgedra het – miskien vir dae, vir weke, maande of selfs jare.

Om nie te vergewe nie is om met ‘n ketting om ons enkels aan te struikel van dag tot dag – om te vergewe is om al die kettings te breek.  En as ons vergifnis gekleur is met die liefde van ons Heer, gaan ons fier en regop, vry en bly, ‘n nuwe toekoms tegemoet.


Gebed:  In U liefde, Heer, vergewe ek.



~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 7 September 2014

GOD SORG VIR ONS





Toe kyk God na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.    
Gen. 1:31


Ons moet nooit bang wees vir die lewe of twyfel aan ons eie waarde nie.  Jesus het gesê:  “Kyk na die wilde voëls:  hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie;  julle hemelse Vader sorg vir hulle.  Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”  (Matt. 6:26).

Ons is kinders van die lig – bakens van lig in ons wêreld.  Ons is belangrik, want Sy lewe en lig werk en straal voortdurend in ons, deur ons en om ons, en die Liefde self, naamlik Christus, woon in ons harte.

Omdat ons Sy kinders is, glimlag ons, is ons woorde strelend van aard en luister ons aandagtig na andere.  Ons gee omdat dit vir ons aangeneem is om te gee.  Ons samesyn met ons vriende, mede-werkers en familie is vriendelik en openhartig.

Die besef van ons eie waarde kom nie omdat ons trots is op onsself en dit wat ons al bereik het nie.  Dit kom omdat ons ons daarop toelê om ware kinders van die lig te wees en Sy lig steeds in en deur ons te laat skyn tot heil van ons medemens.


Gebed:  Ek weerspieël Gods lig in my lewe.



~ Uit Daelikse Woord ~



Friday 5 September 2014

TROOS





As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.  -  1 Joh. 4:12


Onder alle omstandighede, te alle tye, word ek omvou en vertroos deur die deernisvolle liefde van die Heer van my hart.  Sy liefde vir my is onwankelbaar en onverganklik en niks kan my daarvan skei nie.

As ek seer en eensaam voel, laat Sy liefde my opnuut besef dat ek iets beteken in die lewe, en dat ek nooit eensaam en verlate is nie, want Hy is altyd by my.

As ek bang en onseker voel , gee Sy liefde my nuwe krag en die moed om ‘n sukses van my lewe te maak – ‘n ware wenner in die lewe. 

As dit wil voorkom asof daar ‘n gebrek aan gesondheid, voorspoed, vreugde of vrede in my lewe is, verseker Sy liefde my dat die seëninge waarna ek verlang alreeds op pad is na my toe.  In Sy liefde en goedheid is ek geseënd.  Ek is baie waardevol vir God.  Ek is een van Sy geliefde kinders, deelagtig aan die seën van Sy ewige liefde.


Gebed:  Die liefde van God vul my hart tot oorlopens toe.


~ Uit Daelikse Woord ~