Tuesday 30 April 2013





‘N  SPLINTERNUWE  VROU

Lees – 2 Korintiërs  5:16-21

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  Dit alles is die werk van God (2 Kor 5:17-18)

Wanneer  ‘n mens eers jou lewe aan Jesus oorgegee het, is jy nie meer dieselfde mens nie.  Jy is splinternuut, omdat jy ‘n kind van God is.  Soos ons aan die begin van ‘n nuwe seisoen dié klere wat ons nie meer wil dra nie uit ons kaste gooi, moet jy dan ook gaan sit en kyk of dié dinge wat jy gewoonlik doen, pas by die nuwe mens wat jy nou is.

Die meeste van ons is soms ongeduldig en word te gou kwaad vir ons kollegas, of is effens jaloers op ons vriendinne.   Hierdie gesindhede pas nie by ‘n Christen nie en mag nie meer ‘n plek in jou lewe hê nie.  Onderstreep Efesiërs  4:22-23 in jou Bybel:   Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het;  breek met die ou, sondige mens in julle ... Julle gees en gedagtes moet nuut word.

Onthou, jy sal nie meteens volmaak wees nie.  Heiligmaking is ‘n groeiproses.   Vra God om jou te help om ‘n nuwe mens vir Hom te word, om ‘n nuwe gees en nuwe gedagtes te hê.   Hy kán ‘n oorwinningslewe vir jou moontlik maak!

Gebed:  Here, maak my ‘n nuwe mens.   Dankie dat ek weet dat U dit vir my kán en wíl doen.

Van vandag af gaan ek soos ‘n nuwe mens lewe.


Monday 29 April 2013





GOD  SIEN  JOU  RAAK


Lees – Psalm 32


Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg.  Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou  (Ps 32:8).


Miskien het jy nog kleuters in die huis oor wie jy elke oomblik jou oog moet hou.  Of tieners vir wie jy raad moet gee – raad wat hulle nie altyd gewillig is om te volg nie.  Vandag se teksvers sê vir jou dat God só sy oog oor jóú hou;  dat Hy só vir jóú ook wil raad gee.

Die Bybel verseker ons op só baie plekke van God se liefde en beskerming dat ons nóóit daaraan mag twyfel nie!  God self sê dat ons vir Hom kosbaar is (Jes 43:4);  dat Hy elke tree sien wat ons gee – of dit ‘n tree op die regte pad is óf op ‘n verkeerde pad (Job 34:21);  dat selfs elke haar op ons hoof getel is (Matt 10:30).

Ons God het ons so innig lief, Hy sorg en gee oneindig baie om vir ons.  Hy hou sy oog oor ons.  Hy wil ons leer hóé om te lewe.  Daarom kan ons ons in Hom verbly en oor Hom jubel en juig.


Dierbare Hemelse Vader, ek wil U loof vir u diepe liefde vir mý.  Baie dankie dat U oog op my is, dat ek vir U só baie kosbaar is. Ek verdien nie só ‘n volmaakte liefde nie.  Maak my oprég dankbaar daarvoor. Amen


Ek is só belangrik vir God dat Hy élke klein besonderheid van my weet goed of kwaad, of ek dit reeds gedoen het en of dit nog net in my gedagtes is.

(Die mees volmaakte antwoord wat die mens aan God kan gee, is ‘n lofsang).






Sunday 28 April 2013





DIE LIG-LAS


My juk is sag en my las is lig.  -  Matt.  11:30


My las is lig, het Jesus gesê.  Nou wat het Hy daarmee bedoel?   Lig, soos sonder enige gewig, of ‘n lig wat helder skyn deur die las heen?

‘n Las is Lig wanneer ons die las omskep in ‘n goue trappie wat ons nog een tree nader Godwaarts lei.   In so ‘n las skuil ‘n bedekte seën, want ons kan nooit té veel lig kry op ons pad van lig nie – nooit té veel leiding op die pad wat vir ons maar vreemd is nie.  Daarom sê ons dankie vir elke Lig-las, al kan ons nie altyd die Lig so duidelik sien nie.   Dit is daar – soos dit ook binne-in ons is – Ons sien dit net nie met ons mense-oë nie!

‘n Las, egter, wat vir ons ‘n las bly, met ‘n juk wat ons al hoe meer grond toe druk, is ‘n straf.   Dus, ‘n Lig-las is ‘n seën – ‘n las-las is ‘n straf.  Maar nou kom die wonder.  Ons kan die las-las verander!  Ons hoef net stil te word diep in ons diepste heiligdom.   Sag en teer vat ons dierbare Heer dan ons hand in sy troue vaderhand – en skielik is daar geen las sonder lig nie – die juk is só sag!


Gebed:  Dankie, Heer, vir U juk so sag.


~ Uit Daelikse Woord ~










‘N  WENNER


Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.  -  Filip. 4:13  (OV)


Hoe heerlik die wete – met die wonder van Christus in my, kan ek ‘n wenner wees as ek Hom ken op al my weë, en Hom my eie maak, sodat Hy mý sy eie kan maak!

Net ‘n bietjie liefde is nodig om die liefde wat Christus is in my, te wees.

Net ‘n bietjie lig is nodig om die lig wat Hy is in my, te wees in hierdie wêreld wat nog so donker skyn te wees.

Net ‘n bietjie krag is nodig om te wees wat ek is in die Lig en die Liefde van Hom wat die ereplek in my hart beklee, Hy wat my ‘n wenner maak in wat ookal op my pad mag kom!

Nou waarom sê ons dan net ‘n bietjie?  Omdat Jesus vir ons gewys het wat gebeur as ‘n mens meer as net ‘n bietjie van die krag gebruik!  Géén uitdaging was vir Hom te groot nie – selfs die dood het Hy oorwin – daarom is ons in hierdie stadium tevrede met net ‘n bietjie!  En die wondere wat ons met net die bietjie ervaar – wie van ons ken dit nie?!


Gebed:  U in my en ek in U, wat ‘n wenresep!


~ Uit Daelikse Woord ~









EK  GLO!


Dit gaan goed met die mens ... wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.  -  Ps 146:5


As daar nou een ding is wat onwankelbaar is in my lewe, is dit my geloof in God en sy liefde vir ons.  Soos ‘n vaste rots waarop ek staan, is dit.

Dit is ‘n baie sterk rots wat nie geroer kan word deur enige gebeure of terugslae wat ek nie vinnig kan oplos nie.  In Hom lewe, beweeg en bestaan ek – dit glo ek, en hierdie grootse waarheid maak ek my eie.  As ek dan in Hom lewe, wie kan my nog te na kom?  Hoe kan ek dan nog twyfel aan sy liefde en sorg vir my?

Ek glo in Gods stralende lewenskrag wat in en deur my werk en straal, en my sterk en gesond maak.

Ek glo in Gods oorvloed ook daar vir my – ‘n oorvloed van seëninge, te veel om op te noem, in hierdie mooi wêreld deur Hom geskep.

Ek glo in Gods liefde wat blom in al my menslike verhoudinge.

Sterk in my geloof, seker van Gods nabyheid, sê ek dankie vir die vaste rots waarop ek kan staan.


Gebed:  My hoop is gevestig op die Here!


~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 25 April 2013





CHRISTUS  IN  ONS

Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol.  1:27

As die Here Jesus Christus in ons is, en ons voed Hom net met melk en heuning, sal Hy die babatjie bly wat een of ander heuglike tyd in ons hart gebore is – Hy sal nie groei tot volle wasdom soos in Jesus nie!

Maar hoe moet ons Hom dan voed?   Wat is die vaste spyse?  Dit is ons toewyding – ons spesiale stil tydjie van gebed diep in ons diepste heiligdom – gebede só vol dankbaarheid, só vol toewyding, só diep en innig dat alles om ons doodstil word voor hierdie grootse wonder – dít is hoe ons Hom voed.  En Hy sal groei en gedy in ons, en die beloning wat ons s’n is, kan nie in woorde omskryf word nie!

Die wonder is – ons hóéf dit nie in woorde te omskryf nie – hierdie Grootse Waarheid sal gesien word in die warm gloed in ons oë, gevoel word in ons aanraking só sag en só teer, en ervaar word in die krag waarmee ons vasstaan, wat ookal die eise wat aan ons gestel word!

Dan kan ons ook sê – dit is nie ék wat die werk doen nie, maar die Here Jesus Christus ín my!

Gebed:  Dit is nie ék wat die werk doen nie, maar Christus in my!

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 24 April 2013






U DAG,  HEER!

Ek het die Here altyd by my omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.    Ps.  16:8

Vandag is U dag, Heer van my hart.  Ek weet ek sal nie struikel nie, want U is by my.  In diepe ootmoed dra ek hierdie dag op aan U – gebruik my Heer, soos en waar Ú wil.  Laat dit wat Ú in gedagte het vir vandag, mý doelwitte word, sodat dit tot stand kan kom net hier waar ons nou is – U en ek.

