Thursday 17 January 2013





‘N VROLIKE HART

‘n Vrolike hart maak die aangesig bly.  -  Spr. 15:13  (OV)

Dierbare Heer van my hart, hoe bly maak dit my net nie om te weet dat U lewe, U liefde en blydskap is altyd daar vir my.   Dit is binne-in my – ‘n nimmereindigende fontein om uit te skep.

U maak my hart vrolik en bly, Heer, en in my gesprekke met andere, in my woorde en in my dade gaan ek U blydskap so diep in my hart, oordra aan elkeen met wie ek te doen mag kry.  Met woorde wat ophef en seën, U woorde Heer, gaan ek vandag ‘n baken van lig wees so ver ek gaan.

Maar, dierbare Heer, ek weet daar gaan tye kom wat ek miskien nie baie gelukkig gaan wees oor iets wat gebeur het nie, en vir ‘n wyle sal dit voel asof die lied in my hart stil geword het.  Maar dan word ek stil.   Stil gaan ek dan my diepste heiligdom binne, en daar gee ek alles wat die vrolikheid demp net so oor aan U, en ek sal daar bly Heer, tot my hart weer ‘n vrolike lied begin sing.

Ja, ek het ‘n vrolike hart wat deur alles in my lewe heen sing.  ‘n Vrolike hart omdat ek U ken op al my weë, Heer – en dit maak my aangesig bly!

Gebed:  My vrolike hart maak my aangesig bly – dankie, dierbare Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~






No comments: