Saturday 5 January 2013





GELOOF


As julle maar geloof  het so groot soos ‘n mosterdsaadjie.  -  Matt.  17:20


Ons bid, ons vra, en dan móét ons glo, al is ons geloof net so groot soos ‘n mosterdsaadjie.  Dit het Jesus tog gesê.  Nou wáár ís ons geloof dan?  Waar is die berg wat ons kan versit?

Diep binne-in ons hart is dalk so ‘n berg.  ‘n Berg waarvan net ons en ons eie innerlike Christus-self weet.  Is daar dan ‘n beter manier om hierdie berg te oorkom as met die hulp van Hom wat in ons woon en presies weet waaroor alles gaan?  En as ons dan alles in Sy hande gelaat het, en glo in Sy werke daar in die stilte waar ons mense-oë nie kan sien nie, en onwríkbaar glo tot die geloof ‘n seker wete word, dan sál die berg wegskuif – ons sál weer vry kan asemhaal!

Dierbare Heer van my hart – net U weet van die probleem – U weet van hierdie berg wat ek moet oorkom – U ken my só goed, en weet ook presies wat vir my en my geliefdes die beste oplossing sal wees.  Kom, dierbare Heer, híér is die probleem.  Ek plaas dit nou in U Vaderhande en ek sê byvoorbaat  báie dankie want ek wéét, waar U werk, dáár word berge verskuif!


Gebed:  In U Heer, én die wonder van U werke, glo ek met my héle hart, siel en verstand!


~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: