Thursday 5 July 2012





VRIEND / VRIENDIN


Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken.  -  Spr. 17:17


Hoe ‘n ware vriend het ek nie in Christus, my Heer nie.  Hy is altyd by my, ek kan altyd op Hom staatmaak, en Hy wens my net die beste toe. Hierdie hemelse vriendskap, maak dit vir my moontlik om ook my opregte vriendskap vir my medemens aan te bied.

Om ‘n goeie vriend te wees, put ek uit die liefde van my Heer, waarvan my hart so vol is.  Vriendskap is vir my meer as net vriendelike woorde en oppervlakkige samesyn – ek streef na die moed, die wysheid, die innerlike vrede wat dit vir my moontlik maak om ‘n goeie vriend of vriendin te wees in tye van teenspoed sowel as in die goeie tye in my vriende se lewens.

As ek kyk na die mense wat vir my so baie beteken, mense wat my lewe vol en mooi maak, besef ek waarom God my so seën met vriende.  ‘n Ware vriend raak dieptes van begrip en liefde in my aan, wat geen ander mens kan doen nie.  Hierdie begrip, hierdie liefde en geloof in my, bring die mooie in my na vore, en spoor my ook aan om al hoe meer van dit wat mooi en goed is in my met my medemens te deel.


Gebed:  Dankie Heer, vir U vriendskap wat ook van my ‘n ware vriend maak.


~ Uit Daelikse Woord ~







No comments: