Saturday 13 June 2015

Digby Jesus





Digby Jesus .........


Lees Johannes 15:1-8


“Ek is die wingerdstok, julle die lote.  Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,want sonder My kan julle niks doen nie.” – Joh. 15:5


Jesus is die ware wingerdstok, het Hy vir sy dissipels vertel.  Net dié wat in Hom bly, sal vrug kan dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
“Stel julle dit goed voor:  Ek is soos die druiwestok;  julle is soos die takkies.  Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie.  Net so beteken julle ook niks sonder My nie.  Leef elke oomblik in afhanklikheid van My.  Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees.  So sal julle vir God ‘n vrugbare lewe kan lei.”  Só lui Die Boodskap se vertaling van Johannes 15:5.

Iemand wat nié in ‘n intieme verhouding met Jesus Christus staan nie, sal nie vir God vrug kan dra nie.  Jy self moet egter kies of jy verbonde aan Christus, onder God se genade, wil leef of nie.  Vir dié wat naby aan Jesus leef en sy boodskap onlosmaaklik deel van hulle lewe maak, belowe Hy dat hulle alles sal kry wat hulle van Hom vra: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh. 15:7).

Genade, só het ons reeds ontdek, beteken om te kry wat jy nié verdien nie.  Wanneer jy naby aan Jesus leef en Hom gehoorsaam, aanvaar jy die genade wat Hy tot jou beskikking stel, en jy sal kry wat jy in gebed van Hom vra – alhoewel jy dit nie verdien nie.
Maak seker dat jy elke dag in afhanklikheid digby Jesus Christus leef.


Here Jesus, ek wil so graag digby U leef, met u woorde in my, sodat ek vir U vrugte kan dra.


Nina Smit  :  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart

  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

No comments: