Thursday 31 January 2013





ENTOESIASTIES

Nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. 
Hab.  3:18  (OV)

Om entoesiasties te wees, is om gelukkig te wees omtrent die lewe en alles wat dit bied.  Dit is om met entoesiasme elke nuwe dag aan te durf, seker daarvan dat alles ordelik en reg sal verloop omdat God self die stuurman van my lewe is, en waar Hy heers, daar is wondere nooit uitgesluit nie!

Die lig van ons Hemelse Vader is daar om my te lei en te rig, elke tree van die weg wat ek moet wandel.  Geseënd is ek in hierdie lig, en geseënd is elkeen wat vandag my pad mag kruis.

Die liefde van die Seun is daar om my te beskerm, en al is die dag voor my nog onbekend, gaan ek met entoesiasme voort, want waar daar liefde is, is daar geluk, harmonie en vrede.

Die krag van die heilige Gees is daar, en in hierdie grootse krag, vrylik tot my beskikking,  is ek ‘n wenner.   Met soveel lig, soveel liefde en krag – my drie kosbare diamante wat ek kan gebruik tot my eie en my medemens se seën – hóé anders kan ek wees as entoesiasties?   Ja, ek sal jubel en juig in die God van my heil!

Gebed:  Ek jubel en juig in die God van my heil!

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: