Tuesday 8 January 2013






EEN MET GOD

Ons sal … in alle opsigte groei na Christus toe.  -  Ef.  4:15

‘n Sakeman is gevra waarom hy ‘n vakansiedorp in die stilte van die winter besoek het.   Hy het geantwoord: “Ek het gekom om my houding aan te pas.”

Sonder nou tyd af om jou houding aan te pas – om te groei na die Here Jesus Christus toe.

Maak jou oë oop vir alles wat mooi is.  Sonder ‘n oomblik af om van naby na die eenvoudigste blommetjie te kyk, jou te verluister na die minnelied van hadeda voëls in die vroegaand, tel ‘n skulp op en luister weer ‘n slag na die “gedruis van die see”.  Kom in harmonie met die gedreun van die golwe, die gezoem van die bye en die skaterlag van kinders. Gaan sit op die sypaadjie, trek jou skoene uit en hou jou voete in die koel water – nooi iemand wat verbystap om dieselfde te doen en met jou te kom sit en gesels!

Sien die goeie in jou buurman, in sy glimlag; sien sy vriendelikheid, sy liefde vir sy gesin.  Sien die goeie in almal, want almal het goeie kwaliteite – ons is almal geskape deur ‘n Volmaakte Hemelse Vader!  Soek in jou gedagtes na woorde van liefde en goedheid, en gebruik hulle om jou familie en vriende en kennisse te seën, sommer ook die verflenterde werklose man of vrou langs die pad – daar is baie van hulle as ons net kyk met oë wat sien!

Bid en ontvang die waarheid wat in die stilte aan jou openbaar word.  Besef dat jy één is met álles wat goed is, wat waar is, wat mooi is in die heelal, want ons is almal verbind met mekaar deur een Skepper God en een met Hom.  Jy lewe ín Hom en Hy lewe in jou!

Gebed:  Ek kyk, ek sien, en is één met God!




No comments: