Saturday 10 December 2016

Twaalfuur 1








TWAALFUUR 1


Toe ons kinders was, het ons ‘n speletjie gespeel nl. Wolf, Wolf, Hoe Laat Is Dit? Een van die maats het die wolf voorgestel en vooruit gestap met sy rug op die ander maats gekeer. Die ander kinders het dan agterna gekom en al roepende gevra: “Wolf, Wolf, hoe laat is dit? Dan het die Wolf ‘n tyd geskree: “Nege-uur!” So het die maats aanhou vra: “Wolf, Wolf, hoe laat is dit?” Die tyd het al nader na twaalfuur geskuif. Wanneer hy onverwags “twaalfuur” skreeu, het die wolf omgespring en die naaste een wat onbedag was, gevang. (Die laaste keer wat ek hierdie speletjie gespeel het, sal ek nie vergeet nie, want ek het my arm daardie dag gebreek / gekraak – dit net so voor ek Sub – A toe moes gaan.)
Iets soortgelyk glo ek, sal die koms van Jesus op die wolke vir Sy bruidsheiliges wees.

DIT SAL ONVERWAGS WEES

Sewe keer gebruik die Skrif die voorbeeld dat die Here Jesus sal kom soos ‘n dief in die nag. (Mat. 24:23; Luk. 12:39; 1 Thess. 5:2; 1 Thess. 5:4; 2 Pet. 3:10; Open. 3:3; Open. 15:16). Soos ‘n dief onverwags kan opdaag om in te breek, nét so sal die Here Jesus kom wanneer die aardbewoners dit die minste verwag. Die “nag” spreek van die nagtelike ure wanneer almal slaap en nie waaksaam is nie.

NIEMAND WEET WANNEER

As iemand meen dat hy ‘n datum het vir die koms van Jesus vir sy bruid, moet hy of sy net weer gaan kyk wat sê Mark. 13:32 – “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” God vertrou hierdie datum nie eens toe aan sy engele in die hemel nie. Moet dus nooit iemand glo wat met ‘n wilde bewering en berekening ‘n datum wil voorsien nie. Ons kan wel die seisoen waarneem (Mat. 24:32). Wat my betref het die seisoen lankal reg geskuif vir Sy koms.
Tragies om te besef dat terwyl die Bruidegom presies weet waar die bruid is, en wat haar toestand is; weet die bruid nie, waar die Bruidegom Hom bevind t.o.v. tydlyn en seisoen van koms nie.
  • Dis asof dit hulle nie raak as ek na sommige se lewens kyk.
  • Sommige het geen wederkoms verwagting.
  • Ander stel sy koms daar ver asof Hy nooit gaan terugkeer nie.
My grootste wens bo enigiets anders: Dat Jesus nóú moet kom!!! Dan is die wat gereed is en gevolglik weg is, verlos van alle ellende, boosheid en pestilensies wat hier op aarde is!!! “Sal dit dáár nie heerlik wees nie, want die Lam is altyd daar!!!“
Jy ook?

GEBED

Here Jesus, Bruidegom van my lewe, terwyl die wêreld opgaan in sinsgenot, smag ek na U en U spoedige koms vir U bruidsheiliges! Amen.


Pastoor Piet Smit


Koningsdogters vir Jesus Bediening / Facebook





No comments: