Wednesday 31 July 2013

LEEF VANDAG






Maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees.  -  Eseg.  18:31  OV


 Vandag benader ek met ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees.  Ek draai my rug op die verlede, kyk vorentoe, en sien hoe ek die 24-uur voor my kan leef soos dit ‘n kind van die lig betaam om te leef – kan gee, kan dien, en elke gebeurlikheid kan omskep in ‘n seën – vir my en vir andere om my.


Ek begin nou deur die seëninge wat ek nou geniet ten volle te waardeer, en om die verlede te sien as ‘n voorbereiding vir die vol, ryk lewe wat ek nou kan geniet.


Ek begin deur te bid, want gebed help my om my los te maak van dit wat agter my lê en met moed en durf die nuwe tegemoet te gaan, ten volle bewus van my Heer wat saam met my die nuwe dag binnegaan.  Vry en bly, met ‘n siel wat sing en ‘n hart vol ligbring-liefde, begin ek die reis op nuwe, aangename gedagtepaaie vol beloftes.


Dankie, dierbare Heer, vir hierdie heerlike nuwe dag, waarin ek U liefde kan uitleef, U lig kan laat skyn, in my en om my, en so ‘n bron van seën kan wees so ver ek gaan.


Gebed:  Dankie, Heer, vir hierdie heerlike nuwe dag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 16 July 2013

DANKIE VADER!


(Ek kan nog steeds nie prentjies pos nie - sodra ek kan, doen ek dit weer)


DANKIE VADER!



Dank Hom, prys sy naam.  -  Ps. 100:4


Dankie vir hierdie skone môre, dankie vir hierdie sonskyndag – dankie vir hierdie wonderpad vandag so saam met U!   ... Kom, sing saam liewe matertjies, maak julle eie woorde en sing die hele dag deur, want al sing ons ons danklied dwarsdeur die dag én die nag, dan skiet dit nog ver te kort in die dank wat ons vandag aan ons Heer wil oordra!

Heer van my hart, ek weet U hoor my lied, ek weet U verstaan dat dit gevul is met al my lof en waardering vir hierdie mooie dag, en al die mense wat my dag sal vul.

Vir hierdie liggaam waarin ek die voorreg het om te lewe en beweeg, Heer van my hart, my diepste, diepste dank!    Dankie vir U Lig wat elke sel en atoom van my liggaam deurstraal, en my gesond en sterk genoeg maak om U te kan dien en eer, en Lig en Liefde oor te dra aan elkeen wat my pad mag kruis, my diepste, diepste dank.

Dankie, Hemelvader, vir ons kosbare Ligvriendekring waarvan ek deel mag wees – met wie ek saam kan bid, sing en werk en dankie sê!  Dankie, Heer, vir die harmonie wat U is in my!


Gebed:  Dankie Vader, vir die wonder van U in my!



~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday 14 July 2013

HOU DIT EENVOUDIG


(Jammer van gister af sukkel ek om prentjies op te laai in Blogger)

Poppie Oosthuizen



HOU  DIT  EENVOUDIG


Die Here is julle lig.   Leef dan as mense van die lig.  -  Ef.  5:8


Alles kan soms so ingewikkeld lyk, maar eintlik is alles só eenvoudig.  Soms mag ons voor so baie keuses te staan kom dat ons net nie weet wat om te doen of hoe om te reageer nie, terwyl net ‘n *ja* of ‘n *nee* weer op ander kere heeltemal genoeg is.

Ons kan dit alles só eenvoudig hou – ons hoef ons net na binne te wend en die beste keuse sal ons s’n wees in die Lig en Liefde wat ons daar vind.  Soms is dit egter nodig om te antwoord met ‘n *miskien*, want dit gee ons die tyd om die saak van alle kante te beskou en ons Heer te nader in gebed om sy leiding te soek.

As ‘n kind van die lig, gaan soek ek dan die régte weg binne-in my diepste heiligdom, daar waar my Heer áltyd op my wag.   Hy sal sorg dat ek nooit die verkeerde besluit neem nie.  Stil in gebed vra ek, en diep in my hart kom die antwoord sag en teer: “Geliefde, Ek is hier.  Al kan jy My nie sien nie, Ek ken ál jou behoeftes, Ek lei jou op die régte pad vir jou.  Word net stil – jy sal weet!”


Gebed:  U Heer, is my lig.  U volg ek!



~ Uit Daelikse Woord ~



Thursday 11 July 2013

TROOS






Jou dae van smart is verby.  -  Jes. 60:20


Is dit nie wonderlik om hierdie pragtige nuwe dag met soveel seëninge in te gaan nie!  Maar hoe kan dit dan nou ook anders wees, met ons eie geliefde Heer en Meester wat voor ons loop, en elke nuwe dag saam met ons verwelkom!

En tog – dae van smart is maar net nie geheel en al onvermydelik nie!  Dit is maar die verloop van die wêreld met al sy uitdagings.  Maar wat ookal die smart is wat u hart in stukke breek, onthou – u is nooit ooit alleen nie.  Steek maar net u hand uit, en u sal voel hoe ons Hemelse Vader sag en teer u hand in syne neem.

En diep in u hart sal U sy stem saggies hoor fluister:

“Leun op My, want Ek gee om vir jou ...   Ek sal jou wonde heel.   Ek sal jou oë wees wanneer jy in die duisternis rondtas.  Ek sal jou hart wees, altyd vol moed en hoop.   Na waters waar rus is sal Ek jou heen lei.   Ek sal  jou siel verkwik.   Leun op My – jou eie inwonende Christus-self – dit is Ek, en Ek het jou lief met ‘n ewige liefde.”


Gebed:  Dankie dierbare Heer dat ek op U kan leun en dat U my liefhet.



~ Uit Daelikse Woord ~



Tuesday 9 July 2013

LIEWE JESUS





♥  LIEWE  JESUS  ♥


U maak al’s kosbaar-mooi vir hom
waarin U liefdesaadjies, kleurvol blom.


U verf sonsondergange pragtig oranje-rooi
en laat wolke so sponsig-wit, oral strooi.


U maak al’s wat krom-verkeerd is reg,
troos selfs hartseer trane sagkens weg.


U laat blydskap in ons harte klop
en laat kom vreugde, soos blommetjies op.


U maak ons nederig-gelowig soos ‘n kind,
omdat U ook grootmense aan U
          genade-hart  bind.


~ Daelikse Woord ~

Monday 8 July 2013

EK IS BY JOU





Moenie bang wees nie, Ek is by jou.  -  Jes. 43:5


Waar my dierbares ookal mag wees en wat hulle ookal mag doen, hulle is altyd in my gedagtes en in my gebede.  Sag en teer, in my stil tye van gebed, vloei ‘n boodskap van hoop en liefde direk van my Heer afkomstig, my gedagtewêreld binne:

“Geliefde, Ek hoor jou gebede en weet hoe baie jy omgee vir almal wat vir jou só na aan die hart is.  Moénie bekommerd wees nie – Ek is by hulle.  Hulle mag nie altyd bewus wees van My teenwoordigheid nie, maar Ek is bewus van hulle en Ek sien na hulle om.  Élke oomblik, gedurende die dag of deur nie nag, is Ek bý hulle.

Ek ken hulle behoeftes en hulle kommer selfs nog vóórdat hulle daarvan bewus is, en lei hulle élke tree van die weg wat hulle moet gaan – áltyd tot hul hoogste heil.  Ek is die krag en sterkte wat hulle onderskraag – Ek is ‘n skild van liefde en lig wat hulle beskerm sover hul gaan.

So veilig soos wat jý is in My liefde en sorg, so veilig is elkeen vir wie jy bid – glo dit en ontspan.”


Gebed:  Geliefde, God seën jou in Sy nimmereindigende Liefde en Lig.


~ Uit Daelikse Woord ~












Saturday 6 July 2013

GENADE






En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. 
Joh.  1:16  (OV)



Daar is gesê:  “Die wind van Gods genade waai altyd.   Mens moet net die seile van die hart oopvou om die altyd vloeiende bries op te vang.”

Genade is ‘n vrye gawe van God.  In die stil dieptes van elke hart hoor ons sy stem:  “Weet jy nie dat jy ‘n kind van die Allerhoogste is nie?”   Maar in ons besige lewens hoor ons nie altyd hierdie sagte stem wat met ons praat nie.   Ons glo miskien selfs sat ons net nie die tyd het om vir ‘n paar minute stil te wees nie.

Vandag sonder ek tyd af om al die energie van my gedagtes na binne te keer.   As my verstand stil word, vou ek die seile van my hart ten volle oop om die altyd-vloeiende bries te vang.   Saggies, so vol deernis, seën Hy my met Sy lig, liefde en krag.  My siel begin sing en my hart loop oor van vreugde en dank.  Ek gaan voort in die wete dat die genade van God my gedurig lei, en dat ek steeds veilig in Sy beskerming is.


Gebed:  Ek open my hart vir die genade van God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 5 July 2013

VRY






Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.  -  2 Kor. 3:17


Hoe mooi is hierdie teks nie!  Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid, word vir ons gesê.  En hierdie Gees van die Here – is dit nie in ons nie?  Ons eie inwonende Christus-self,  dit is die Gees van die Here in ons.

Maar, sê u miskien – ek is nie vry nie!  Kyk na al die verpligtinge wat ek elke dag moet nakom.

Kyk na my gebondenheid aan mense en dinge om my – waar is die vryheid dan?   Dit is waar, ons in nie vry nie, maar die vryheid waarvan hier gepraat word is nie ‘n fisiese vryheid nie – dis ‘n geestelike vryheid wat ons s’n is in Christus.  Slegs een stil gedagte ver, slegs een gebed ver, is hierdie hemelse vryheid.

Hoe kan ons God ooit genoeg loof en dank vir Sy Gees in ons wat ons so vry maak?  Al lyk alles om ons hoe uitdagend, niks kan hierdie vryheid van ons af wegneem nie.  Elke dag wandel ons vry en bly in die lig saam met Hom wat ons so vry maak!   Dankie, Hemelse Vader!


Gebed:  Ek is vry!  Loof God ek is vry!


~ Uit Daelikse Woord ~







Wednesday 3 July 2013

LOF





Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! 
Ps.  103:2  (OV)


Lof!  Watter beter manier is daar om ‘n dag mee te begin as met lof – lof jeens God, lof jeens mense, lof en dank vir al ons baie seëninge?

‘n Geloofsversterker, dit is wat lof is!  Watter beter manier is daar om ons geloof te versterk as om die geloof wat ons het, te loof en te prys, al is dit net so groot soos ‘n mosterdsaad?   Watter beter manier is daar om ons geloof te laat groei, as om dankie te sê vir die feit dat God vir ons gee nog voordat ons vra?

‘n Sielsverheffer, dit is wat lof is!   Watter beter manier is daar om vrolik en bly te raak, om blymoedig te kan voortgaan op Gods pad van lig, as om Hom te loof en te dank vir die seker wete dat ons belangrik is vir Hom – dat ons sy geliefde kinders is?

‘n Afsluiting vir die dag, dit is wat lof is.  Daar is geen beter manier om ‘n dag mee af te sluit as met ‘n noot van lof en dank nie, vir al die seëninge van nog ‘n mooi dag saam met Hom.


Gebed:  Loof die Here, o my siel!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 1 July 2013

NOOIT TE LAAT NIE





NOOIT TE LAAT NIE


Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg.  -  Ps. 55:23


Dit is nooit te laat om weer te begin nie.  Dit is nooit te laat om heel van voor af te begin nie.  Vandag kan ‘n draaipunt wees, die begin van ‘n nuwe, gelukkige, vreugdevolle lewe.

Dit is nooit te laat om dít wat reggestel moet word, reg te stel nie.  Dit is nooit te laat om te vergoed, om te vergewe en vergeet nie.

Dit is nooit te laat en dit is nooit te vroeg nie.  Dit is nooit te laat om jou tot God te wend wie se nimmereindigende liefde alle wonde genees nie.  Dit is nooit te vroeg of te gou om alle laste af te gooi en die lewe in te gaan met ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees nie.

Ek het binne-in my die almagtige, alwetende, alomteenwoordig Heilige Gees van God.  Nou is die tyd om dit te erken en toe te laat dat Gods volmaakte werk gedaan word.  Nou is die tyd om Gods hulp te aanvaar, om myself oop te stel vir Sy lig, liefde en krag.

Dit is nóóít te laat nie!


Gebed:  Dankie dierbare Heer, dat dit ook vir my nooit te laat is nie.


~ Uit Daelikse Woord ~