Thursday 31 January 2013





ENTOESIASTIES

Nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. 
Hab.  3:18  (OV)

Om entoesiasties te wees, is om gelukkig te wees omtrent die lewe en alles wat dit bied.  Dit is om met entoesiasme elke nuwe dag aan te durf, seker daarvan dat alles ordelik en reg sal verloop omdat God self die stuurman van my lewe is, en waar Hy heers, daar is wondere nooit uitgesluit nie!

Die lig van ons Hemelse Vader is daar om my te lei en te rig, elke tree van die weg wat ek moet wandel.  Geseënd is ek in hierdie lig, en geseënd is elkeen wat vandag my pad mag kruis.

Die liefde van die Seun is daar om my te beskerm, en al is die dag voor my nog onbekend, gaan ek met entoesiasme voort, want waar daar liefde is, is daar geluk, harmonie en vrede.

Die krag van die heilige Gees is daar, en in hierdie grootse krag, vrylik tot my beskikking,  is ek ‘n wenner.   Met soveel lig, soveel liefde en krag – my drie kosbare diamante wat ek kan gebruik tot my eie en my medemens se seën – hóé anders kan ek wees as entoesiasties?   Ja, ek sal jubel en juig in die God van my heil!

Gebed:  Ek jubel en juig in die God van my heil!

~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 29 January 2013





BERG  EN  DAL

Bedaar en erken dat Ek God is.  -  Ps. 46:11

Heer, ek was so ontsteld – so teleurgesteld en seergemaak – ek was sommer ver, ver van hier, vasgevang in die diepste dal voor die grootste berg, en het nie meer kans gesien om een tree verder te gee nie.  Met die steiltes só hoog en dieptes só diep, het ek sommer moedeloos en verlore net daar gaan sit, te ontsteld en kwaad om eers op te kyk.

Maar U was ál die tyd net daar bý my!   Geduldig, met ‘n liefde té groot vir ons kleine ou menseverstandjie, het U sag en teer my hande in U hande geneem – het U liefde ongesiens my hart binnegevloei,  U lig my gedagtes, en ek het stadig weer my hoof gelig.   En wat sou ek sien?   Die lig skyn nog helder oor berg en dal heen – ook oor my!   Die berg is nie meer so groot nie, die dal nie so donker en diep nie!

Stadig staan ek weer op in U krag, en met ‘n liefde en vergifnis wat alle verstand te bowe gaan, verdwyn die berg – sien ek die helder kabbelende stroompie wat vrolik en bly die dal omskep in ‘n towertuin waar my wonde geheel word, en ek weer die ligwese word wat ek is in U.

Gebed:  U Heer, is die wonder in my wat my omskep in ‘n ligwese.

~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 28 January 2013





GENADE

Deur die genade van God is ek wat ek is.   Sy genade aan my was nie tevergeefs nie.  -  1 Kor. 15:10

Hoé pragtig is hierdie teks van vandag net nie!   Wat is ek?   Ek is ‘n kosbare kind van God, ‘n kind van die lig, vry van enige kommer en sorge, vry van inperkende omstandighede, heerlik, stralend vry om te wees dit wat ek in der waarheid is!

Dan sê die teks nog verder,  “Sy genade aan my was nie tevergeefs nie.”   Dit beteken dat ek ín Sy genade en liefde ‘n wénner is in die lewe.   Géén struikelblok is te groot vir my om in Sy krag te oorkom nie, géén teleurstelling te groot om te verwerk nie, géén negatiewe gewoonte of band so sterk dat ek dit nié kan breek nie!

Ek is deel van alles wat mooi en goed is in my en om my, en hierdie waarheid leef ek uit in alles wat ek is en wat ek doen.

Die genade, oftewel liefde van God, help my om die verlede agter my te laat, en nóóit óóit met verlange of spyt terug te kyk nie.   Elke dag is soos ‘n skoon bladsy waarop my dierbare Heer en ek nuwe hoofstukke voeg by die verhaal wat omvou met my as oorwinnaar!

Gebed:  Deur die Genade van God is ek wat ek is.

~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 27 January 2013





NET  HIER  BY  MY

Ek is by julle al die dae.  -  Matt.  28:20

Jesus het gesê: “Soek My op vroeg in die oggend wanneer die dag nog jonk is, en Ek sal daar wees vir jou, gereed om die nuwe dag saam met jou binne te gaan.   Roep My aan laat in die aand, en Ek sal jou toevou in My liefde.”

Soek jy Hom nog op vroeg in die oggend en laat in die aand?   Indien nie, begin sommer dadelik om dit te doen, want ‘n beter metgesel deur die dag sal ons nêrens vind nie – beter beskerming deur die ure van die nag is nêrens beskikbaar nie.   En die seën van hierdie waarheid is só maklik om ons eie te maak!   Ons hoef net die Heer van ons hart op te soek, vroeg in die oggend en laat in die aand, en Hy is daar vir ons!

Deur die nag sal Hy ons nie net beskerm nie, Hy sal ook ons siel verkwik, en ons sal weet, want ons sal met ‘n lied in ons hart wakker word.  En ons sal die versekering hê dat  Hy by ons is deur die dag, want die lied sal ons bybly, óngeag die eise wat aan ons gestel word!

Gebed:  Ek soek U op, Heer, elke dag!

~ Uit Daelikse Woord ~








VERGEWE

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.  -  Kol. 3:13

Wanneer ons op reis gaan, besluit ons wat ons met ons sal saamneem.  Ons sal beslis nie ‘n warm jas na ‘n tropiese eiland saamneem nie.

As reisigers op ‘n pad van lig, wil ons elke mooi dag deur God aan ons geskenk, ten volle geniet.  Om dit te kan doen, moet ons ook besluit wat ons met ons gaan saamneem.   Ons kan ou wrokke, griewe, seer, selfveroordeling en foute uit die verlede met ons saamdra – oortollige bagasie wat ons reis minder aangenaam sal maak.   Dit het ons nie nodig nie!   Hoe nou gemaak?

Daar is net een manier om van al hierdie oortollige bagasie ontslae te raak, en dit is deur die liefde van ons Heer.   Ons gaan ons diepste heiligdom binne en maak ons hart wawyd oop vir Sy liefde om dit binne te vloei, en alles wat nie liefde georiënteerd is nie, sal van ons af wegval soos mis voor die son.   Ons bagasie sal lig wees, ons dag vol en ryk.  Vry en bly sal ons voortgaan met ‘n lied in ons hart, en hope liefde om te gee en te deel met ons medemens.

Gebed:  Vergifnis maak my vry, en liefde maak my bly.

~ Uit Daelikse Woord ~






Friday 25 January 2013





LAAT  LOS  LAAT  GOD

Dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. – Filip. 2:13

Ek laat los.   Ek laat los álle vrees – vrees vir mense, vrees vir die toekoms, vrees dat ek miskien die verkeerde ding mag doen.   Ek laat los twyfel – twyfel aan myself, twyfel aan my vermoëns, twyfel of iemand my liefhet.   Ek laat los enige geloof in wat negatief is, sowel as enige geloof dat die lewe onvriendelik en onregverdig is.   Ek laat los en laat God!

Ek laat God deur my dink, deur my lewe.  Al my gedagtes, al my woorde, alles wat ek doen is in harmonie met Sy lig en liefde.  Ek staan vas in my geloof.   Ek glo in mense en in die goedheid wat die toekoms inhou.  Ek glo dat ek die regte besluite sal neem, die regte stappe sal doen.  Ek glo in myself want ek is ‘n kind van God.  Ek is oop en ontvanklik en in staat om Sy liefde uit te leef.   Ek laat los en laat God!

Ek sien die wêreld en al die mense in die wêreld soos God ons sien – besig om te leer om Sy liefde uit te leef – besig om te wandel in Sy lig.

Gebed:  Ek laat los en laat God!

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 24 January 2013






VOLMAAKTE  WEG

Die weg van God is volmaak.  -  2  Sam.  22:31  (OV)

Dit maak geen verskil wat die situasie mag wees nie, vandag volg ek die volmaakte weg vir my – die weg van God.  Met vertroue en vol moed stap ek voort op hierdie weg, met my oë God-gerig vir die regte leiding.

Ek bid dat Hy vir my sal wys hoe ek die probleme waarmee ek te doen mag kry, kan oplos.  Oor die toekoms bekommer ek my nie, en die verlede bestaan nie meer nie.  Vandag is ‘n helder, nuwe dag, en die lig wat ek vandag nodig het, sal aan my gegee word.

Ek bid dat Sy liefde in my hart my oë sal oopmaak om andere wat soek, met ligbring-liefde te lei na die volmaakte weg vir hulle.

Ek doen wat ek moet doen, en glo dat God my lei, elke tree van die weg, altyd tot my hoogste heil.  Dis ‘n weg hierdie waarop liefde en vriendskap en harmonie groei en bloei, want dit is die weg van God.

Met Gods leiding wandel ek vandag op die weg wat vir my volmaak is – Sy pad van lig.  Vrolik en bly wandel ek op hierdie pad saam met my dierbare Heer, veilig en geborge in Sy liefde, sterk in Sy krag – die volmaakte weg vir my!

Gebed:  Gods pad van lig is die volmaakte weg vir my.

~ Uit Daelikse Woord ~



Wednesday 23 January 2013






WEES  ALTYD  BLY!

Laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel.  -  Ps 5:12

Wat moet ons doen om bly te wees?   Volgens Dawid moet ons by God skuil, en om by God te skuil, is om diep binne-in sy koninkryk te skuil.  En waar is hierdie wonder-koninkryk dan?  Binne-in ons, het Jesus gesê.  Dit is waar ons die vlam van Christus sal vind!

Hoe vind ons dan hierdie koninkryk sodat ons daarin kan skuil?  Deur net stil te wees en vertroue te vind in hierdie koninkryk.  Deur ons liefde en naastediens, vind ons hierdie koninkryk.  Deur enigiets wat ons doen wat goed en mooi en edel is, vind ons hierdie wonder-koninkryk.

En as ons dan hierdie koninkryk gevind het, en ons eie gemaak het, brand die vlam van Christus al hoe helderder in ons gedagtes en in ons hart.  Elke sel en atoom in ons liggaam word daardeur verlig – ons hele liggaam word omskep in ‘n stralende ligwese, en met soveel liefde in ons hart, soveel vreugde in ons gemoed, kan ons nie anders as om te jubel en te juig nie!  Dankie, dankie, dierbare Heer van my hart!   U maak my, o, so bly!!

Gebed:  By U skuil ek, Heer, elke oomblik van my lewe!

~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 22 January 2013





DIE GAWE VAN LEWE

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.  -  Joh. 1:4

Hoe kan ek God óóit genoeg loof en dank vir die wonder-geskenk van lewe wat Hy aan my gegee het?  Vir die wonder-liggaam waarmee ek sy skepping kan raaksien en waardeer – vir die wonder van heel sy skepping om my, wat dit vir my en elke mensekind in staat stel om hier te lewe – om te help om Gods Plan van Liefde en Lig hier te laat seëvier.

Nie om dowe neute het Hy die mens deel van sy skeppingsplan gemaak nie – aan ons elkeen het Hy die verantwoordelikheid gegee om te sorg vir alles wat saam met ons hierdie aarde bewoon.  Maar dóén ons dit – dóén ek dit??  Is my hande vol deernis teenoor andere?  Is my stem sag en strelend wanneer ek met ander om my praat?  Is my lewensbenadering positief en opbouend van aard?  Is ek ‘n positiewe, vrolike mens, wat die lewe vir andere om my ook mooi en aangenaam maak??

As ek tot dusver nie was nie, dan gaan ek dit van nóú af wees!  Teenoor my geliefdes en vriende, maar ook die totale vreemdeling langs die pad en elkeen wat my pad mag kruis.  En ek kán, want God wat my die lewe gegee het, het vir mý ook die krag gegee om die mens te wees wat Hy my geskép het om te wees!!

Gebed:  Ek is Lig, ek is Liefde, en ek is Krag en gaan van nou af vir God bly maak!

~ Uit Daelikse Woord ~






Monday 21 January 2013




JOU NUWE REALITEIT


In Christus ontdek jy jou nuwe realiteit. Om minderwaardig te voel, is ‘n leuen. Siekte is nie jou realiteit nie. Om verwyderd van God te voel en te lewe, is ook nie jou realiteit nie. Dis ‘n vals realiteit. Wat is ‘n mens se realiteit? Dit is dit wat jy as die waarheid en die werklikheid beskou. Maar dit is slegs jou opinie van die werklikheid. Jou persepsie. En persepsies kan en moet verander. Ons is wie God sê ons is. Dis ons realiteit. Nie wat ons ouers en onderwysers en vriende sê nie. In Christus ontdek jy jou ware identiteit en realiteit!


~ Pastoor Hansie Smit ~



YOUR ANGELS OF PROTECTION


 
If YOU read this NOW, you are included in this WORD and 


PRAYER. GOD intended for you to read it. It is for you. GOD

commands HIS angels to PROTECT you. There is someone 

on Facebook who is praying for all of those who read this. It 

is for YOU! I am praying for your breakthrough and provision

in JESUS' Name. Receive your miracle and solution. Jesus 

holds you tight. There is power when we pray with faith for 

each other.



~ Pastor Hansie Smit ~




LEIDING

Die Here sal jou altyddeur lei. -  Jes. 58:11

Christus woon binne-in my, en deur Hom is al die wysheid wat enige mens ooit nodig mag hê, onvoorwaardelik en te alle tye tot my beskikking.  Hoe kan ek ooit genoeg dankie sê vir hierdie grootse wonder my toebedeel, en hoe moet ek te werk gaan om dit te benut?

Die sleutel is om my diepste heiligdom binne te gaan, waar die deur altyd oopstaan vir my.  As ek skielik voor ‘n kruispad te staan kom, met verskillende paaie wat voor my afdraai, is ons Here Jesus die een wat my lei op die regte en die heel beste pad vir my.  Ek stil my vraende, soekende gedagtes en kyk op na Hom.  Nuwe idees vou voor my oop – ek weet wat om te doen, en in Sy goddelike krag doen ek dit.

Hoe eenvoudig of ingewikkeld ‘n probleem ookal mag wees, ek wéét ek kan te alle tye staatmaak op die grenslose wysheid van Hom wat my gedagtes helder verlig.  Hy sal my nooit ooit in die steek laat nie, nooit daarin faal om my begrip te verhelder nie.

Elke dag nader ek vir God vir die moed, die krag en die wil om te reageer op die leiding en inspirasie wat van Hom af kom.

Gebed:  Dankie Heer, dat U my altyddeur lei.

~ Uit Daelikse Woord ~






Saturday 19 January 2013





HOU  AAN

Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.  Ek span my in om by die wenstreep te kom.  -  Filip.  3:13-14

Ek hou aan om aan te hou.   Ek glo aan my eie inwonende Christusgees, en aan my vermoë om gebruik te maak van hierdie Wonder wat in my woon, om my doelwit te bereik.

Ek hou aan om aan te hou.  Ek gee nie in nie, en ek gee ook nie toe aan wanhoop en vrees nie.   Ek soek dit wat goed en reg is, en word gelei elke tree van die weg wat ek moet volg.  Vasberade bly my voete stewig op my pad van lig, en vir elke tree wat my nader bring aan my doelwit, sê ek dankie.

Ek weier om stil te staan en uit te wei oor enigiets wat negatief skyn te wees.  Ek weier om enige gedagte of gevoel te aanvaar wat my mikpunt bedreig.  Ek versterk my gees en steun my moraal met my innerlike voorneme om aan te hou aanhou.

Dit waarna ek streef, kan bereik word.  Daar is ‘n sterk, bekwame Gees in my, en met my oë op Hom, JAAG  EK  NA  DIE  WENSTREEP!

Gebed:  Ek hou aan, en JAAG  NA  DIE  WENSTREEP!

~ Uit Daelikse Woord ~









GELOOFSKRAG

Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.  -  Mark. 9:23  (OV)

Begin ek vanoggend sommer vroeg-vroeg al dink aan al die verantwoordelikhede wat vandag op my wag, en wonder stilweg of ek ooit in staat daartoe sal wees om alles reg en goed na te kom – glo ek dat ek kan?   Maar dan word ek stil voor die Heer van my hart – ek maak Sy krag ook my krag en met moed en durf sê ek:  “Ja, ek kan!”  want ek glo in die krag van my eie inwonende Christus wat my ‘n wenner maak op elke gebied van my lewe.

Wat vandag ookal vir my mag oplewer, ek glo dat alles slegs meewerk tot my hoogste heil, en al lyk die uitdagings soms hóé donker, met God aan my kant, wat is daar om te vrees?  Teëspoed is daar om te leer en te groei, voorspoed is daar om dit wat ek geleer het, uit te leef.

Ek glo vas:  VIR  GOD  IS  ALLES  MOONTLIK,  (Matt. 19:26), en wonder-vervulde moontlikhede gaan voor my oop in Sy heerlikheid, liefde en lig – vir my, en vir almal om my.

Ek glo, ja, ek sal aanhou glo in God wat oor alles heen heers!

Gebed:  Ek glo, en alles is moontlik!

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 17 January 2013





‘N VROLIKE HART

‘n Vrolike hart maak die aangesig bly.  -  Spr. 15:13  (OV)

Dierbare Heer van my hart, hoe bly maak dit my net nie om te weet dat U lewe, U liefde en blydskap is altyd daar vir my.   Dit is binne-in my – ‘n nimmereindigende fontein om uit te skep.

U maak my hart vrolik en bly, Heer, en in my gesprekke met andere, in my woorde en in my dade gaan ek U blydskap so diep in my hart, oordra aan elkeen met wie ek te doen mag kry.  Met woorde wat ophef en seën, U woorde Heer, gaan ek vandag ‘n baken van lig wees so ver ek gaan.

Maar, dierbare Heer, ek weet daar gaan tye kom wat ek miskien nie baie gelukkig gaan wees oor iets wat gebeur het nie, en vir ‘n wyle sal dit voel asof die lied in my hart stil geword het.  Maar dan word ek stil.   Stil gaan ek dan my diepste heiligdom binne, en daar gee ek alles wat die vrolikheid demp net so oor aan U, en ek sal daar bly Heer, tot my hart weer ‘n vrolike lied begin sing.

Ja, ek het ‘n vrolike hart wat deur alles in my lewe heen sing.  ‘n Vrolike hart omdat ek U ken op al my weë, Heer – en dit maak my aangesig bly!

Gebed:  My vrolike hart maak my aangesig bly – dankie, dierbare Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~






Tuesday 15 January 2013





GOD  IS


Daar is net een … God en Vader van almal:  Hy wat … in almal woon.  -  Ef. 4:5,6


Omdat God is, is ek, want na sy beeld en gelykenis het Hy die mens geskep.

God is Lig, en in sy Lig is ek ‘n lig-mens.

God is Liefde, en in sy Liefde is ek ‘n omgee-mens.

God is Krag, en in sy Krag is ek ‘n wenner!

God is die bron van lewenskrag wat pols in my hart en vloei in my are – en ek is sterk en gesond.

God is die wonder in my wat my omskep in ‘n geestelike wese, wat my laat groei en gedy tot ek nie meer net sy kind is nie, maar ‘n volwasse seun of dogter wat meewerk om Sy koninkryk ‘n werklikheid te maak op hierdie aarde.

God is my Krag, my Liefde en my Lig – hoe groot die wonder – hoe diep my dank!

Mag ek nooit die wonder van my mens-wees in Hom enigsins skade aandoen of afbreek nie, maar altyd die baken van lig wees wat ek is in Sy Heerlikheid, Liefde en Lig!


Gebed:  God is my Krag, my Liefde en my Lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 14 January 2013





EK  IS

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.  -  Joh. 14:6

Geliefde,  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”   Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.   Ek is die waarheid van jou wese.   Volmaakte lewenskrag en ewige rus en vrede, dit bied Ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.   Ek is die lig wat jou lei.   Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.   Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit van mekaar verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.   Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.

Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday 13 January 2013





VREDES  GEBED


God wat vrede gee, sal by julle almal wees!  -  Rom. 15:33


Dierbare Hemelse Vader, laat daar vrede op aarde wees.  Laat alle mense oraloor U liefdevolle vredegewende teenwoordigheid aanvoel.  Laat elke man, vrou en kind U oorvloedige voorsiening ervaar.  Laat elkeen van U kinders opnuut die waarheid besef van ons inherente geestelike identiteit en erfenis.

Heer, laat U Gees van samewerking en vertroue die hoeksteen wees van onderhandelinge tussen die nasies van die wêreld.  Laat elke land tekens van begrip en aanvaarding toon.  Laat alle mense die eenheid van gees wat ons bind, waarlik sien.

Liefdevolle Vader, laat vrede in die wêreld by my begin.  Laat ek afsien van bevooroordeelde denke en valse oordeel.  Laat samewerking en vertroue die hoeksteen van my lewe wees.  Laat U Heilige Gees van liefde en vrede in my wedergebore word en laat my liefde en vrede uitstraal in die kring waarin ek beweeg.


Gebed:  Laat lig en liefde en krag U plan op die aarde herstel!


~ Uit Daelikse Woord ~









Saturday 12 January 2013





GELOOF

Want  nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.  -  1 Kor. 13:12  (OV)

Hoe waar is hierdie woorde nie!   Ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel, sover dit ons eie belange, ons land of ons wêreld se belange aangaan en ons wonder … en soms begin ons twyfel en word dan bang vir die toekoms.

Maar hierdie soort gedagtes en gevoelens is totaal onaanvaarbaar vir ons as kinders van God.   En ons wéét wat die antwoord is op hierdie raaisel.  Ons moet net bid en glo dat God in beheer is, want Hy IS – dit is Sy wêreld waarin ons woon.  Ons moet glo in Gods werke en planne daar waar ons nie kan sien nie, want niks ontgaan God se oë nie.  Ons geloof in die dinge wat ons nie kan sien met ons mense-oë of nie kan verstaan met ons mense-brein nie, is een van die kragtigste maniere om die deur oop te hou vir die Krag van God om sy werke te doen.

In ons gedagtes is daar geen oplossings nie, net verwarring en gevaar, maar in Gods magtige gedagtes lê die Plan en Oplossing duidelik en helder, en met ons geloof hou ons die deur oop vir Hom om sy wonder-werke te doen, in ons en deur ons, deur hierdie boodskap uit te dra na elkeen wat ons pad kruis met angs vir die toekoms in hul harte. Verseker hulle maar net dat God in beheer is, want hy IS!

Gebed:  Ek bid, ek glo, en die Plan van God sal seëvier.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 10 January 2013





‘N  SEËN


Jy moet  tot ‘n seën wees.  -  Gen.  12:2  (OV)


Here, in die stilte van hierdie môre-uur kom ek na U toe vir vrede, vir wysheid en vir krag …


om die wêreld vandag te sien deur oë vol liefde,
en geduldig, begrypend en sag te wees.
Om deur die voorkoms van dinge te kyk,
en U kinders te ken soos U hulle ken,
en dus in hulle niks anders behalwe die mooie te sien nie.
Maak my ore doof vir skinderpraatjies,
weerhou my tong van die onvriendelike woord,
en laat net seënende gedagtes in my woon.
Laat my so vol blydskap wees, so vriendelik,
dat almal naby my U teenwoordigheid aanvoel.
Beklee my in U skoonheid Heer, dit is my gebed.
Laat U Liefde, Heer, U Lig en Krag,
vandag in en deur my werk en straal,
tot sëen van andere.


Gebed:  Maak my vandag U seën, o Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~