Monday 27 April 2015

Troos





Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.  -  Jes. 66:13 (OV)


Hoe wonderlik!  Ek kan enige tyd bid, en elke keer wanneer ek bid, word ek vertroos met die mooiste woorde:

“My liefste kind, Ek is híér, en wát jy ookal mag deurgaan, Ek is áltyd net hier bý jou.  Vir géén oomblik hoef jy deur ‘n uitdaging alleen te gaan nie.  Ek staan jou bý deur dík en dún, en is die buffer tússen jou en die aanslae teen jou – die seer is dan mínder seer, die uitdaging mínder senutergend.

Ek is híér in jou tye van eensaamheid – jou tye van verdríét wanneer jou hart in dúísende stukkies lê.  In My tere liefde vou Ek jou stýf toe, heel Ek jou stúkkende hart, en bring Ek wéér lig in jou lewe.

Ek is jou krág en jou stérkte, die móéd en dúrf waarmee jy élke nuwe dag binnegaan.  Ek is die líg op jou pad en die líéfde in jou hart.  Ontspán in My liefde, en gebruik dit na hartelus om ook ándere wat ly op te hef en te vertróós.

Ónthóú, jy is My gelíéfde kind, en Ek is áltýd net hier bý jou!!


Gebed:  Dánkie Hemelse Vader, dat  U my nie vir ‘n óómblik alleen laat nie.  Ek doen nou Ú wil en voer Ú opdragte uit!


~ Uit Daelikse Woord  (effe gewysig)~



  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God alleen die eer!

Saturday 25 April 2015

Jesus stuur Sy getuies uit





"Gaan verkondig: 'Die koninkryk van die hemel het naby gekom.'" 
- Matt 10:7

Jesus het eers sy dissipels toegerus deur sy lering. Hy het aan hulle besondere magte gegee. Sy opdrag was nie 'n versoek wat verontagsaam kon word nie, maar 'n bevel wat hulle onder 'n dure verpligting geplaas het. Sy bevel is: "Gaan!" Hulle moet gaan gee wat hulle van Hom ontvang het. In hierdie opdrag is daar geen plek vir selfsug nie: slegs om deur die liefde gedring te word, om te gaan meedeel wat jy so vryelik ontvang het.

Die motivering moes die geloof in hulle hart wees dat God ook ander wil red soos wat Hy hulle gered het. Christus beklee hulle dan met sy gedelegeerde gesag. Dit is die sleutel tot hulle sukses. Solank hulle in sy Naam getuig, kon hulle dit met sy gesag, goedkeuring en seën doen.

Christus waarsku sy gesante en spoor hulle tot volharding aan. Hulle moet weet hulle is soos skape tussen wolwe. Hy maan hulle tot versigtigheid en opregtheid. Wanneer gevare dreig, mag hulle getuienis nie stom word nie. Juis dan moet hulle getuienis helder en onbevrees opklink. Hulle volharding sal beloon word.

In tye van gevaar sal die Heilige Gees hulle bystaan, sodat hulle sal weet wat om te sê. Selfs in vervolging moet hulle nie wanhopig word nie, want Hy is elke dag met hulle. Al word hulle liggaam doodgemaak, kan hulle siel nie doodgemaak word nie. Hulle is kosbaar vir God.

Om getuie vir Christus te wees stel hë eise, maar dit waarborg 'n uitnemende loon: "Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is." - Matt. 10:32

Lei U self u kerk se lede om vrymoedig te getuig. Luister na u volk se bede as ons smekend voor U buig. Al ons woorde is te min - tree U self tog vir ons in. (Gesang 211:2)


Solly Ozrovech  :  ‘n Rusplek langs die pad


Monday 20 April 2015

LAAT LOS, LAAT GOD





Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk.  -  2 Kor. 16:13


“Laat los laat God.”  Maklik om te sê, maar nie áltyd so maklik vir almal om dit met oorgawe toe te pas nie.  Dinge wil maar net nie vinnig genoeg regkom nie, en vóór ons ons kom kry, is die las weer terug op ons skouers!

En tóg, is dit moontlik, daarvan kan talle van ons Ligvriende getuig!  Wat is hulle geheim?  Hoe kry húlle dit reg om hulle geheel en al los te maak van die probleem en ontspanne voort te gaan, séker daarvan dat God daar is én aan die werk is?

