Saturday 31 December 2016

Oujaardag Gebed








Oujaarsdag Gebed


Hemelse Vader
 

Die jaar se asem is bykans op. 2016 is amper verby. Teen die spoed van een dag op ’n slag het 2016 voor ons oë verbygesnel.

Ons dank U, Here, dat U op wie weet hoeveel maniere gedurende die afgelope jaar in ons midde aanwesig was:

 Toe dit donker was, het U u hemelse lig laat skyn.

Toe slegte nuus in die omgewing was, het Jesus se Goeie Nuus opgedaag.

Toe geweld en chaos gedreig het om oor te neem, het u vrede getriomfeer.

Toe moed en hoop weggesyfer het in die sand, het die hoop wat U bring, in ’n paar harte bly brand.

Op wonderlike maniere het U u vingerafdrukke op ons lewens agtergelaat in 2016:

 Toe ons gepleit het, het U op u eie maniere ons gebede verhoor.

Toe ons brood by die hemel gaan bedel het, was Christus ons nogmaals genadig en het Hy van voor af met ons begin.

 Toe ons dors was, was Lewende Water altyd in die nabyheid.

O Here, U was en is steeds net een gebed ver.

En nou wink 2017. Ons weet nie wat alles vir ons voorlê nie, maar ons weet U sal in die nuwe jaar met ons wees. Daarom dat ons 2017 kan omhels. Ons is nie alleen nie. Ons is nie soos mense sonder hoop nie. Alles en behalwe. Ons is u duurgekoopte eiendom. Tree vir tree loop ons saam met U, wat die Pad en die Eindbestemming is. In u Naam durf ons reuse aan en loop ons deur groen weivelde.

Dankie dat U ons hoop is!


Amen



~ Stephan Joubert ~





 


OUJAARSDAG!







OUJAARSDAG! 

deur Nina Smit


Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap.  -  Psalm 90:14-15


Vandag is dit die heel laaste dag van die ou jaar.  Dit is ons almal se wens dat die jaar wat voorlê gelukkig sal wees. Môre sal ons dan ook almal vir mekaar voorspoedige nuwe jaar toewens.  Hierdie Nuwejaarsgroet het ‘n sonskynperspektief. God wil hê sy kinders moet gelukkig wees, Hy wil vir hulle sy omgeeliefde kom aanbied.


Dit is my wens vir jou dat jy in die jaar wat voorlê elke dag met hierdie liefde omvou sal word, dat jy God se hand elke dag in jou lewe sal raaksien. Omdat God jou liefhet, kan jy hoop dat die jaar wat kom vir jou ‘n jubeljaar sal wees, al was dié een wat byna verby is vol seerkry en swaarkry. Al is jy nie gevrywaar van pyn en teleurstellings nie, kan jy weet dat God dieselfde sal bly in die jaar wat voorlê, dat Hy daar sal wees in seerkrytye, dat Hy van elkeen van jou trane weet.


Vandag wil God vir *jóú* kom sê as jy dalk moeg en gedaan raak: “Kom na My toe, by My is rus.”  Hy wil jou beskerm in die jaar wat voorlê, jou gelukkig maak, jou dag na dag dra en vir jou sy liefde elke dag in oorvloed skenk.


Here, ek loof U dat U elke dag van die jaar wat verby is by my was, dat U my deur swaarkrytye en tye van blydskap gedra het. Doen dit asseblief ook vir my in die jaar wat voorlê.  Amen


(Baie dankie aan Doreen October wat hierdie kosbare boek aan my geskenk het en waarvan elke letter altyd nuut sal bly!  Jy is ‘n baie kosbare juweel van ons Heer Doreen!!)


Koningsdogters vir Jesus Bediening / Facebook





Tuesday 20 December 2016

Die wyse manne uit die Ooste







Die wyse manne uit die Ooste

En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.
En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die vol bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.
En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa want so is daar deur die profeet geskrywe:
En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.
Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys. En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.
En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.
En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.


Matt. 2:1-12 (1933/1953 Vertaling)




Die skaapwagters en die engele.






Die skaapwagters en die engele.

Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle die goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is die Verlosser vir julle gebore in die stad van Dawid: Christus die Here! En dit is vir julle die teken: Julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:

 “Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Bethlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”
Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê. Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het.  Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Lukas 2:8-20 (Die Blye Boodskap) 



 


Monday 19 December 2016

Jesus Christus se Geboorte ♡







Jesus Christus se Geboorte


Terwyl hulle (Josef en Maria) in Bethlehem was, het haar tyd om moeder te word, aangebreek. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.



Lukas 2:6-7 (Die Blye Boodskap)