Saturday 21 July 2012





EERBIED VIR DIE LEWE


Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die mag van God sien nie?  –  Joh. 11:40


Wie van ons staan nie stil voor die wonder van ‘n mooi sonsondergang nie?  Voor ons oë skilder God ‘n meesterstuk in die hemelruim, en die glorie van dit wat voor ons oë afspeel, vul ons met diepe ootmoed.

Hierdie glorie van God is nie net beperk tot ‘n sonsondergang nie.  Dit is oral om ons.  Sien ons, voel ons, hoor ons, die lied van die reëndruppels op die dak?  Sien en ervaar ons die oorweldigend skoonheid en mag van ‘n donderstorm?  Sien ons die liefde van ons hemelse Vader in die sagte, vertrouende glimlag van ‘n kindjie met ‘n gebrek?

Gods lig, Sy liefde en krag is duidelik waarneembaar in alles en almal om ons, en wanneer ons ons oë oopmaak en dit soek, sal ons dit vind, en die eerbied en respek teenoor ons Skepper wat daarmee gepaard gaan, ken geen perke nie.

Laat ons dit dus toon en uitleef teenoor ons naaste, teenoor die lewe self waarvan ons ‘n onafskeidbare deel is.


Gebed:  Hoe groot Gods mag – hoe wonderlik Sy werke!


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 18 July 2012





INNERLIKE  VREDE


Ek het jou nog altyd liefgehad.  -  Jer. 31:3


Hoe kyk ek na myself?  Sien ek my as gebonde en vol gebreke – swakker as wat ek behoort te wees?  As ek egter ‘n poging aanwend om my te sien soos God my sien – Sy geliefde kind, veilig beskermd teen omstandighede of gebeure, vul ‘n diep innerlike vrede my gemoed.

God het my lief net soos ek is.  Ek mag van dag tot dag groei en verander, ek mag faal en struikel, maar Sy liefde vir my staan vas – nou en vir ewig!

Dis ‘n liefde wat ons as mense nie kan peil of meet nie.  So diep en standvastig is dit, dat ek nooit verlore of eensaam voel nie.  Al gaan ek deur ‘n dal van diepste duisternis, God is met my – Hy vertroos en versterk my, en bring rus en diep innerlike vrede vir my moeë siel.

Niemand staan my by in my uur van krisis soos God my bystaan nie.  Hy het my lief – Hy glo ek kan.  Selfs wanneer ek alle geloof in myself en my eie vermoëns verloor het, is Sy liefde nog daar, Sy lig skyn nog en Sy krag hef my weer op.  Op die wieke van Sy liefde bereik ek nuwe hoogtes van vervulling.


Gebed:  Gods liefde bring vrede in my hart en gemoed.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 17 July 2012





LAAT LOS,  LAAT GOD


Wie die wil van God doen, bly ewig lewe.  -  1 Joh. 2:17


Die hoogste doel waarna ons kan streef, is om meer bewus te word van ons geestelike eenheid met ons Hemelse Vader, en dit is dan ook wat ons daagliks doen deur ons tye van stilte en die lees van sy Woord.  Daar kom egter soms tye wanneer ons so vasgevang raak in ‘n krisis, dat dit voel asof ons vir elke tree wat ons voorwaarts neem twee treë agteruit  beweeg.

Hoe sal ons dan ooit weet of ons daarin sal slaag om ons lewens geheel en al in Gods troue sorg te plaas?  Die antwoord hierop is eenvoudig – ons moet net te alle tye, of dit nou goed gaan met ons of sleg, onthou dat ons geliefde kinders van ‘n Hemelse Vader is, en dat ons welsyn vir Hom baie belangrik is – Hy sal ons nooit  begewe of verlaat nie.  Sy wil is altyd tot ons hoogste heil.  God beproef ons, slegs tot groeipunt, nooit tot breekpunt nie.

Met hierdie grootse waarhede in gedagte, laat ons alles net so in Sy bekwame Vaderhande, en al lyk dinge vir ons op die oog af soms hóé verkeerd, ons weet Hy is in beheer, en in vrede laat ons Sy wil geskied.


Gebed:  Ek laat los en God neem oor!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 16 July 2012





INSPIRASIE


Ek is die brood wat lewe gee.  Wie na my toe kom sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo sal nooit weer dors kry nie. – Joh. 6:35


Is ons op soek na iets of iemand wat ons sal help om daardie leë gevoel in ons hart te vul?  Hierdie verlange wat ons voel, is eintlik ‘n verlange van ons siel, en om dit te versadig, moet ons stil word in die gebed – ons moet ons Heer opsoek en in die stil tyd saam met Hom rustig wag vir Sy liefde om ons hart te vul met nuwe lewe en inspirasie – met die brood wat lewe gee.

In hierdie stil tye saam met ons Heer kan ons ‘n insae kry in dinge wat ons nog nooit werklik verstaan het nie.  ‘n Nuwe idee kan by ons posvat wat vir ons en vir almal met wie ons dit deel tot groot seën kan wees.

‘n Siel geïnspireer deur God kan nie onder ‘n maatemmer weggesteek word nie.  Daar sal ‘n helder lig in ons en om ons begin skyn.  Andere sal dit begin sien in ons doen en late, en dit aanvoel en daarop begin reageer, en daardie leë gevoel sal so gevul word met liefde dat ons almal daardeur geseën word.

God seën en inspireer elkeen wat Hom nader, en met ‘n oop gemoed en ontvanklike hart soek ons Hom op.


Gebed:  God seën en inspireer my.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 15 July 2012





VERGIFNIS

Ons almal is menslik en almal kry seer,
ons het almal ons lesse om uit die lewe te leer.
Ons almal wil graag vergifnis hê,
maar dis soms so moeilik net om jammer te sê.
Ons almal het stories van trane en spyt,
ons almal het verhale van liefde en verwyt.
Niemand is perfek nie en almal is nie op die selfde manier mooi nie,
maar onthou, die lekkerste appels is nie altyd rooi nie.

Vergewe en vergeet is soos bitter en soet,
die soet laat jou hart klop en die bitter vergiftig jou bloed. 
Om kwaad te bly maak niemand dood behalwe vir jou nie,
dis nie die moeite werd om dinge teen mense te hou nie. 
Leer om te lewe en ander te laat leef,
leer om na die goeie in die lewe te streef.

Daar is net een van jou, en net een kort kans,
om op die ritme van jou geluk in die lewe te dans. 
Verlos jouself en begin diep binne rond delf,
maak stupid grappies en lag hardop vir jouself.
Daar is beter dinge as rykdom en geld,
al bly jy in n tentjie iewers in die veld.

Dis jou eie keuse om te maak of breek,
kyk bietjie wat jy in jou binneste wegsteek. 
Tel op jou kop, hou jou trane vir 
n ander dag,
dink terug aan goeie tye, en mis dit vir n slag.
Dink aan al die dinge wat jy al behaal het,
en buitendien is dit God wat jou lewe bepaal het.

Voel die verligting van vergifnis in jou are,
voel die speling van gevoel oor jou hart se snare.
Lewe en laat leef, die res kan maar staak,
want dis meer as asem haal, wat in jou lewe saakmaak.... 
'n Mens lewe nie van brood en water alleen nie, en onthou altyd: 
God het jou nie verniet aan die wereld geleen nie!!!







ONS IS DANKBAAR!


Wees bly en juig vir ewig oor wat  Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.  -  Jes.  65:18  (OV)


Om dankie te sê vir dit wat ons reeds besit, is ‘n seker manier om ons sommer weer goed te laat voel. Daarom sê ons elke dag dankie vir die geleentheid om in hierdie wonderlike wêreld deur God geskep, te kan woon en werk.

Ons sê dankie vir die son en die maan en die sterre, en vir hierdie grootse planeet waarop ons leef.  Die lig van die son en die skoonheid van die maan so helder tussen die sterre, herinner ons daaraan dat Gods liefde en krag onbeperk is.

Ons sê dankie vir ons kos, vir ons klere, en vir die tuiste wat ons skuiling bied.  Ons sê dankie vir ons familie, ons vriende en bure, en veral ons Ligvriendekring wat vandag almal so saam kan dankie sê vir die wonder van Gods skepping waarin die mens kan groei en gedy en Hom alleen dien.

Dankie, Vader, vir die voorreg om vandag almal saam so hulde te kan bring aan U!


Gebed:  Dankie, Vader, vir die wonder van U skepping!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 14 July 2012





LEIDING


U is my rots en my bergvesting;  en om U naam ontwil sal U my lei en bestuur.  -  Ps. 31:4


As ek seker is dat ek die regte besluit geneem het, sal ek nie huiwer om dit op te volg nie.  As daar egter die geringste twyfel by my is, kan die besluit wat ek moet neem ‘n nagmerrie word.

Maar hoe weet ek altyd dat die besluit wat ek geneem het wys is en reg?  Die antwoord is dat ek elke dag moet stil word in gebed, en nie net wanneer ek voor ‘n uitdaging te staan kom nie.  Gebed help my om in harmonie met Gods wil vir my te bly.  Ek maak Hom my eie sodat Hy my Syne kan maak, en my elke oomblik van elke dag kan lei in Sy lig en liefde wat die wysheid self is.

Gebed omskep my gedagtes in lig-gedagtes, dit verbreek alle spanning, en daarmee nooi ek My Heer om deel te wees van my lewe en elke besluit wat ek moet neem.

Gebed maak my ook vry van alle emosionele stres en fisiese pyn.  In die gewyde oomblikke saam met my Heer diep in my binneste heiligdom, word ek geseën met  idees wat, as ek dit toepas in my lewe, vir my groot seëninge inhou.  So lei Hy my, so volg ek Hom.


Gebed:  My Heer lei my, en ek volg Hom.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 13 July 2012





VRIENDE


Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.  -  Joh. 15:13  OV


Hoe dikwels groet ons nie iemand met die woorde  “Hoe gaan dit?”  sonder om eers te luister na wat hulle antwoord nie.  Ons mag so besig wees met ons eie dinge, dat daar geen tyd of plek is vir ‘n vreemdeling nie, of selfs die doen en late van hulle wat so na aan ons is nie.

Jesus het gesê dat niemand groter liefde het as dat hy sy lewe vir sy vriende gee nie.  Ons kan ons lewe vir andere gee deur ons eie dinge so ‘n bietjie opsy te stoot sodat ons meer aandag aan hulle kan gee.  So leer ons meer omtrent hulle, hulle suksesse en probleme, en ons kan selfs saam met hulle en vir hulle bid.  Met ons gebede sal ons mekaar steeds ophef, of ons nou saam of alleen bid.

Gebed word nie aan bande gelê deur tyd of afstand nie.  Miskien is daar geen groter liefde om te gee nie, geen beter manier om ‘n vriend te wees vir almal met wie ons te doen het, tuis of by die werk – ons geliefdes, ouers, kinders, bure, vriende en kennisse – as juis om vir hulle te bid nie.


Gebed:  Ek sien jou stralend in die Lig, Liefde en Krag van God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 12 July 2012





BLYDSKAP


Blydskap laat ‘n mens se gesig straal.  –  Spr. 15:13


As ons vrolik en opgeruimd is, skep ons vreugde en geluk so ver ons gaan.  Ons is opgeruimd en vrolik want ons weet die Heer van ons hart heers in ons lewens, en ons weet God is nog in beheer van Sy wêreld en alles daarin.

Om vrolik te wees, beteken ons benader die lewe positief en optimisties.  Ons geniet dit om te lewe en geniet ons samesyn met al Gods kinders wat  saam met ons hierdie aarde bewoon.  Ons geniet hulle geselskap, en hulle geniet ook ons geselskap, want niks is so aansteeklik soos ‘n vrolike hart nie.

Ons blydskap maak elke las lig, vernietig enige kommer en maak elke vriendskap iets heel besonders.  Ons vrolikheid is soos ‘n borrelende fontein wat oorloop en almal wat ons raakloop, binnevloei.

Wat ‘n wonderlike geskenk is vrolikheid vir beide die gewer as die ontvanger nie.  En ons is gewers en ontvangers van blydskap en vreugde, want ons is Gods stralende, gelukkige, vrolike kinders!

Gebed:  Ek is ‘n stralende, gelukkige, vrolike kind van God, en skep vreugde en geluk so ver ek gaan.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 11 July 2012





GENESING


Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.
Spr. 16:24


Hoe goed weet ons dit nie en hoeveel keer herhaal ons dit nie:  Gods lewenskrag pols in my hart en vloei in my are, en ons wéét – dit bring genesing vir heel ons wese.  Vandag is nou nie eintlik ‘n besondere dag nie, maar dit kan vir óns ‘n besondere wees as ons besluit om vandag ‘n dag van genesing te maak.

Vandag is ‘n dag van krag.  ‘n Dag waarop ons oor al die energie beskik wat ons nodig het om te doen wat ons moet doen, en lewenslustig doen ons dit ook.

Vandag is ‘n dag van heling.  Wat ookal die behoefte, ons sien hoe hierdie wonder-lewenskrag elke sel en orgaan binnevloei – ons sien hoe die lig al hoe helderder in ons skyn.  En in hierdei stralende lewenskrag word ons pyne en kwale vervang deur ‘n gevoel van welstand en stralende lewe.

Vandag, die 11de Julie is per slot van sake tóg ‘n besondere dag – ‘n dag waarin Gods lewenskrag wondere laat geskied in ons!


Gebed:  Gods lewenskrag pols in my hart en vloei in my are!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 10 July 2012





GENESING


Ek sal jou gesond maak.  -  Jer. 30:17


Binne-in my is daar ‘n helende krag wat baie sterker is as enige voorkoms van siekte.  Soos die siek vrou die kleed van Jesus aangeraak het en genees is, so raak ek ook die kleed van die Heer van my hart aan on in Sy krag genees te word.

Soos sy met diepe geloof in stilte deur die skare heen beweeg het om by Hom uit te kom, so ook onttrek ek my om stil te word en in diepe gebed my eie diepste heiligdom binne te gaan – daar waar my Heer en Meester woon en waarvandaan Hy werk.

My behoefte hoef ek nie in hierdie oomblik van stilte te noem nie – net soos sy ook nie haar  behoefte genoem het nie.  Ek raak Hom net in stille aanbidding aan en Sy lewegewende krag vloei ongestoord my ganse wese binne.  Elke liggaamsel- atoom en orgaan word daardeur aangeraak en hernu. 

Die lig wat my wese verlig, werp alles duisternis uit.  Die liefde wat my deurvloei, wis alle kommer en sorge uit en bring harmonie en vrede in my gemoed.  Sy krag wat my ganse wese deurstraal, hernu en verkwik my en ek is gesond na gees, siel en liggaam.


Gebed:  Dankie Heer, vir U wonderwerkende krag in my.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 9 July 2012






`*•.•ʚįɞ•´¯`•.¸¸.
**´¨(✿◠‿◠). Skoenlappers sien nie hoe mooi hulle vlerke is nie, maar ons sien dit ...    Jy sien dalk nie hoe mooi mens jy is nie, maar ek sien...   En weet hoe mooi, spesiaal, kosbaar & belangrik jy is ...   Glo dit, droom dit, leef dit & vlieg hoog ...    Jy het alles om te kan!  Onthou jy is beautiful en 'n kosbare pèrel in God se Hand!!





DANKIE  VADER


Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde. – Matt. 11:25 OV


Met ‘n lied in my hart, tel ek my seëninge vandag, en ek sê, Dankie, Vader!

“Dankie vir u Woord, wat my elke dag so sag en tog so ferm, lei op die regte pad vir my – U pad.

Dankie vir ons  aanlyn Ligvriendekring met wie ek saam kan bid en werk en wandel in U lig.

Dankie vir alles in U wêreld wat so mooi is om my.  Help my om dit elke dag nog mooier te maak.

Dankie vir U lewenskrag wat steeds in en deur my werk en straal, en my sterk en gesond maak wanneer ek nie so gesond is nie.

Dankie dat ek in U lig ‘n skeppende vol lewe kan geniet, tuis en by die werk.  In U lig is my optrede altyd wys, en ek handel alles wat ek moet doen met welslae af omdat u altyd daar is om my te help.

Dankie vir nog ‘n dag en week waarin ek my lewe kan geniet, waarin ek ligbring-liefde kan gee en ontvang, en so harmonie skep so ver ek gaan.

Dankie, Heer,  vir hierdie lieflike wintermaand waarin ons is!  Vir die hemel wat sy sluise oopmaak en die aarde  en ons aardlinge seën.

Dankie, Heer, dat u altyd luister na ons gebede en verhoor volgens u tyd, wil en plan.

Elke keer as ek vandag vir iemand dankie sê sal ek ook saggies sê:  “Dankie, Heer!”


Gebed:  Dankie, Heer vir U!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 8 July 2012





LUISTER


Kinders, neem die opvoeding wat ‘n vader julle gee, ter harte;  slaan daarop ag, sodat julle kan leer wat insig is.  -  Spr. 4:1


Geliefde, wees stil en weet Ek is net hier by jou.  Elke oomblik van elke dag is Ek hier, net een gedagte, een gebed ver.  As jy luister met jou hart en met jou siel, sal jy My hoor, en die rus en vrede waarna jy soek , sal jy vind.

Jy kan my nie voel nie, en tog is Ek die krag in jou hande.

In absolute stilte sal jy My ken soos Ek is, en selfs dan sal dit net ‘n gewaarwording en geloof wees.

Tog is Ek hier – altyd en vir ewig is Ek hier aan jou sy.  Ek sal jou behoed en bewaar op al jou weë.  As jy My nodig het, is Ek hier.  Ek hoor en Ek antwoord, en as jy nie meer verder kan nie, is Ek nog steeds hier om jou te dra tot jy weer op jou eie voete kan staan.

As jy eensaam en allenig is, is Ek hier.  Ek is in jou en jy is in My.

Al is jou geloof in My nog so klein, My geloof in jou wankel nooit nie, want …  Ek ken jou, en Ek het jou lief.  Geliefde, hier is Ek.


Gebed:  Help my om altyd te onthou, Heer, U is hier.


~ Uit Daelikse Woord ~ 




Saturday 7 July 2012





WAARDEVOLLE  GESKENKE


Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.
Gen. 1:31


Ons moet nooit bang wees vir die lewe of twyfel aan ons eie waarde nie.  Jesus het gesê: “Kyk na die wilde voëls:  hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie;  julle hemelse Vader sorg vir hulle.  Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”  (Matt. 6:26).

Ons is kinders van die lig – bakens van lig in ons wêreld.  Ons is belangrik, want Sy lewe en lig werk en straal voortdurend in ons, deur ons en om ons, en die Liefde self, naamlik Christus, woon in ons harte.

Omdat ons Sy kinders is, glimlag ons, is ons woorde strelend van aard en luister ons aandagtig na andere.  Ons gee omdat dit vir ons aangenaam is om te gee.  Ons samesyn met ons vriende, medewerkers en familie is vriendelik en openhartig.

Die besef van ons eie waarde kom nie omdat ons trots is op onsself en dit wat ons al bereik het nie.  Dit kom omdat ons ons daarop toelê om ware kinders van die lig te wees, en Sy lig steeds in en deur ons te laat skyn tot heil van ons medemens.