Die antwoord is natúúrlik  GELOOF!  As ons álles in Gods bekwame hande laat, moet ons nét glo en áánhou glo dat Hy daar  IS  én aan die werk is!  Ons moet vás staan in ons krag wat ook Sý krag is, en, sóós die voëltjie wat sing as die dagbreek nog donker is, moet ons díép in ons siel begin sing – ‘n lied van lóf en dánk, al is alles nog hóé donker om ons!  Ons danklied verstérk ons geloof, en wéldra sal die lig in ál sy glorie deurbreek – ómdat ons  LAAT  LOS  LAAT  GOD het!


Gebed:  Hoe héérlik!  Ek laat lós en  laat GÓD!


~ Uit Daelikse Woord ~



  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! 

Tuesday 14 April 2015

Ek werk saam met God





Die werk van Sy hande het u geseën.  – Job 1:10 (OV).


’n Mens se werk is ’n seëning, ’n gawe van God.  Met sy arbeid rig die mens geboue op, deursoek hy die bodem van die see, vlieg in die ruimte rond en doen hy allerlei dinge waarvan ’n aantal jare gelede nog nie eens gedroom is nie.

Maar, mens verskyn nie in die kalklig vir elke werk wat jy verrig nie. In elke noemenswaardige taak wat verrig word, lê baie ure van swoeg en sweet. Maar, elke werk, hoe gering of vervelig ook al is belangrik en as ons dit in die regte gesindheid doen, kan dit bevredigend wees.

As jy vandag ’n vervelige ou werkie moet verrig, doen dit asof jy dit vir God doen, en asof Hy saam met jou werk, want inderwaarheid werk Hy saam met jou. Jy is Sy hande; Sy oë; Sy sigbaargeworde lewe.

In stede daarvan om net die saaiheid van die taak raak te sien, sien die moontlikhede daarvan raak. As jy op hierdie manier werk, sal jy vind dat jou werk makliker word; dat dit interessanter word en dat dit jou bevredig. Sulke liefdevolle arbeid vermenigvuldig die seëninge wat beide deur en na jou kom.


Gebed: WAT EK OOK AL DOEN, EK WERK SAAM MET GOD.


~ Uit Daelikse Woord ~



Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!



'n Nuwe Dagbreek





Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal om lig te bring.  -  Luk. 1:78


Vandag ontwaak ek tot ‘n heerlike nuwe dag, want dit is die dag waarin hoop, geloof, moed en vasberadenheid weer in my gebore word.

Christus, opnuut weer gebore in my, gee my die nodige insig en begrip sover dit die uitdagings sowel as die geleenthede wat op my wag aangaan, en ‘n diep vrede heers in my hart.

Soos die lig van die dag wat breek, die duisternis van die nag laat verdwyn, so verhelder Hy ook my denke, en dit wat gister nog soos ‘n berg voor my gelyk  het, word omskep in ‘n klein rantjie waaroor ek kan loop.  In Sy lig wandel ek, altyd besig om te leer en dinge om my te oorkom so ver ek gaan.

Vandag is ‘n nuwe dag, en ek is na gees, siel en liggaam weer opnuut gebore in ‘n nuwe mens.  Hoe groot die geskenk van liefde uit die hart van ons hemelse Vader, wat dit vir ons moontlik maak om in die lig van Sy Heilige Gees in ons te handel, om in Sy liefde te kan gee dit wat ons het en kan gee.  Kom, laat ons met ‘n lied in die hart opnuut hulde bring aan die Kind in die krip van ons hart!


Gebed:  Die Lig van Christus skyn vandag helder in my!


~ Uit Daelikse Woord ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! 


Friday 10 April 2015

God Is Daar!





Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.  -  Hebr. 11:1


Soos die lug wat altyd daar is, deur ons ingeasem word, maar wat ons nie kan sien nie – soos die lewenskrag wat klop in ons hart en vloei in ons are, maar wat ons nie kan sien nie, so is die alomteenwoordigheid van God waarin ons lewe, beweeg en bestaan, en nie kan sien nie!

Hy is daar – Hy is oraloor, in ons en om ons en in sy wêreld.  As ons dit glo, sal die oorvloed waarmee Hy hierdie aarde seën, ook daar wees vir ons.  En as dit voel asof iets wat ons graag sou wou besit of ervaar nie aan ons gegun word nie, moet ons net dink aan die wonder van sy lewe altyd aan die werk tot ons hoogste heil, en ons siel sal begin sing voor hierdie grootse waarheid.  Ons sal die Here loof en dank vir die oorvloed waarmee Hy ons daagliks seën.

Ons sal in harmonie kom met sy lewenskrag – gebruik maak van sy lig in ons en om ons, en sonder die geringste vrees of kommer voortgaan, want ons glo, God is daar!


Gebed:  Ek is in harmonie met Gods lewenskrag – altyd daar!


~ Uit Daelikse Woord ~