Saturday 22 February 2014





EK  KAN


Het  Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?  -  Joh 11:40 (OV)


Toe ons nog kinders was, is daar vir ons stories voorgelees of vertel van heldedade – stories van mense wat geseëvier het oor die grootste uitdagings denkbaar.   Selfs vandag nog wek hierdie stories gevoelens van moed en vertroue by die lesers daarvan, klein en groot.

Kóm ons staan dan vandag in ons gemoed, sterk, fier en regop, en sê met tróts as Jesus-kinders:  “Mét God, kán ek!”   Dit is eenvoudige maar báie kragtige woorde wat ons só gebruik.   ‘n Dínamiese, dááglikse bevestiging wat ons stééds daaraan herinner dat ons met ‘n onwríkbare geloof in die krag van God, tot álles in staat is.   Ons kán sterk wees!   Ons kán doen dit wat gedoen móét word!   Ons kán álles wees wat ons graag wil wees, en nog báie meer!   Ons kán!  Ons kán!

Ons kán sorg vir die voortbestaan van die verkondiging van Sy Woord tesáme met ons familie- en Christen-vriendekringe (in die werklike lewe en óók aanlyn), en só ‘n tempel van lig vorm wat ons land en ons wêreld oordek!   Ons kán elke dag saambid, die Here loof en prys.  Ons kán vasstaan in ons geloof dat die heerlikheid van God sál seëvier oor alles, wat vandag nog só duister mag lyk.   Ons kán!   Dánkie dierbare hemelse Vader!   Ons kán!


Gebed:  Met God kán ek!


~ Uit Daelikse Woord ~







HELENDE  KRAG


“Ek is die opstanding en die lewe.” – Joh. 11:25


In ons diepste heiligdom, diep-diep  binne-in ons harte, woon Christus – ons ínnerlike Bron van krag en genesing.   Élke keer wanneer ons hierdie heiligdom in ons stille gebed binnegaan, neem Hý ons hand in syne, en álle vrees en frustrasies verdwyn in die stroom van Sy liefde en krag.   Géén selfbejammering of selfveroordeling kan ons meer aftakel nie, want die suiwer, stralende lewe van die opgestane Chrístus vloei ín en déúr ons hele wese.

Sý lewe herstel en onderskraag ons.   Dit súíwer ons gedagtes, stíl ons emosies en héél ons liggaam.   Ons dankbaarheid ken géén perke nie.   Nóóit  sal ons weer twyfel aan hierdie inherente, suiwer lewe waarin ons bestaan nie.   Ons is één met die opgestane Christus, vándag en viréwig!

Vir onsself en ons geliefdes gebruik ons met oortuiging die vólgende bevestiging:   “Die lewe van die opgestane Christus vloei ín en déúr ons.  Na siel en liggaam word ons gehéél en stérk gemaak.”


Gebed:  Die lewe van die opgestane Christus vloei ín en déúr my om wondere te verrig!


~ Uit Daelikse Woord ~







SAGMOEDIG


Die vrug van die Gees is ... sagmoedigheid.  -  Gal. 5:22 (OV)


Met ontsag staan ek voor die krag van Gods skepping, maar dis Sy sagmoedigheid, Sy teerheid, wat my die mééste raak.

Gods wil vir my is altyd tot my hoogste heil, maar nóóit sal Hy dit op my afdwing nie.  Gedúldig wag Hy dat ek moet stil word, en luister ..............

Hiérdie teerheid van God vorm die fondament van my lewe.  As die uitdagings en eise wat die lewe aan my stel dreig om my te oorweldig en ek sélfs vergeet dat ek ‘n kind van die lig is, dán is dit Sý liefde en teerheid wat my stok en my staf is – wat my ophéf en vul met núwe moed en krag.

Ómdat my Heer so sag en teer is teenoor my, is ék ook sag en teer teenoor myself en teenoor my medemens.  Ek veroordeel hulle nie en maak hulle nie seer met my onbedagsame woorde nie.  Intééndeel – dít wat ek doen en sê, my hele leefwyse, prikkel hulle om ook dít wat my lewe so mooi en vol maak, te soek en te vind.  Deur ságmoedigheid en téérheid kom ons in harmonie met Gods grootse plan vir ons, en dra ons bý tot die vervulling van Sý plan hier op aarde.


Gebed:  Ek is sagmoedig en teer.


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday 19 February 2014





JONK  VAN  GEES


Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.  -  Jes. 40:31


Die Heilige Gees is in my, en in Hom is daar slégs stralende, tydlose lewe.  My géés is altyd jonk.  My líéfdevolle gedagtes spoor hierdie jong gees aan tot aksie, en ek voel léwenslustig, stérk, entóésiasties en gesónd.

My liefdevolle gedagtes maak my méér bewus van hierdie dinamiese lewe ook in andere.  Ek dink aan myself met líéfde.  Ek lóóf en dank God vir my liggaam wat my dien, sodat ek Hóm daardeur kan dien.  Ek lóóf en dank God as die brón van my lewe, en álles wat so mooi is vir vir my om te geniet.  Hoe méér ek die skoonheid van hierdie wêreld om my raaksien, hoe gróter word my liefde vir my Skepper.  My liefdevolle gedagtes ómvou alles wat bestaan, sowel as élke mens wat my dag met my deel.

Die jong gees in my réágeer op my gedagtes van liefde, en ek geníét hierdie heerlike dag deur God aan my geskenk.


Gebed:  Élke dag is ‘n geskenk van God!


~ Uit Daelikse Woord ~












DANKIE  DIERBARE  HEER!


Prys die Here!  -  Ps  147:1


Op hierdie pragtige somersdag dink ek onwillekeurig met ‘n hart vol dankbaarheid aan die tálryke seëninge in my lewe.   Ten eerste dank ek God vir die gawe van die lewe self, wat dit vir my moontlik maak om Sý wêreld te geniet.  Die lewe is ‘n opwindende grootse avontuur, en ek is baie bly om deel daarvan te wees.

Ek dank God vir die skoonheid wat ek oral om my sien, en sê ook dankie vir my innerlike visie waardeur ek myself en andere beter kan verstaan.

Ek sê dankie vir die lied van die voëltjie terwyl dit nog donker was, vir strelende musiek, en vir die stemme van my geliefde familie en vriende.   Ek is ook dankbaar vir die ságte fluistering van God in my hart, wat my verseker dat ek nie bang hoef te wees nie, want Hy is altyd net hier bý my.

Ek sê dankie vir die vaste aarde onder my voete, en die handdruk van ‘n vriend of drukkie van ‘n vriendin.  Ek sê ook dankie vir die ligte aanraking van God, wat ek áltyd en oral róndom my aanvoel.

Ek dank my Dierbare Heer vir alles wat ek mag ervaar in Sy liefdevolle, lig-vervulde wêreld.


Gebed:  Dankie, dankie, dankie Dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 17 February 2014






GLIMLAG *DIE TAAL VAN DIE HART*


Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen.  -  Gal. 6:10


Met al die tale en dialekte wat oor die hele wêreld heen gepraat word, kan ons baie maklik iemand teëkom wie se taal ons nie verstaan nie.   Al mag ons nie mekaar se woorde verstaan nie, ís daar nog steeds die taal van die hárt wat oor álle taalgrense reik, en dáárdie taal begin met ‘n glimlag!

Met ons hárt en met ons síél glimlag ons.  Ons oë is die vénsters van ons siel en glimlag saam.  Ons gesíg glimlag saam.  Ons héle wese en lyftaal glimlag saam, en dié wat dit sien, voel die goedgesindheid en liefde wat ons daarmee oordra aan, en óók hulle reageer daarop met ‘n glimlag só diep en mooi.

Met híérdie taal van die hart, wat só maklik is om te gebruik, kán ons mure  afbreek wat tussen ons en andere staan.  Ons kan ónmin verander in líéfde en verdráágsaamheid.  Ons kan vrédeblommetjies saai in die harte van andere wat oor álle grense, álle vreemde tale en mense heen reik, en die héle mensdom sáámbind in ‘n band van góédgesindheid teenoor mekaar, die símbool van vréédsame naastebestaan.  *Dink net, ‘n éénvoudige glimlag wat só baie kan vermag!*


Gebed:  Ek glimlag vandag en die wêreld glimlag saam met my!


~ Uit Daelikse Woord ~









GÓD IS MY KRAG


Die Here gee krag aan Sy volk;  die Here seën Sy volk met oorvloed.    Ps.  29:11


Ek hou op om gedagtes te dink van gebrek aan krag.  Ek laat vaar alle gevoelens dat ek nie bekwaam genoeg is nie.  Ek hou op om ‘n gebrek aan selfvertroue te hê.

Ek is sterk.  En as ‘n kind van God is ek besiel met geestelike krag.  Ek weet dat God my sien soos ek waarlik is – sterk, bekwaam en vol selfvertroue.  Hy ondersteun my en ek doen maklik dit wat ek moet doen.

Gód is my krag.  Ek is in my hart en verstand hiervan verseker.  Ek is in staat om my take met gemak en vertroue af te handel.  Wat hierdie dag ook al mag bring, ek dink, spreek en doen wat reg en wat goed is.

Gód is my krag – wat ‘n heerlike waarheid!  Elke oomblik handel en wandel ek in Sy allesoorwinnende krag.  Ek is sterk, bekwaam en vol vertroue, ‘n wenner op my lewenspad.


Gebed:  Gód is my krag.


~ Uit Daelikse Woord ~










VERTROU OP GOD


In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.  -  Ps. 56:12


Wat ‘n grootse bevestiging is die woorde van die Psalmis nie:  “In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie!”

Liewe Here, ek dank U vir die besef dat  Ú my beskerming, my moed, my hulp, my veiligheid, my voorsiening, my inspirasie, my wysheid, my lewe, my álles is.

Dit sal my nie langer die moed ontbreek om te doen wat ek moet doen nie.   Ek sal nie langer vrees om te gaan waar ek graag wil gaan nie.  Nie meer sal ek my eie innerlike stem wantrou nie, nóg my eie wysheid, my eie vermoëns en my eie talente nie.

Liewe Here, ek sal my nie langer as minderwaardig, as minder as ander, as enigiets minder as Ú volmaakte kind sien nie.

Nie meer sal ek nalaat om die liefde, vertroue, geluk en blydskap wat binne-in my is ten volle uit te leef nie.

Liewe Here, nie langer sal ek vergeet om Ú te vertrou nie, om my absolute vertroue in Ú en Ú alleen te plaas nie.


Gebed:  In God, stel ek my vertroue, ek is nie bang nie!


~ Uit Daelikse Woord ~







LIEFDE


Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here ... Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  -  2 Kor.  3:18


Wat is die boodskap wat ons dierbare Here Jesus Christus aan ons, Sy broers en susters oorgedra het?   Sy boodskap was by uitsték liefde.  In álles wat Hy gedoen en gesê het was Sy boodskap van liéfde, van léwe en gelóóf, kristalhelder.

Ons weet dat ware kommunikasie meer is as net woorde.  Ons raak andere eers werklik aan, wanneer ons hul vanuit die liefde in ons hart benader.  Ál ons gedagtes, ál ons gevoelens, laat ons éérs deur ons hart vloei.  Die mínder belangrike word verwyder, en slégs die súíwer goud van Sy liefde en lig bly oor.

Dit is dán wanneer ons woorde en ons dade slégs die heerlikheid van die Here wat in ons woon, weerspieël.  Ons vergifnis is spóntaan en géén woedebui kan staande bly in Sý heerlikheid, liefde en lig nie.

Sy liefde word deel van álles wat ons doen en sê, en dít wat ons met andere deel, is goud werd.


Gebed:  Ek weerspieël die heerlikheid van die Here.


~ Uit Daelikse Woord ~










LIEFLING EK BID VIR JOU


Ons (hou) ook nie op om vir julle te bid nie.  Ons vra God dat julle, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, tot volle kennis kan kom van wat  Sy wil is.  -  Kol. 1:9


Vandag bid ek dat my geliefdes God moet ken op ál hul weë en in álles wat hulle doen:

“Dierbare Heer, ek sien Ú lig helder straal in en deur my geliefdes.  Ek sien hulle veilig toegevou in Ú kosbare Vaderliefde, stérk en krágtig in Ú krag.

Sterk en kragtig in Ú krag Heer, kan hul wenners wees in wát hulle ookal mag aanpak.  Laat Ú lig hul lei, Ú liefde hul beskerm en Ú krag hul vul met moed en durf, want slegs dán kan hulle nie faal in wát die uitdaging ookal voor hulle nie.  Wanneer ek vandag aan hulle dink sien ek hul stérk, strálend en gesónd, en ek wéét Ú is met hulle élke tree van die weg wat hulle moet volg.   Dánkie, Vader, vir Ú troue sorg en liefde wat áltyd daar is vir my, vir élkeen van my geliefdes, en vir Ú wêreld en sy mense.

Laat Ú lig helder skyn dierbare Heer, ín my en óm my, tot seën van élkeen só na aan my.


Gebed:  Liefling, ek bíd vir jou!


~ Uit Daelikse Woord ~







GODS KRAG


Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.  Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is.  -  Rom. 12:2


Het ek hard probeer om my wilskrag in te span om een of ander iets te staak of reg te kry?   Miskien het dit al hoe moeiliker geword hoe harder ek probeer het ...

Wanneer ek dan uit pure moedeloosheid uitroep:  “Nee wat, ek gee oor!”  moet ek net onthou, God gee nooit oor nie!!

Die waarheid is dat daar net een krag en een teenwoordigheid in my lewe is, en dit is God.  Met Sy Krag wat in en deur my werk en straal, is ek in staat tot alles.   Ek is ‘n wenner in wat ek ookal wil verander, of dit die staking van een of ander negatiewe gewoonte, of die begin is van iets positiefs.

Binne-in my diepste heiligdom soek ek Hom op, en vind ek Hom.   Hy gee my die nodige moed, durf en krag om te doen dit wat ek graag wil doen.   Hy gee my die insig en begrip om Sy wil te volg in alles wat my aangaan.  Deur Sy krag in my word my gedagtes vernuwe en my wil versterk.


Gebed:  Gods krag versterk my wil en ek is sukesvol.


~ Uit Daelikse Woord ~






GOD SEËN MY


En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd ... en alles wat hy doen voer hy voorspoedig uit.  -  Ps. 1:3 (OV)


Dierbare Heer, Ú is die bron van my lewe – van álle lewe, en aan die werkinge van Ú liefde, Ú lig en krag is daar géén perke nie!

Óral om my sien ek U oorvloedige voorsiening raak.   U sien om na álles.  Van die kleinste, tingerigste lewensvormpie tot dit wat majestieus en groot is, bestaan in Ú lewenskrag.  In stille aanbidding kniel ek voor die grootsheid van U skepping, en uit die diépte van my hart sê ek dánkie, dánkie Vader, vir U véélvuldige seëninge - ook vir my.

Met Ú liefde seën U my, en stel my in staat om met ‘n sagte glimlag, ‘n vriendelike daad en woorde wat bemoedig, my medemens te seën.

U seën my en leer my hoe om áltyd te hoop op die beste, omdat ek wéét en gló U sal my nóóit begewe óf verlaat nie.  My héle lewe skoei ek op Ú lig, Ú liefde en krag, en ek wéét, wat ookal mag gebeur, dit is slégs tot my hoogste heil.


Gebed:  Dankie Hemelvader, vir U seëninge vir my en rondom my élke dag van my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 15 February 2014





INNERLIKE  VREDE


Die Gees wat ons ontvang het, is ... die Gees wat van God kom, en daardeur weet ons wat God ons uit genade geskenk het.  -  1 Kor. 2:12


As ons ons gedagtes laat vashaak aan een of ander probleem, raak ons gespanne en uit harmonie.  In die poging om ons eie of andere se lewens te reël, kan ons vasgevang word in  “as-net”  gedagtes:  “As omstandighede maar net wil verander ... As alles maar net gebeur soos beplan is ... As mense maar net wil doen wat ons wil hê hulle moet doen.”

Ons lewens kan egter harmonieus en rustig wees as ons gereeld ons diepste heiligdom van krag biddend nader, en Christus toelaat om in en deur ons te dink en te doen.  Sy diep innerlike vrede sal vrede bring ook in ons gemoed.

As enige probleem dus opduik, sal ons nie daaroor tob nie.  Ons sal ons onmiddellik tot Hom wend.  Ons sal ons harte oopmaak vir Sy omvouende liefde, en vrede sal oorneem en ons gedagtes stil.


Gebed:  Dankie Heer, vir U vrede in my gemoed.


~ Uit Daelikse Woord ~












MOED


Vertrou op die Here!  Wees sterk en hou goeie moed!  -  Ps. 27:14


Aan ons vermoëns in Christus is daar geen perke nie, en dit sluit moed ook in.   Wanneer alles glad en ordelik verloop, voel ons dis nie vir ons nodig om ons moed te wys nie.   Ons geloof en bydrae tot die ordelike verloop van ons lewe en belange, weerspieël egter ons moed.  Moed is ‘n gawe van God aan al Sy kinders, nie net aan ‘n paar uitverkore fisiese sterkes nie.

Moed is om vas te staan in die waarheid dat Christus in ons woon.   Moed kom vanuit ons diepste heiligdom, en is altyd tot ons beskikking wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan en daarvoor vra.

Moed gee ons die krag om die liefdevolle, rustige mense te wees wat God ons geskep het om te wees.   Om ware kinders van die lig te wees wat ongeag uiterlike omstandighede, blymoedig voortgaan op ons pad van lig.

Moed maak dit vir ons moontlik om nee te sê vir negatiewe gedagtes, en ja vir die waarheid wat ons vry maak.   Ware moed is in ons, gereed om deur ons gebruik te word.


Gebed:  Ware moed is binne-in my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 6 February 2014





SIELE VREUGDE


By U is daar oorvloedige blydskap.  -  Ps. 16:11


Kosbare Hemelheer,  gister het ek gevra – U het my geantwoord, en my blydskap ken géén perke nie!

Ú Here, is die bron van ‘n blydskap dieper as wat ek nog óóit ervaar het en ooit kán ervaar.  Die óómblik toe ek U aanvaar het as my Heer en Meester, het daar ‘n lied in my siel ontwaak, wat deur níks en niémand gestil kan word nie.

Die vreugdelied in my siel vertroos my in my alleen-tye – of ek ek vir die eerste keer alleen woon en of ek dit al vir jare doen.  Soms mag ek voel ek pas nie meer in ‘n vriendekring of tussen my familie in nie, maar dan troos dit my om te weet Ú is net hier by my – in Ú liefde word ek teer  ómvou, versorg en vertroetel.  Daar is níks wat ek alleen tegemoet hoef te gaan nie, want Ú stap élke tree van die pad saam met my.  Dit is waarom my siel sing!  Dankie, Dierbare Heer!

Ú blydskap in my siel maak my gesond.  Dit is ‘n vreugde wat gedurig ín en déúr my straal.  Dit vúl my gemoed en síng in my hart, en maak my gesond na gees, siel en liggaam.

Ú vreugde-lied in my siel, Heer, bring ‘n diepe vrede in my gemoed.


Gebed:  My siel sing in my – dánkie Liefste Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~









MY GAWE


Ons dank God vir Sy onuitspreeklike gawe.   2 Kor. 9:15


Die grootste gawe wat ‘n mens kan ontvang, is die gawe van Gods Heilige Gees.  Hierdie gawe is aan elkeen van ons gegee.

Die gawe van Gods Heilige Gees is die gawe van die lewe self.  “Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus.”  Laat ons die gawe van die lewe aanvaar – lewe wat genees en vernuwe, lewe wat deur ons vloei as ‘n magtige helende stroom.

“Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.”  Ons het elkeen sy eie spesiale gawe van God wat ons uniek maak.  Laat ons hierdie gawe gebruik want ons dra by tot die welsyn en die geluk van ander sowel as tot ons eie innerlike geluk en welbehawe as ons ons God-gegewe gawes gebruik.

“Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie.”  “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het … soos ‘n vuur moet aanblaas.”

Daar lê groot kragte en moontlikhede in ons want ons het die gawe van Gods Heilige Gees.


Gebed:  Dankie Heer, vir U onuitspreeklike gawe.


~ Uit Daelikse Woord ~









God gee werklik om ..............................


Lees -  Job 31:2-15


God hou my paaie dop en tel elke tree wat ek gee.  -  Job 31:4


Toe ek pas begin werk het, het ek ‘n kamer gedeel met ‘n meisietjie wat dolverlief was.  Elke keer wanneer haar vriend op ‘n lang reis moes gaan, het hy die roete vir haar op ‘n padkaart aangedui.  Só kon sy, wanneer sy aan hom dink, presies weet waar hy op daardie tydstip is.  Ek het gereken dat daar van haar varkies weg was.  Tog, toe ek Job 31:4 lees, het ek weer aan dié twee mensies gedink.

Hoe wonderlik is dit nie dat dié God wat hemel en aarde gemaak het, ook intens by my, sondaarmens, betrokke is.  Hy hou nie net my paaie dop nie, maar tel selfs elke tree wat ek gee.  Wanneer ‘n mens aan God behoort, kan jy te álle tye weet dat jou Vader vir jou omgee en liefhet.

Hy weet van ál die geheime wat jy vir die res van die wêreld probeer wegsteek, van die mense wat jou seermaak, die vrese wat jou soms wil oorweldig.  Hy weet wat op jou wag in elke jaar en dag wat voorlê.  Maar wat dít ook al mag wees, Hy sal dáár wees om jou by te staan, om elke tree wat jy gee te tel!


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat U ‘n God is wat soveel vir my omgee dat U elke dag my paaie sal dophou.


*God tel elke tree wat ek gee.*




~ Uit Dagboek vir die vrou deur Nina Smit ~








TROOS


God sal al die trane van hul oë afdroog.  -  Openbaring  7:17


Al is die nag hóé donker, Ú Heer, is met my – Ú verkwik my siel.   Ú heel my hart en bring vrede in my gemoed.

Al voel ek hóé eensaam en verlate, Ú Heer is met my – Ú vou my toe in U mantel van liefde en verseker my dat ek nóóit alleen is nie.

Hóé groot die nood ookal mag wees, Ú vertroos my.  Ú hou my stýf vas – Ú droog ál die trane van my oë af, en gee my die moed om wéér te begin.

En as álles om my in duie gestort het en ek nie hérwaarts of dérwaarts weet nie, is dit nog steeds Ú wat my vrese wegneem, wat my lei en aanspoor om met nuwe ywer en volharding wéér op te staan en aan te gaan.

Wanneer ek jammer voel oor dinge wat ek in die verléde gedoen het of nagelaat het om te doen, staan Ú gereed om Ú helende balsem van vergifnis daaroor uit te giet.   U moedig my aan om op te hou dink aan dít wat kon gewees het, en herinner my daaraan dat ek *nóú-en-hier* óneindige seëning het om te geniet én op andere uit te stort.


Gebed:  In Ú liefde, Heer, vind ek vertroosting – laat my U nabyheid aanvoel.


~ Uit Daelikse Woord ~








GENADE


Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  -  Gal. 5:22-23


Wanneer ek verras word met ‘n geskenk, vir ‘n verjaardag of ‘n huweliksherdenking, besef ek dat dit vir my uit liéfde gegee word, en gladnie omdat ek dit verdien of verwag het nie.  Só is dit ook met die genade van God waarmee Hy my só oorvloediglik seën.

Sý liefde vir my is ónvoorwaardelik, en dit seën my met vreugde, vrede, orde, voorspoed, geluk en véle meer – wonderlike geskenke wat Hy my gee net omdat ek sý geliefde kind is.

Hóé groot my blydskap en hóé diep my dank omdat ek só geseënd is en Hy mý liefhet nie, en hóé graag wil ek nie ál hierdie seëninge ook met andere deel nie!  Met my vriendelike lig-woorde en dade, wil ek sy liefde oordra aan élkeen wat my pad mag kruis.

Wie is daar nog wat nie hierdie hemelse genade nodig het nie?  Wie soek nie vrede, orde en voorspoed in hierdie deurmekaar wêreld van ons nie?  Deur Gods genade, kan ons dit gee en dit moet ‘n brandende begeerte in élkeen van ons se harte wees om dit te doen – élke dag van ons lewe.


Gebed:  Gods genade spoor my aan om só baie te gee – hoor ons Sy roepstem?


~ Uit Daelikse Woord ~








REËNBOË 


Julle is die lig vir die wêreld.  -  Matt.  5:14


Hoe pragtig die reënboog wat ná ‘n bui reën oor die hemelruim strek.  Die mens gaan staan stil in bewondering voor die kleureprag daarvan.   En tog, hoe asemrowend skoon so ‘n reënboog ookal mag wees, dit bestaan maar net uit kleurlose druppeltjies water wat in die lig van die son vasgevang word, en die mooiste samestelling van kleure weerkaats.

Die druppel self bly presies dieselfde – dit is net die aanraking van die son wat dit skielik so verander dat almal kan sien waartoe dit, saam met miljoene ander druppels, werklik in staat is.  Dit bly ‘n grootse wonderwerk, want wie bepaal watter druppeltjie watter kleur gaan weerkaats om almal saam iets so groots te skep?

En ons?  Kan ons nie soos die druppels ook Gods lig wat in ons en om ons skyn, weerkaats om iets groots te skep nie?  Dit is ‘n hemelse lig wat andere om ons ophef en seën, totdat ons almal saam ook soos die druppeltjies water, ‘n reënboog van liefde en lig skep wat oor heel ons land en ons wêreld strek.


Gebed:  My lewe weerspieël Gods liefde en lig.



~ Uit Daelikse Woord ~