Thursday 29 March 2012





‘N  OMGEE  MENS


Elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees  hom aangedryf het, het gekom.   - Eks. 35:21  (OV)


Toe Jesus sy dissipels uitgesoek het, het Hy nie juis gesoek na die mees opgeleide of hoogs gekwalifiseerde mense nie.  Hy het na mense gesoek wat graag ‘n diens wou lewer in die wêreld – mense in wie se harte die liefde warm geklop het, met ‘n sielsverlange om andere te help.  Anders sou hulle seer sekerlik nie so by Hom gebly het nie!

Soos die dissipels van ouds, klop daar ook in my hart die begeerte om meer te gee – om meer te wees, net hier waar ek is.   Die plekkie waar ek is, is miskien ook nietig en klein, maar kyk net hoe klein was die landjie waar Jesus en sy dissipels so baie gegee het!

Dis die roepstem van my siel wat my hart so oop maak, dis die aansporing van die Heer wat my oë oopmaak sodat ek die behoefte kan sien, en dis die liefde in my hart wat my in staat stel om mildelik in die behoefte voor my te voorsien.  Hoe dankbaar is ek nie!

Dankie, Heer van my hart, vir U liefde so groot wat my ‘n omgee-mens maak!


Gebed:  My hart is vol liefde, en ek gee om!


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 28 March 2012





BLYDSKAP

U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit U hand kom net wat mooi is.
Ps. 16:11

Ek word stil, ek ontmoet my Heer diep in my hart, ek sê dankie vir hierdie mooi dag, en ‘n ongekende diep blydskap vul my gemoed.  Dit lag in my oë, dit word gehoor in my opgeruimde stem, dit dra die seën van ‘n glimlag oor aan elkeen wat my pad mag kruis.  Die oorvloedige blydskap wat heers in my hart, die plek waar my Heer woon, maak hierdie dag vir my vol vreugde, en vry en bly gaan ek voort op my pad van lig.

Vandag is ‘n besondere geskenk uit ‘n Vaderhart vol liefde – ‘n geleentheid om die vrolikheid wat my hart so laat sing, ook te deel met andere.  Blydskap en liefde loop hand-aan-hand en die blydskap wat ek teenoor andere toon, is geseën met die liefde wat ek het om te gee.  En die wonder is – hoe meer ek gee, hoe meer het ek om te gee!

Vandag laat ek die lig van my blydskap skyn op ‘n mooi wêreld, gevul met mooi mense, diere,  bome en blomme.  Hoe wonderbaarlik is hierdie dag.  Hoe groot my dank!

Gebed:  Wonderbaarlik is hierdie dag, wat U ons gegee het, baie dankie dierbare Hemelse Vader.

~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday 27 March 2012





OM  BARMHARTIG  TE  WEES


Toe sê Jesus vir Hom: "Gaan maak jy ook so." - Luk. 10:37


Een oomblik is genoeg om ons dag op te helder. As iemand vir ons glimlag, 'n mooi opmerking maak, of ons op een of ander manier in ag neem, is dit asof die son agter donker wolke uitbreek en lig bring in ons wêreld.

Hierdie lig wat so mildelik op my uitgestraal word, wil ons so graag deel met andere.  Ons dink aan die verhaal van die Barmhartige Samaritaan wat alles wat hy kon, gedoen het vir die beseerde man langs die pad, sonder om ooit aan enige terugbetaling te dink.  Dit is dan ook hoe ons graag teenoor ons medemens wil optree – ons wil ons naaste behandel soos ons graag behandel wil word.

Ons familie is die naaste aan ons en hulle is die eerste wat baat vind by hierdie sonskyn-liefde van ons. Met ons woorde en ons dade wys ons hulle hoe lief ons hulle het. Met 'n woord van bemoediging vir iemand wat ly - 'n vriendelike glimlag vir die klerk agter die toonbank - as, sommer vir almal wat vandag ons pad mag kruis, wil ons hierdie dag 'n heerlike sonskyn-dag maak! En dit gebeur, want 'n glimlag is aansteeklik, as ons glimlag dan ontvang ons 'n glimlag terug en sowaar ons hart voel gelukkig!


Gebed:   In U liefde Heer, is vandag 'n sonskyn-dag - vir my en vir andere!   Dankie dierbare Heer dat U SO lief is vir ons!!!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 26 March 2012





KOSBARE  LIGVRIEND


Ek het jou by jou naam geroep;  jy is Myne!   -  Jes. 43:1


My kosbare Ligvriend, hoe waardeer ek nie jou toewyding en samewerking nie!  Jy is Myne, Ek het jou op jou naam geroep, en jy het gehoor en geluister, en nooit sal jy en al jou Ligvriende besef wat julle vir My, en ook vir ons wêreld beteken nie!

Ek is in jou, en jy is in My.  Al slaag jy nie altyd daarin om My te vind nie, Ek sal jou nooit faal nie.  Al is jou geloof in my nog so klein My geloof in jou wankel nooit nie, want  … Ek ken jou, en Ek het jou lief.

Besef jy hoe kosbaar jy werklik is?  Daar is niemand wat hier waar jy nou woon en werk dit kan gee wat jy het om te gee nie.  Ek is besig om deur jou te werk, al herken jy nie altyd My werke nie.  Ek is besig om jou te lei, al verstaan jy nie altyd My weë nie.

Soms raak jy so besig dat jy My nie hoor nie, en tog, as jy My toelaat, spreek Ek deur jou stem – werk Ek deur jou hande.  Geliefde, Ek is hier – altyd net hier by jou!  Onthou, jy is Myne, nou en vir ewig!


Gebed:  Roep my, Heer, ek sal altyd antwoord.


~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 25 March 2012





WAAROM NIE EK NIE?

As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie.  -  Spr. 4:12

As ek ‘n moeilike tyd deurgaan, is dit baie maklik vir my om te vra.  “Waarom ek?”  Een ding staan egter soos ‘n paal bo water – God weet waartoe ek in Sy krag in staat is, en Sy antwoord op my vraag sal wees,  “Waarom nie jy nie?  Onthou Ek is aan jou sy, en sal jou nooit deur hierdie beproewing alleen laat gaan nie.  Kom, gee My jou hand!”

Omdat Hy so goed weet waartoe ons in staat is, beproef Hy ons nooit tot breekpunt nie, maar slegs tot groeipunt.  Met hierdie waarheid in gedagte sal ek ophou vra,  “Waarom ek?”  Ek sal stewig bly staan in Sy krag, en die geleentheid wat die ervaring my bied soek en benut.  Hy het my lief, en weet presies wanneer ek sterk genoeg is vir die volgende tree.

Niks is vir my kosbaarder as die diep innerlike band tussen my en die Heer van my hart nie.  Sy wil is my wil, soos die wil van God ook sy wil was.  Vir geen oomblik het Hy gehuiwer om die wil van sy Vader uit te voer nie, al het Hy bloed gesweet – en dink net wat sy opstanding vir ons beteken – vandag nog!  Nooit weer mag ons vra – waarom nie ek nie?

Gebed:  In U lig so helder, vra ek niks, want U het vir my ALLES gegee.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 22 March 2012





VEILIG

Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.  – Joh. 7:24

Uitdagings kom en gaan deur ons lewens heen, in ons tye van sukses en ook in ons tye van teleurstelling.  Maar dit is juis deur die eb en vloei van gebeure en lewenservaringe heen wat ons geestelik groei.

Ons hoef glad nie angstig of bekommerd te voel wanneer ons moet afskeid neem van ‘n bekende, veilige plek, of ‘n aangename menseverhouding nie.  As ons dieper begin kyk, sal ons besef dat die veiligheid en sekuriteit wat een of ander situasie of mens ons bied, maar net tydelik van aard is.  Ons ware sekuriteit is altyd daar, altyd beskikbaar – Gods Heilige Gees.  Tyd en plek is nie van belang nie – Hy gaan oral en altyd saam met ons waar ons ookal heen mag gaan.

Ons is innig dankbaar want ons besef dat elke geleentheid wat die lewe ons bied om ‘n nuwe begin te maak, as ons dit reg hanteer, ons een tree verder neem op ons pad van lig.  Daarom aanvaar ons alles wat nuut is met geloof en geesdrif.

Gebed:  Die Heilige Gees is my ware Sekuriteit.

~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday 20 March 2012





GELOOF

Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. - Jak. 1:6

God is alomteenwoordig en Hy is ‘n God van liefde.  Met ons geloof op Hom gevestig, weet ons dus dat daar ook iets mooi en goed skuil in ons medemens.

As ons egter met die bose te doen kry, kan ons geloof soms wankel.  Dit mag jare neem voordat ons besef dat daar ook in daardie onaangename ervaring verborge seëninge vir ons geskuil het.

Laat ons vandag 'n punt daarvan maak om deurgaans vas te staan in ons geloof in God en in Sy goedheid, ongeag enige negatiwiteit waarmee ons te doen kry, of dit nou 'n berig is oor die nuus, 'n gesprek met iemand anders of iets wat ons gelees het. Ons weet God is in beheer van Sy wêreld, en net goedheid en guns sal ons en ons medemens volg, al die dae van ons lewens.

Hoe meer ons gelowig daarna streef om net die goeie en die mooie in alles te sien, hoe sterker sal ons geloof word.

Gebed: Ek glo Heer, laat U wil geskied.

~ Uit Daelikse Woord ~


Monday 19 March 2012





EK  IS

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.  -  Joh. 14:6

Geliefde,  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”  Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.  Ek is die waarheid van jou wese.  Volmaakte lewenskrag en ewige rus en vrede, dit bied ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.  Ek is die lig wat jou lei.  Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.  Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.  Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.  Ek is Christus in jou hart.

Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~


Friday 16 March 2012

KENNISGEWING

Ek sal weer op Maandag 19 Maart beskikbaar wees.


Baie liefde


Poppie Oosthuizen




VERTROUE


U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap. 
 Ps 16:11


Ons vertroue in die Here neem van dag tot dag toe.  As ons daagliks ons vertroue op Hom stel, sal seëninge ons lewe begin binnevloei.  Hierdie vertroue wat ons so in Hom stel, beteken ook dat ons geen krag gee aan enigiets wat ons seëninge van ons mag weerhou nie.

Soms mag ons wens dat die dinge wat ons deurmaak liefs ‘n bietjie anders moet wees, meer aangenaam byvoorbeeld.  En tog, as ons mooi en diep begin kyk, sal ons vind dat daar ‘n seën in elke gebeurtenis in ons lewe skuil.

As ons sou terugkyk oor ons lewe tot hier, sal ons vind dat Gods volmaakte plan duidelik sigbaar is in alles wat ons ervaar het.  En met ons vertroue op God en Sy goedheid, kan ons seker daarvan wees dat Sy plan in die toekoms ook altyd tot ons hoogste heil sal werk.

Ons vertroue op God maak dit vir ons moontlik om ons seëninge raak te sien, in ontvangs te neem en te geniet.


Gebed:  Ek vertrou op God en vind rus vir my siel.


~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday 15 March 2012





LUISTER

Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.  – Mark. 9:7

God praat met my wanneer ek met my hele hart en siel daarna smag om Hom beter te leer ken.  Dis sy manier om my te roep, om my te laat ontwaak tot ‘n vol en ryk lewe, en ek antwoord op sy roepstem deur Hom in alle erns te soek.

God praat met my wanneer ‘n bybelversie of een of ander gedagte of iets wat ek lees, skielik vir my oopgaan en ‘n besondere betekenis kry.  So leer Hy my, en rig  en openbaar Hy aan my ‘n waarheid wat op daardie besondere tyd vir my van groot waarde is.  Hoe diep my dank hieroor!

God praat met my wanneer ek in my soeke na die regte oplossing, die regte weg, skielik voel dat ‘n sekere rigting die regte een is vir my om te volg.

En wanneer ek Hom opsoek diep in my diepste heiligdom, en Sy lig my denke helder verlig, sy liefde my hart vul en sy krag my hernu en verfris, dan ontwaak ‘n lied in my hart, en ek weet:  Hy is die bron van hierdie hemelse melodie – ek is sy geliefde kind, en ek luister!

Gebed:  God praat met my, ek luister en volg Sy lig!

~ Uit Daelikse Woord ~





HARTSEER NUUS





Ek het eergister die hartseer nuus gehoor dat my getroue bullterrier hondekind van 12 jaar oud kanker het.  Dit het vir my gevoel of my wêreld tot stilstand gekom het, want hier op aarde is sy my alfa en omega.  Sy is besig om te herstel van haar blaas operasie en die veearts se prognose is dat sy 'n goeie lewe kan lei vir nou, mits sy nie siek word nie.  Die kanker gewas is verwyder, maar daar is 'n klomp kleintjies wat besig is om nog te vorm.  As van hulle skielik moet groter word, sal hulle probleme veroorsaak met blaasverstopping en sal ons haar moet laat slaapmaak. Eergister, toe ek hierdie tragiese nuus gehoor het, was die tweede hartseerste dag in my lewe.  Die vorige was toe ek my man verloor het aan 'n hartaanval op 25 Februarie 2008.  Van toe af is sy my skaduwee, my bondgenoot en my wag. By haar is daar nie dubbele agendas nie. Sy is wat sy is en gee haar alles en niks minder as dit nie.  Dit is vir sy so treurig dat hierdie gevreesde siekte haar einde moet beteken.





DIE ANTWOORD

‘n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie.  – Jak. 1:6

Al is die uitdaging voor my hoe groot, daar is altyd ‘n plek waarheen ek my kan wend vir ‘n antwoord, en opnuut oortuig kan word dat Gods ordelike plan heers in my lewe, hoe deurmekaar alles ookal skyn te wees.  “Is U daar, Heer?  Kan U my hoor?”  bid ek, net om seker te maak dat Hy wel daar is, en my hoor.  ‘n Rus en vrede wat nie van hierdie wêreld is nie, vul onmiddelik my hart en gemoed.  Dis Hy!  Dit weet  ek, en met die ore van my siel, luister ek na sy sagte stem diep in my wese:

“Ja, my geliefde kind,  Ek is hier, en Ek luister.  Laat jou hart nie ontsteld wees nie, want Ek weet wat jy nodig het, nog voordat jy vra, en omdat jy My kind is in wie Ek ‘n welbehae het, sal Ek toesien dat alles in jou lewe ordelik en volgens plan verloop.

“Niks wat nie van die lig is nie, kan staande bly voor My helder lig nie.  Laat My lig in jou denke duidelikheid bring in elke uitdaging, voor elke eis, en Ek sal jou ‘n wenner maak.  Kyk, Ek bou ‘n muur van lig om jou, en geen aanval van wie ookal, kan jou raak nie.  Onthou, Ek is hier – Ek is altyd hier!”

Gebed:  Ek bid, ek glo, en ek sê dankie dierbare Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 12 March 2012





TROOS

God sal al die trane van hul oë afdroog.  -  Openb. 7:17

Wanneer ons moedeloos sit langs die pad, gebroke en der dae sat – iemand na aan ons is net weg, of het ons diep teleurgestel, dan is daar net Een wat ons waarlik kan vertroos, en dit is ons Heer.

Ons hoef net stil te word, ons binneste heiligdom binne te gaan vir Sy liefde om ons hart binne te vloei, vir Sy lig om ons gedagtes weer Godwaarts te rig, weg van die hart wat so gebroke is – weg van die teleurstelling.

En vloei die trane onkeerbaar – die hart is té stukkend, die emosies té deurmekaar, dan is dit weer Hy wat saggies en, o so teer, die trane een vir een van ons oë afdroog.  Soos helende salf is die wonder-liefde wat Hy op ons uitstort.  In die lig van Sy liefde word die seer minder seer, die wonde minder pynlik.

Dankie, Vader, vir U hemelse liefde ook vir my.  Dankie at U altyd daar is, of ek U nou in die nag of in die dag nodig het, ek weet U is steeds met my – U lei my en rig my, en weet an alles wat ek deurgaan.  Hoe groot die wonder van U liefde, Heer – hoe diep my dank!

Gebed:  Dankie, Vader, ek weet U is net hier by my!

~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday 11 March 2012





GOD EERSTE


Here, U is my lewe.  – Ps. 16:5


Die Here is my lewe, en nooit is ek te besig of te moeg om Hom te loof en te dank vir die wonder van Sy teenwoordigheid in my lewe nie.

“Heer, ek plaas u eerste in my lewe, en omdat ek dit doen, kom net die beste in my na vore – die beste wat ek is in U.  Nader aan my as my beste vriend is U, altyd daar vir my, in my goeie tye en ook in die tye wanneer dit nie so goed met my gaan nie.  U vat my hand, vou my toe in U liefde, onderskraag en lei my elke tree van my weg.  Hoe kan ek U ooit genoeg bedank vir die wonder van U nabyheid en liefde, lig en krag in my lewe?

“U is dit wat oor my waak gedurende die dag.  U verhelder my verstand en stel my in staat om my heel beste te lewer, wat die uitdaging waarvoor ek te staan mag kom ookal mag wees.

“U is die liefde in my hart wat harmonie skep tussen my en elkeen met wie ek vandag te doen mag kry.  U lei my en rig my op al my weë, en aan U bring ek al die lof en eer van ‘n hart tot oorlopens toe vol liefde en danksegging.  Dankie, Heer!”


Gebed:  Dankie Heer, vir die wonder van U nabyheid.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 9 March 2012





LAAT  LOS,  LAAT GOD


Laat U wil geskied.  – Matt. 6:10 OV


Ek mag so seker wees dat dit wat ek dink reg is, dat ek in die pad van Gods volmaakte plan kan staan.  Om seker te maak dat  SY wil geskied, los ek alles in Sy hande en laat Hom oorneem.

Ek laat los.  Ek raak ontslae van alle vooropgestelde idees omtrent mense en gebeure, en laat die goeie op ‘n natuurlik, ordelike manier ontvou.  Ek sien net die mooie en die skone in alles en almal om my, en besef al hoe meer dat Gods plan besig is om te ontvou.

Ek laat Gods liefde deur my vloei.  Deur alles te los en Hom toe te laat om oor te neem in my lewe, maak ek my hart oop vir Sy liefde om dit binne te vloei en tot oorlopens toe te vul.  Hierdie grootse liefde kan gesien word in my handel en my wandel, en maak my vry van enige bande wat ek of andere vir my opgelê het.

Hierdie grootse liefde bring nuwe begrip en verdraagsaamheid in my verhouding met andere.  Dit maak my oë oop vir die mooie in my en om my – dit help my om die lig te sien..


Gebed:  Ek laat los en laat Gods liefde oorneem.


~ Daelikse Woord ~


Thursday 8 March 2012

'n Mooi Vrou Soos Jy






 'n Mooi vrou SOOS JY  is soos gras, groei altyd weer nuut uit as mense dit vertrap het.

Soos fonteinwater, altyd weer helder, NIEMAND kry dit reg om sy modderspore vir altyd daarin te laat nie.Soos rooidag se mooi na die donker nag, so staan sy op, en geen storm kan dit bedreig nie. Soos 'n goeie boom lewer sy goeie vrugte met elke woord wat sy sê - geen gogga kan dit wegvreet nie.


~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~ ~*~


Liewe Vader,

Beskerm asseblief vandag my vriendin, hou haar veilig onder U vlerk, en dankie vir die geleentheid wat ek vandag het om vir haar te kan vertel dat sy  SPESIAAL en KOSBAAR is.  Seën haar en almal wat haar aangaan.   Seën haar ook in haar werk en vir die Vrou wat sy is.  AMEN   









DANK

Dan sal ek die Naam van God besing,  Hom met ‘n danklied prys.
Ps. 69:31

Die vrolike manier waarop ek dankie sê, wys hoe ek God waardeer.  “Dankie Vader, vir U Heilige Gees in my wat my steeds vul met nuwe lewenskrag.  Vandag bly ek deurgaans dankbaar, en sien net die goeie en die mooie raak in my en in my medemens.  Ek weet ‘n bedekte seën skuil in elke uitdaging.  Ek waardeer en sê dankie vir die skoonheid van die natuur om my, en doen my deel om dit te bewaar.  Die lewe van God werk in my en om my en ek sê, dankie, Vader!

“Dankie Heer, vir U seëninge wat elke dag in my lewe ‘n ryke belewenis maak.  Dankie vir die rykmakende idees waarmee U my seën – idees wat my aanspoor, wat liefde bring in my menseverhoudinge, wat my lei na die regte werk vir my, en my seën met finansiële oorvloed.  Dankie vir U lig, liefde en krag wat onaggebroke in en deur my werk, tot seën vir my en vir elkeen met wie ek my lewe deel.

Gebed:  Dankie Heer, vir U liefde en lig in my hart.

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 7 March 2012





VREDE  EN  RUS


Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. 
Jer  29:13  OV


Selfs in die donkerste nag, is daar Een wat my hoop gee,  Een wat woorde van bemoediging saggies vir my fluister:

“Luister na my geliefde. Is jou nag donker, gevul met vrese en kommer, en jy kan maar net nie lig sien nie?  Kyk, Ek is baie nader as wat jy dink. Slegs een gedagte, een gebed is nodig, en jy is by My hier waar ek binne-in jou woon.

Geliefde, soek My en jy sal My vind. Vra met jou hele hart, en die vrede wat net Ek kan gee, sal jou hart en gemoed binnevloei.  Moenie jou las alleen probeer dra nie, want dan word hy baie swaar.  Kyk, Ek wag om dit oor te neem!  Kom, vat My hand, en Ek sal jou toevou in My liefde, nou en vir ewig.  Na waters waar rus is, sal Ek jou heen lei.

Waar jy ookal heen mag reis, hoe groot die uitdaging voor jou ookal mag skyn te wees, Ek is daar. Niks kan ooit die band tussen ons verbreek nie – onthou dit, en maak staat op My.”


Gebed:  Ek soek, en vind, en – Dankie Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 6 March 2012





GENIET DIE LEWE


Julle sal in blydskap … wegtrek en in vrede gelei word. 
– Jes. 55:12


Baie van ons daaglikse verantwoordelikhede mag vervelige roetinetake word.  Ons kan egter besluit om die lewe te geniet selfs daar waar ons besig is om dieselfde dinge oor en oor te doen.  Ons lewe kry sommer ‘n ander kleur as ons elke roetinetakie met vreugde en entoesiasme aanpak.

Die eerste stap tot ‘n gelukkige, vol lewe, is om die goeie en mooi dinge in ons lewe te begin soek, te sien en te waardeer.  Tot die kleinste seëninkie, wat ons andersins gladnie eers sou raakgesien het nie, sien ons nou met dankbaarheid raak.  Dit bring ‘n warm gloed in ons harte en help ons om optimisties te bly.

Om gelukkig en opgeruimd te wees, en ons lewe te geniet, hang nie soseer af van  WAT  met ons gebeur nie, maar  HOE  ons reageer op dit wat  met ons gebeur.  Die besluit berus by ons.  As ons dus ooit verveeld of  moedeloos voel, moet ons net onthou dat ons kan besluit om anders te leef.  En as ons dan besluit om daagliks te put uit die Fontein van vreugde diep in ons wese, sal dit vir ons geen probleem wees om blymoedig voort te gaan nie, wat ookal gebeur.


Gebed:  Ek put uit die Fontein van vreugde.


~ Uit Daelikse Woord ~








GOD MET MY


Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou:  Moenie bang wees nie, Ek help jou.  – Jes. 41:13


Wanneer ek een of ander iets nodig het, konsentreer ek nie op my behoefte nie.  Ek konsentreer op God, want Hy is my hulp in elke nood, die antwoord op elke gebed.  Ek besef dat my Heer met my is, waar ek ookal mag gaan.  Waar ek ry of loop, of dit nou op bekende of onbekende weë is, Hy is met my, altyd besig om my te lei en te beskerm.

Ook my geliefdes laat ek in Sy troue sorg en hou op om my oor hulle te bekommer.  Waar hulle ookal mag woon of werk, ry of loop, ek sien hulle omvou in Sy mantel van lig en weet ook hulle is veilig en beskermd.

As ek ‘n nuwe projek moet aanpak, God is met my. Waar ek werk en waar ek ontspan, God is met my.  Hoe wonderlik is hierdie besef nie!  Ek kan nooit wees waar God is nie.  Net hier waar ek is, is Hy met my, vat Hy my hand en sê Hy vir my:  EK help jou!


Gebed:  Dankie Heer, dat U ook my hand vat.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 5 March 2012





LIG


In U lig sien ons die lig – Ps. 36:10


Heer van my hart, laat U lig helder in en deur my skyn, want dit is die helder strale van U lig in my en om my, wat my lewe betekenis gee.  In die glans van U lig sien ek U weg helder voor my uitstrek, en so seker is ek dat dit die regte weg is, dat ek, sonder om ‘n oomblik te huiwer, die leiding wat ek so kry, volg.

Ek weet – U lig skyn vir ewig, en niks en niemand kan die helder strale daarvan uitwis nie.  Soms kan ek dit nie sien nie, omdat die wolk waaronder ek beland het  te dig is, en alles is duister om my – maar diep in my hart weet ek – die lig skyn voort, altyd helder en duidelik.

Laat U lig deur my skyn, o Heer.  Ek weet dit is nie in my mag om die vlam aan te steek nie, maar ek kan wel die pit van die kers deur my gedagtes in so ‘n toestand hou dat U dit maklik kan aansteek, en U lig helder en duidelik deur die vensters van my siel en lewe kan laat skyn.

Op U vertrou ek Heer, en vry en bly volg ek U lig op my pad.


Gebed:  In U lig, Heer, sien ek die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 3 March 2012




DIE  FLUISTERING

Ons hoor net die gefluister van Sy woorde. Maar die vollle krag van Sy dade, wie kan dit verstaan?
Job 26:14

Wanneer ek my afsonder, en in die stilte wat daar heers my bede rig tot my Heer, luister Hy na my, daarvan is ek baie seker. In hierdie stil tyd saam met Hom neem Hy my hand, en ‘n diep sielevrede vul my gemoed en my hart. Ek weet Hy het my gehoor – ek weet in Sy krag, altyd daar, is ek tot alles in staat.

In diepe ootmoed staan ek voor die volle krag van Sy dade in my uur van nood. Maar wanneer Hy met my praat, is dit nie in ‘n harde donderende stem nie – nee – sag en teer is dit net ‘n fluistering wat my gedagte binneskiet. Ek weet ek moet ag gee op hierdie stil, sagte fluistering, want dit is ‘n hemelse idee wat so my gedagte-wêreld binnekom, en as ek my deel doen, is dit altyd tot my hoogste heil.

Dankie,  Vader, vir U liefde so wonderbaar, ook vir my! U praat, ek hoor, en sonder om te huiwer, reageer ek daarop, en oor my weë skyn ‘n lig!

Gebed: U fluister, ek luister, en oor my weë skyn ‘n lig!

~ Uit Daelikse Woord ~