Sunday 9 March 2014





KONINKRYK VAN GOD


Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.  En hulle sal nie sê:  Kyk hier!  Of:  Kyk daar!  Nie;  want die koninkryk van God is binne-in julle.  -  Lukas 17:20,  21  (OV)


God is ons álmal se liefdevolle Hemelvader en hy het ons álmal éwe lief – of ons reeds lánk gelede ons hart aan hom toevertrou het en of ons vándag eers ons hart aan hom gegee het – hy het nie sómmige van sy kinders méér lief as ander nie.  Jý bly in Hom en Hý bly in jou.

God is net ‘n flúístering en gebed ver.   Wend jou nóú tot Hom in die gebed wétende dat Hy ántwoord op jou roep.  Hy luister na élkeen van ons se gebede.  Daar is géén twyfel, géén kommer, géén vrees in Sý koninkryk nie.

Luister net hóé verwelkom Hy jou in Sy koninkryk van liefde, aanvaarding en harmonie:  “Kom na My toe en lê al jou laste af.   Ek is die harmonie en die vrede wat jy soek.   Alles wat Ek het, is joune.   Ek het jou nie vergeet nie en Ek sal jou nooit verlaat nie.  Ek is altyd met jou – nou en tot in ewigheid.   Jy is My geliefde kind in wie Ek welbehae het.   Ek sien die goeie in jou.  Ek sie die volmaaktheid waarmee jy geskape is.   Glo in My;  Ek glo in jou.”

Ek gló, ek fluister, ek bid, en die déúr tot Gods koninkryk gaan voor my oop.  Dánkie Hemelse Vader!


Gebed:  Ek gló, en gaan Ú koninkryk binne.


~ Uit Daelikse Woord ~




LYDSAAMHEID


Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige. – Sag. 4:6


JESUS  het die krag van lydsaamheid volmaak uitgebeeld.  Hy het Hom nie verset teen die uitdaging van die lewe of die dood nie, en tog alles oorkom.   Altyd liefdevol, altyd vergewend, was Hy.

Hoe het Hy dit reggekry?  Deur Hom met volle vertroue te wend tot God, die een krag en die een Teenwoordigheid in Sy lewe.  Hy het ook baie goed geweet dat die uitdagings voor Hom, die omstandighede of die mense nie so belangrik was as die vermoë om Hom teen niks en niemand te verset nie.

As ons met ons hele hart en siel Sy voorbeeld volg, sal ons ook leer om alles wat ons aangaan in Gods bekwame hande te plaas – om te glo en te weet dat wat ookal mag gebeur, dit slegs tot ons hoogste heil sal wees, want God die Here die Almagtige, is aan die werk in ons, deur ons en om ons.

In Hom en in Sy krag, het ons die krag wat struikelblokke oorkom, die krag wat ons vry maak.  As ons die Christus-standaard van lydsaamheid ons eie maak, en op elke gebied in ons lewe toepas, is ons geestelike groei seker en gewis.


Gebed:  Soos Christus verset ek my nie.


~ Uit Daelikse Woord ~





LAAT  LOS  LAAT  GOD


Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.   Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is.  -  Rom 12:2


Ek raak van álle kommer en vrese ontslae, en vestig my aandag op my eie inwonende Heer, wat élke tree van die weg wat ek moet gaan, by my is.

Hy lei my van sukses tot sukses, op weë wat lei tot my hoogste heil.   In Sý krag is ek in staat om my rug te draai op énigiets wat nie na wense is nie.

Hy suiwer my brein en omskep my gedagtes in liggedagtes.  Intuïtief volg ek Sy leiding.   Hy ínspireer my en in Sý lig skiet nuwe idees my denke binne.

Vás vertrouend op die Heer van my hart, gaan ek voort na ‘n méér bevredigend werk, ‘n béter verhouding, súkses met my studies en eksamen, en dieper, béter menseverhoudings.  Met my oë gevestig op Hóm, volg net goedheid en guns my, ál die dae van my lewe.

My lewe is vól en ryk, as ek die dinge wat níé tot my heil is nie laat gaan, sodat Gods vólmaakte plan vir my kan ontvou.


Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem!


~ Uit Daelikse Woord ~








VREESLOOS


Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.  -  2 Tim. 1:7


Soms mag dit gebeur dat ek my op ‘n vreemde plek bevind en onrustig begin voel.  Dit is gedurende sulke tye wanneer ek die psalmdigter se woorde onthou en dit my eie maak:  “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?  Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”  (Ps. 27:1).

Ek bly kalm want ek weet my Heer is áltyd by my, en ontspan in hierdie hémelse teenwoordigheid.   Ek laat nie my emosies toe om met my op loop te gaan nie, en doen wat ek moet doen sonder énige gedagtes van vrees of angs.

Vréésloos breek die plantjies deur die klipharde aardkors – vréésloos groei en gedy hulle, in harmonie met die bloudruk in hul kiemsel vasgelê, elkeen om te gee dit wat hulle hét om te gee.

Vreesloos groei ek óók geestelik, ín harmonie met Gods plan vir my – ín harmonie met Sy wil wat áltyd vir my beswil is.   Ek is nié lafhartig nie, maar met krág, líéfde en sélfbeheersing groei ek tot Sý volwaardige seun of dogter, sodat ek óók mý deel kan lewer in Sý grootse plan vir hierdie aarde.


Gebed:  Die Here is my líg en my Rédder.


~ Uit Daelikse Woord ~


>






HANDE


Bevestig die werk van ons hande oor ons.  -  Ps. 90:17 (OV)


Here, seën my hande.  My hande is daar om die hande wat vasgehou moet word, vas te hou, om die een wat gestreel moet word, te streel.   My hande kan teer wees en hulle kan sterk wees.  Hulle kan die swakke ondersteun en hulle kan kalmte en vrede bring.  My hande kan uitreik na hulle wat eensaam is sodat hulle kan voel dat hulle ‘n vriend het.

Here, seën my hande.  My oop hande kan deel, kan gee, kan seën.  Wanneer my hart vir my vertel van ‘n behoefte, kan my hande my hart help om daardie behoefte te vul.  My hande kan ondersteun, my hande kan die standvastigheid gee wat nodig is.

Here, seën my hande.  My hande is daar om te doen wat hulle ookal moet doen.  My hande kan vernuwe en herstel dit wat vernuwe en herstel moet word.

Here, seën my hande en gebruik hulle as instrumente in U liefdevolle diens.


Gebed:  Here, seën my hande.


~ Uit Daelikse Woord ~




LUISTER


Ja, my siel is stil tot God. – Ps. 62:2 (OV)


Wees stil en luister, jou Heer openbaar aan jou die manier waarop daar in al jou behoeftes voorsien kan word.  Hy wys vir jou die weg om elke probleem die hoof te kan bied.

Luister!  Jou Heer praat diep in jou siel met jou – luister mooi, Hy praat nóú met jou, in die stilte van hiérdie oomblik.

Luister!  Jou Heer praat só sag dat jy Hom nie sal hoor nie, tensý jy jou vólle aandag aan Hom gee.

Luister!  Jou Heer laat Sý idees in jou gedagtes posvat, en maak die volgende stap aan jou duidelik.  Let op Sy leiding en vólg Hom.

Luister!  Jou Heer spoor jou aan.  Wees gereed om in Sý krag te handel, want dit is ook jóú krag.

Luister!  Jou Heer is áltyd daar vir jou, áltyd gereed om jou te rig en te lei op al jou weë.  Luister jy?   Hoor jy Sy stem wat díép in jou hart vir jou sê: “Jy is My geliefde kind in wie Ek ‘n welbehae het.   Wandel in My lig, handel in My liefde en stap voort in My krag.  Ek is altyd hier.”