Gebed:  Ek weerspieël Gods lig in my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 5 July 2012





GEBED VIR DIE HUWELIK


Here, dankie dat u van ons sielsgenote gemaak het, dankie dat U ons lewe met hierdie wonderwerk gevul het, Dankie dat ons as sielsgenote mekaar gevind het. Ons vra nou aan u Jesus om ons en ons gesin te seen, Seen met u bloed en oneindige liefde.

Here ons vra dat U u Gees oor ons sal uitstort, dat u vir ons wysheid sal gee, wysheid in oorvloed, wysheid om u huweliks gelofte te verstaan, om dit uit te leef en aan mekaar sal gee soos U dit wil he, wysheid om te verstaan waaroor die huwelik gaan, wysheid om ons pligte as man en vrou te verstaan en dit uit te leef. wysheid en kennis om moeilike omstandighede reg te hanteer.

Jesus ek vra dat u nou in ons huwelik sal inkom, dat u ons sal vryspreek van ons sondes in hierdie huwelik, dat daar geen verwyt, geen haat meer sal wees nie, dat ons mekaar sal vergewe wat ons aan mekaar gedoen het.

Ek vra u Heer in die naam van Jesus Christus, dat u in ons harte sal kom, help ons om mekaar te verstaan en te respekteer, om mekaar te ondersteun in liefde, U altyd eerste te stel en dan vir mekaar en ons gesin tweede, Dat ons nooit weer sal toelaat dat enige iemand of enige iets plek neem bo U of ons huwelik en gesin nie.

Heer, ons weet dat met U aan hoof van hierdie huwelik, daar nogsteeds oomblikke sal wees van swakheid, dat satan dit wat u saamgevoeg het sal probeer uitmekaar skeer, maar ons weet Heer dat u daar sal wees om ons te help en ondersteun, om ons wysheid te gee om elke situasie reg te hanteer, om dit te benader soos U dit sou benader en wou he ons dit moet benader, en dan met liefde in die oe te kyk en dit uit te sorteer.

Dankie Jesus dat ons kan verstaan dat die huwelik gebou word op liefde, liefde vir mekaar, liefde vir onsself en liefde vir ons naaste. Dankie Jesus dat ons weet dat die liefde die grootste en belangrikste deel is van enige huwelik en dat enige probleme wat ons mag he uitgesorteer kan word as die liefde teenwoordig is.

Dankie Jesus dat u vir ons so ‘n groot en goeie voorbeeld gestel het, ‘n voorbeeld hoe om te leef, ‘n voorbeeld hoe om lief te he, en ‘n voorbeeld van ‘n suskesvolle huwelik.

Dankie Jesus dat u nou in ons harte is, dat u ons geseen het,
dat u wysheid in oorvloed aan ons gegee het,
dat u hierdie huwelik met liefde seen!

Dankie Jesus dat ons een geword het in U naam.

Amen


~ deur Jaco van As ~






VRIEND / VRIENDIN


Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken.  -  Spr. 17:17


Hoe ‘n ware vriend het ek nie in Christus, my Heer nie.  Hy is altyd by my, ek kan altyd op Hom staatmaak, en Hy wens my net die beste toe. Hierdie hemelse vriendskap, maak dit vir my moontlik om ook my opregte vriendskap vir my medemens aan te bied.

Om ‘n goeie vriend te wees, put ek uit die liefde van my Heer, waarvan my hart so vol is.  Vriendskap is vir my meer as net vriendelike woorde en oppervlakkige samesyn – ek streef na die moed, die wysheid, die innerlike vrede wat dit vir my moontlik maak om ‘n goeie vriend of vriendin te wees in tye van teenspoed sowel as in die goeie tye in my vriende se lewens.

