Saturday 31 December 2016

OUJAARSDAG!







OUJAARSDAG! 

deur Nina Smit


Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap.  -  Psalm 90:14-15


Vandag is dit die heel laaste dag van die ou jaar.  Dit is ons almal se wens dat die jaar wat voorlê gelukkig sal wees. Môre sal ons dan ook almal vir mekaar voorspoedige nuwe jaar toewens.  Hierdie Nuwejaarsgroet het ‘n sonskynperspektief. God wil hê sy kinders moet gelukkig wees, Hy wil vir hulle sy omgeeliefde kom aanbied.


Dit is my wens vir jou dat jy in die jaar wat voorlê elke dag met hierdie liefde omvou sal word, dat jy God se hand elke dag in jou lewe sal raaksien. Omdat God jou liefhet, kan jy hoop dat die jaar wat kom vir jou ‘n jubeljaar sal wees, al was dié een wat byna verby is vol seerkry en swaarkry. Al is jy nie gevrywaar van pyn en teleurstellings nie, kan jy weet dat God dieselfde sal bly in die jaar wat voorlê, dat Hy daar sal wees in seerkrytye, dat Hy van elkeen van jou trane weet.


Vandag wil God vir *jóú* kom sê as jy dalk moeg en gedaan raak: “Kom na My toe, by My is rus.”  Hy wil jou beskerm in die jaar wat voorlê, jou gelukkig maak, jou dag na dag dra en vir jou sy liefde elke dag in oorvloed skenk.


Here, ek loof U dat U elke dag van die jaar wat verby is by my was, dat U my deur swaarkrytye en tye van blydskap gedra het. Doen dit asseblief ook vir my in die jaar wat voorlê.  Amen


(Baie dankie aan Doreen October wat hierdie kosbare boek aan my geskenk het en waarvan elke letter altyd nuut sal bly!  Jy is ‘n baie kosbare juweel van ons Heer Doreen!!)


Koningsdogters vir Jesus Bediening / Facebook





No comments: