Friday 19 June 2015

Vrese





Here,

U weet hoeveel vrese daar
nog in my lewe oorbly al
weet ek heel goed dat U my liefhet,
dat U vir my sal sorg
en my sal beskerm.
Here, gee dat die dinge
waarvoor ek bang is
tog nie met my sal gebeur nie.
Gee my u volmaakte liefde
wat alle vrees sal uitdryf
sodat ek net van u arms om my
bewus sal wees.

Dankie dat ek kan weet dat,
hoewel ek nie in die toekoms kan sien nie,
U in beheer van daardie toekoms is,
dat U my sal sterk maak,
my krag sal gee en veilig sal bewaar –
omdat U my liefhet. 
Maak dit vir my moontlik om vreesloos
te kan lewe,
om, wanneer ek bang raak,
net dieper te delf in u liefde vir my.

Dankie dat die koms
van u Seun na die wêreld
finaal ‘n einde kom maak het
aan die heerskappy van vrees.
Gee dat ek U so sal liefhê
dat daar in my lewe geen plek
vir vrees sal oorbly nie.
Here, vrywaar my van vandag af teen alle vrees
deur u Gees wat in my woon.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!









Met ‘n Rede


Lees Efesiërs 2:10-13


“God het ons gemaak wat ons nou is:  in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”  -  Ef. 2:10


Wanneer jy die Here as jou verlosser aanneem, word jy ‘n nuwe mens in Christus.  En hierdie nuwe mens is met ‘n rede op die aarde geplaas:  om die pad te loop wat God self in sy Woord vir ons uitgestippel het.

Dit beteken geensins dat jy nou goeie dade moet doen sodat jy gered kan word nie.  Inteendeel, jy het ‘n geskenk – jou redding – ontvang, en nou doen jy goeie dade omdat jy die geskenk ontvang het en dankbaar is daarvoor.

Jy is in sonde ontvang en gebore.  Vir jou wag die dood as straf op jou baie sonde.  Maar Jesus het vir jou gesterf sodat Hy jou sondeskuld in jou plek kon betaal.  ‘n Groter geskenk as dit kan niemand jou aanbied nie.  ‘Van geboorte was julle heidene ... Maar nou is julle een met Christus Jesus.  Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus,”  skryf Paulus in Efesiërs 2:11-13.

Wanneer iemand vir jou ‘n groot geskenk gee of iets spesiaals doen, wil jy graag ook vir hom of haar iets gee of doen om jou waardering te wys.  God het sy Seun prysgegee sodat jy vir altyd kan leef.

Doen jy elke dag die goeie dinge waarvoor God jou bestem het om só vir Hom dankie te sê vir jou verlossing?

Hemelse Vader, hoe kan ek dankiesê vir u groot genade en u liefde vir my?  Ek wil dit graag doen deur van nou af al daardie dinge te doen waarvoor u my bestem het.


Nina Smit  :  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


Saturday 13 June 2015

Here, ek is so geneig om ander mense te kritiseer





Here,

Ek is so geneig om ander mense te kritiseer
en vir hulle kwaad te word wanneer
hulle dieselfde dinge doen
wat ek in my eie lewe probeer toesmeer.

Leer my asseblief om heel eerste
my eie foute raak te sien
en iets daaromtrent te doen
voordat ek ander mense se foute
uitlig en buite verhouding opblaas.
Vergewe my dat ek aan ander mense
veel hoër eise stel as aan my self.

Help my om ook teenoor my geliefdes
verdraagsaam te wees wanneer
hulle dieselfde foute maak as ek.
Maak my vergewensgesind
sodat ek elke keer bereid sal wees
om ander mense hulle foute te vergewe
soos wat U elke keer my sondes vergewe
wanneer ek U daarom vra.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


Digby Jesus





Digby Jesus .........


Lees Johannes 15:1-8


“Ek is die wingerdstok, julle die lote.  Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,want sonder My kan julle niks doen nie.” – Joh. 15:5


Jesus is die ware wingerdstok, het Hy vir sy dissipels vertel.  Net dié wat in Hom bly, sal vrug kan dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
“Stel julle dit goed voor:  Ek is soos die druiwestok;  julle is soos die takkies.  Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie.  Net so beteken julle ook niks sonder My nie.  Leef elke oomblik in afhanklikheid van My.  Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees.  So sal julle vir God ‘n vrugbare lewe kan lei.”  Só lui Die Boodskap se vertaling van Johannes 15:5.

Iemand wat nié in ‘n intieme verhouding met Jesus Christus staan nie, sal nie vir God vrug kan dra nie.  Jy self moet egter kies of jy verbonde aan Christus, onder God se genade, wil leef of nie.  Vir dié wat naby aan Jesus leef en sy boodskap onlosmaaklik deel van hulle lewe maak, belowe Hy dat hulle alles sal kry wat hulle van Hom vra: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh. 15:7).

Genade, só het ons reeds ontdek, beteken om te kry wat jy nié verdien nie.  Wanneer jy naby aan Jesus leef en Hom gehoorsaam, aanvaar jy die genade wat Hy tot jou beskikking stel, en jy sal kry wat jy in gebed van Hom vra – alhoewel jy dit nie verdien nie.
Maak seker dat jy elke dag in afhanklikheid digby Jesus Christus leef.


Here Jesus, ek wil so graag digby U leef, met u woorde in my, sodat ek vir U vrugte kan dra.


Nina Smit  :  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart

  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

Sunday 7 June 2015

HERE VERGEWE MY TOG





Here,

Vergewe my tog
dat ek so geneig is om te wanhoop
eerder as om op U te hoop,
dat ek die afgelope tyd
die situasie in ons land, in die wêreld,
met negatiewe gevoelens bekyk.
Ek is jammer, Here.

Sal U my asseblief leer hoe om
van voor af op U te hoop,
om vandag positief te lewe
en ook die mense rondom my
positief te beïnvloed sodat
hulle sal weet dat daar altyd nog hoop is
omdat ons ‘n God het wat Hom
in die onmoontlike verlustig.

Help my om te werk
aan my gesindheid van negatiwiteit ...
Om vandag te werk en te hoop
sodat ek môre die vrugte kan pluk.
Om vandag te lewe en te hoop
sodat ek môre nog beter kan lewe.

Hou my hoop helder, Here,
omdat U self die Bron
van daardie hoop is.

Amen

Uit Nina Smit Versameling  :  Veilig in God se Hand / In God se Omhelsing

  :  Jesus se Dogterkind @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!

VROLIK EN BLY





Ek wil die Here loof met my héle hart.  -  Ps. 9:2  (OV)

Vrólik en bly, met ‘n liéd in my hart, hand aan hand sáám met my Heer, gaan ek vandag voort op my hélderverligte pad.

Maar wáárom is ek so gelukkig en bly??  Waarom sing my siel binne-in my?  Ómdat ek élke oomblik van élke dag leef in die liéfde en líg van my Heer, en álles  wat ek doen in Sý krag – waaraan daar géén einde is nie, doen.

Hóé kry ek dit reg om élke oomblik van élke dag in Hóm te leef en te beweeg?  Ek begin om my seëninge te tel en dánkie te sê daarvoor! Sódra ek die Here begin loof en dank met my héle hart, begin my síél sing en my léwe word ‘n plesier.

My gemoed is  óóp en ontvánklik vir die leiding van God, Sý lig skyn hélder voor my uit en met óórgawe en vréúgde volg ek Sy leidende lig – en dien en éér ek Sý wil vir my.

In my hándel en my wándel lóóf ek die Here met my héle hart.  My medemens sien dit raak en word óók daardeur geseën en opgehef.

Gebed:  Ek loof die Here met my hart, siel én liggaam en my héle wese getuig daarvan!

~ Uit Daelikse Woord ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige , alleen die eer!