As ek kyk na die mense wat vir my so baie beteken, mense wat my lewe vol en mooi maak, besef ek waarom God my so seën met vriende.  ‘n Ware vriend raak dieptes van begrip en liefde in my aan, wat geen ander mens kan doen nie.  Hierdie begrip, hierdie liefde en geloof in my, bring die mooie in my na vore, en spoor my ook aan om al hoe meer van dit wat mooi en goed is in my met my medemens te deel.


Gebed:  Dankie Heer, vir U vriendskap wat ook van my ‘n ware vriend maak.


~ Uit Daelikse Woord ~











LAAT LOS LAAT GOD


Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
1 Petrus 5:7


Wanneer ek voel dat die eise wat die lewe aan my stel, meer is as wat ek in staat is om te gee, of meer as wat ek weet hoe om te gee, vestig ek my aandag op die gedagte:  Ek laat los en laat God oorneem.  Hierdie woorde weerspieël my positiewe benadering tot die lewe.

Hierdie bevestiging beteken egter nie dat ek gewillig is om maar net saam met die stroom te dryf nie, wat ookal gebeur.  Om te bevestig "Ek laat los en laat God oorneem" beteken om te reageer op die krag van die Almagtige.  Ek laat los alle kommer en vrese, en werk saam met Gods sterk, lewende, kragtige Heilige Gees in my.

Ek laat los en laat God oorneem.  Met entoesiasme en vreugde bewandel ek die pad van lig, terwyl ek geestelik groei en ontvou.  Ek weet dat God die een krag in die heelal is - die een krag aktief in my, die een krag aktief in die lewens van my geliefdes.

Ek laat los en laat God oorneem.  Alles is wel met my, my geliefdes en my wêreld.


Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem


~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 2 July 2012





HEEL


Na waters waar rus is, lei Hy my heen.  Hy verkwik my siel.  Ps. 23:2-3


Gods Heilige Gees werk voortdurend in my, deur my en om my.  Dit verhelder my verstand en hernu my denke.  Dit wat ek moet onthou, onthou ek met gemak, en die herinneringe wat my ontstel en die lewe vir my minder aangenaam maak, wis ek uit my gedagtes uit.

Die krag van die Heilige Gees hernu my liggaam – dit straal in en deur elke deel daarvan, en elke orgaan, elke spier en ledemaat, word daardeur verkwik en geheel.  Selfs wanneer ek slaap gaan die werke van hierdie Gees voort.  So stil, so sag, werk dit, dat ek nie eens daarvan bewus is nie, en tog – al gaan ek hoe moeg en gedaan slaap, die volgende dag is ek weer vol lewensenergie en krag!

By die waters waar us is, word ek verkwik na gees, siel en liggaam – hoe groot hierdie wonder, en hoe diep waardeer ek nie hierdie werkinge van Gods Heilige Gees in my nie!


Gebed:  Die Heilige Gees hernu my na gees, siel en liggaam – baie dankie dierbare Vader!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 1 July 2012






DIE WÊRELD SO MOOI!


Die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here.  – 1 Kor. 10:26


As ek kyk na die wêreld om my, word ek opnuut geïnspireer deur die skoonheid en wonder daarvan.  Dis ‘n wêreld hierdie deur God geskep, en die skoonheid, balans, orde en krag wat dit weerspieël, getuig daarvan.  Met al my sintuie neem ek Sy skeppende krag om my waar, en ek besef opnuut dat die aarde met alles daarop, aan die Here behoort.

‘n Voël wat die blou lug inskiet, herinner my aan die krag van Gods Heilige Gees in my – my inherente vermoë om uit te blink.

Die wind wat die blare van die bome laat ritsel en die blomme laag wieg, herinner my aan die liefde en krag van God wat my net so vas laat staan soos wat versteekte wortels plante staande hou.

Die krag van ‘n stroompie wat deur my vingers spoel, herinner my aan die immervloeiende helende lewenskrag van God wat steeds in my en deur my vloei.

God is alomteenwoordig en alles op aarde getuig van die wonder daarvan.


Gebed:  Alles op die aarde, ook ek, behoort aan die Here!


~ Uit Daelikse Woord ~