Gebed:  Ek luister, Heer, en ek wandel in U lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




GEBED  VIR  JOU  GELIEFDES


Die Here sal jou se seën en jou behoed.  -  Num. 6:24 (OV)


Vir jou dierbare wat gedurig in jou gedagtes is, omdat hy of sy nie gesond is nie, se gemoedstemming laag is, deur hartseer gaan of hulp van watter aard ookal nodig het, die volgende:

Ek vou jou toe in mý liefde.

Ek sien jou sterk want Gód is jou krag.

Ek sien jou heel en gesond want God is die léwe in jou liggaam.

Ek sien jou vréésloos want God vervul jou met moed en geloof.

Ek sien jou kálm, bedáárd en stándvastig, vrý van twyfel en vrese, want die lig van Sý gees brand helder in jou.

Ek sien jou ‘n wénner, want jy *ís* ‘n geestelik wese, ‘n kínd van God.

Ek sien jou soos Gód jou sien.

Ek wéét dat die hélende krag van God kragtig aan die werk is in jou.

Élke keer as ek aan jou dink, dánk ek God vir Sy volmáákte werk wat ín jou, vír jou en déúr jou gedoen word.


Gebed:  Die Here sal jou seën en jou behoed!


~ Uit Daelikse Woord ~









DIE  DAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het.  -  Ps  118:24


Watter soort dag sal dit vandag wees?   Dit is vir my om te bepaal en dit kan wees:

‘n Gelukkige een want dit is die dag wat die Here vir my gemaak het.

‘n Produktiewe een, ‘n dag waarop ek met God saamwerk en baie bereik.

‘n Dag waarop ek na binne reik en tyd maak om stil te wees sodat ek bewus kan word en my eenheid met God, my bron, kan aanvoel.

‘n Dag waarop ek na buitentoe reik na almal om my in ‘n gees van liefde, eenheid en begrip.

‘n Dag van weet dat God in bevel is, dat Sy liefde my omring en omvou, dat Sy lig en wysheid my die pad wys.

‘n Dag van geloof, van lof en dank.

‘n Dag van krag, gesondheid en voorspoed, ‘n dag om goedheid van alle kante te ontvang.

Watter soort dag sal vandag wees?   Dierbare Hemelse Vader, ek dank U dat vandag ‘n dag is om vreugdevol, vry, gelukkig en liefdevol te lewe;  ‘n dag om te deel en om te onthou!


Gebed:  Dit is die dag wat die Here gemaak het.


~ Uit Daelikse Woord ~








My nooi is in ‘n nartjie,

my ouma in kaneel,


daar’s iemand …. iemand in anys,


daar’s ‘n vrou in elke geur!


As ek ’n stukkie nartjieskil

tussen my vingers buig of knak,


breek uit die klein sproeireën


wat geurend om my hand uitsak,


die boorde weer van Swartfoloos


en met die nartjies om my heen


weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.


My nooi is in ‘n nartjie,

my ouma in kaneel,


daar’s iemand …… iemand in anys,


daar’s ‘n vrou in elke geur!




~ DJ Opperman ~ 

Saturday 8 March 2014





Ons is ‘n aangename geur vir Christus .............. 


2  Kor  4:14,15


2 Korinthiërs 2:14,15 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van Sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God...”

Die Lewende Bybel: “...Hy gebruik ons om ander mense van Christus te vertel. En dit is soos ‘n aangename reuk wat orals versprei. ‘n Mens kan sê die geur van Christus kleef aan ons en God word daardeur geëer...”

Beskrywe dié Skrifgedeelte jou en my? Die Boodskap sê: “Ons is soos ‘n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God” (Vers 15)

Wanneer jy enige aangename parfuum op jou liggaam gebruik het, hoef jy niemand te vertel dat jy dit gedoen het nie. Almal wat met jou in aanraking kom, sal dit ruik. Net só gaan dit met ons wat met Jesus kontak gemaak het en in verhouding met Hom leef – almal met wie jy kontak maak sal agter kom jy is anders. Hierdie “geur van Christus” wat in ons is, sal na vore kom in die woorde wat jy praat; in jou gesindheid en in wat jy doen. Dit geld waar jy studeer, waar jy werk, waar jy inkopies doen en ook waar jy jou sport bedryf. 

Let daarop dat Paulus hier praat van “die reuk van Sy kennis.” Dit kom hierop neer dat hierdie reuk waarna verwys word kom deur kennis (waarheid) wat ons van Jesus gekry het. Hierdie kennis kry jy alleenlik as jy tyd neem in Sy Woord en in jou verhouding met Hom deur gebed.

God se waarhede is vir die gelowige iets aangenaam en word genoem “’n reuk tot die lewe” maar vir hulle wat nie wil glo nie word dit “’n reuk tot die dood”


Besluit om vandag ‘n aangename geur van Christus te wees.
Laat dit uitkom in jou woorde en dade asook in jou gesindheid.
Sorg dat jy genoeg tyd spandeer in die Woord en in gebed.



~ Equip Ministry ~





Hoe ongelooflik het God die vrou geskape!
  


Verder het die Here God gesê: “Dit is nie

 goed dat die mens

 alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak

wat hom kan help,

 sy gelyke.” Genesis 2:18



Het jy al ooit daaraan gedink dat jy,

vrou, die hoogtepunt van

 God se skeppingswerk is? Jy is heel

 aan die einde geskape

omdat jy die kroon van die skepping is!


Nadat God alles geskep

 het, was daar steeds iets baie

 belangriks weg. Iets was

 net nie heeltemal rég nie. Die

wese en werklikheid van

die hart van die VROU het nog

 ontbreek!


En deur al die eeue het niks verander nie.

Wanneer die vrou

nie daar is nie, is daar ‘n groot leemte.

 Sonder die diensbare

 hande van die vrou, is die mensdom

 arm aan sorg; sonder

haar begripvolle ore, is woorde

stom; sonder haar

 alles-sien-oë, tas die wêreld soos

 blindes rond en sonder

 haar sagte hart is hierdie wêreld

‘n klipsteenharde plek!


Want vroue laat die aarde draai.

Dis hulle wat meer as

 net leë mae vul, hul liefde maak

 mense se harte vol.


 Hulle maak nie net hul kinders se

lyfies met klere toe nie,

 hulle pantser hulle elke dag

teen die wêreld se kou.


Hul opregte “hoe-gaan-dit?”

laat mense beter voel,

hul ek-is-lief-vir-jou-glimlagte

 laat probleme wegsmelt

 en hul geloof in môre,

 gee aan die mensdom hoop.


Ja, sonder JOU, soek ander die

 heeltyd na ‘n vermiste skakel.

 Wanneer jy nie by die huis is nie,

 is jou gesin se blyplek koud;

as jy nie daar vir jou kinders is nie,

  kan hulle nie oorleef nie;

 as jy afwesig is in die mense rondom

 jou se lewens, is hulle

soekend. En omdat jy Jesus se

 hande en voete is wat hierdie

aarde laat beweeg, is dit ‘n

 lewelose plek sonder jou.


Besef vandag dat jy, dierbare vrou,

 die kroon van die skepping,

 geskape is omdat jy gekies is

 om met jou vrouwees aan

hierdie wêreld lig te gee.


Sonder jou gaan hierdie wêreld

 mank aan die ware wese

van die liefde. Net JY kan met jou vrouwees-

eienskappe die verskil maak

aan die harte van die mense in jou lewe.


Geniet jou vrouwees, dit

wat-niemand-anders-kan-wees-nie,

met (vroulike) oorgawe en passie! 



Tot U diens Skepper-God,

 dankie vir die grootsheid

 van u skeppingswonder!

Dankie veral dat U my, vrou,

 so besonders gemaak het;

dat ek u kroonkind is!

Help my om elke dag te onthou

 Dat U my op ‘n spesiale

manier in die lewens van ander wil gebruik.

Laat my vrouwees U altyd tot eer wees.

Amen





~ Skrywer Onbekend ~