Neem my hand dierbare Heer, en lei my op die regte weg vir my.   Laat U liefde in my hart mý liefde wees, en duidelik gehoor word in alles wat ek doen.   Laat die goeie wat Ú wil Heer, die goeie word wat ek doen, en die goeie uitlok in almal wat vandag ons pad mag kruis.

Neem my hand Heer, en lei my op die regte weg vir my.   Laat U lig my gedagtes verlig, en duidelik gesien word in die insig en begrip waarmee ek alles benader wat op ons weg mag kom.  Op Ú lig, U liefde en krag is alles wat ek vandag mag doen of besluit, geskoei, dierbare Heer van my hart.  Die wonder van U by my en in my, laat my siel sing van pure vreugde!

Gebed:  Vandag is U dag, Heer van my hart!

~ Uit Daelikse Woord ~



Tuesday 23 April 2013





LAAT LOS LAAT GOD

Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug.    
Jes.  26:4

Hierdie is seer sekerlik een van die populêrste dagstukkies, want wie van ons weet nie hoe moeilik dit is om midde-in die grootste uitdaging, nadat ons dit in gebed aan God opgedra het, alles net so te laat los, al weet ons hóe goed dat Hy aan die werk is daar waar ons nie kan sien nie, en dat ons met ons kommer en oorhaastigheid, weer alles kan vernietig wat ons met ons gebed opgebou het.

Om rus te bring in ons gemoed – kom ons dink aan ‘n skoenlapper wat heen-en-weer fladder van blom tot blom.  Sodra daar ‘n briesie kom, veg die skoenlappeer nie daarteen nie.  Intééndeel – hy mors nie sy energie deur hom teen te sit nie – hy gebruik die briesie om hom te dra, en waar hy ookal land, weer ewe vrolik voort te gaan met sy taak.

Net so gaan ek ook nou met die vloei van omstandighede saamwerk.  Ek gaan laat los en God toelaat om oor te neem, want dan kom ek in harmonie met sy grootse Plan vir my, en ek sê dankie vir sy insig en begrip wat nou ook my insig en begrip is.

Gebed:  Ek verstaan en laat los laat God met volle oorgawe!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday 21 April 2013




JOU RESTOURASIE

Maak toe die deur van jou negatiewe verlede. Maak toe die deur van jou vernederings en verwerping. Ek leef nie in jou verlede nie. Nee, Ek droom oor jou spesiale toekoms. Maak oop die deur van my onvoorwaardelike liefde vir jou. Ek stap met jou ‘n pad van restourasie en goddelike genesing, sê die Here. Maak oop die deur vir jou nuwe denke en emosies. Daar is nuwe geleenthede wat vir jou lê en wag. Droom my wonderlike drome vir jouself. Ek en jy stap saam die toekoms in, sê die Here. Ek is met jou!

~ Hansie Smit ~






Die Here se maatstaf .........................


Ek wou só baie doen vir die Meester –
groot werke wou ek vir Hom doen.
Toe sê Hy vir my:  “Kyk bietjie om jou –
wie dan, sal die klein werkies doen?”


Ek sê: “Maar dié plekkie is nietig en klein,
en niemand sal weet dat ek dien.
Nie een sal hier weet van my Liefde
of die Lig van my lampie kan sien.”


“Nou reken nou net,” sê die Meester –
“Só was dit met My ook – omtrent;
Want Nasaret was nie juis groot nie
en Bethlehem nie wêreldbekend.”









LEWENSAVONTURE

In U lig sien ons die lig.  -  Ps. 36:10  (OV)

Die meeste dae verloop maar volgens ‘n vasgestelde patroon, maar geen twee dae is ooit presies dieselfde nie.  Elke dag is uniek met sy eie avonture in die ure opgesluit, wat op my wag om ontgin te word.

Maak dít die lewe nie self ‘n wonder nie?  Enige oomblik kan enigiets opwindends gebeur  -  enige oomblik kan nuwe geleenthede voor my oopgaan tot ‘n ryker en voller lewe, en met God in beheer van my lewe, met  my voete stewig op my pad van lig, sal ek gereed wees vir wat die volgende oomblik ookal vir my mag bied.

Seker daarvan dat daar in elke avontuur wat ek beleef ‘n bedekte seën skuil, gaan ek met moed en durf voort op my lewenspad.  Vir die uitdagings is ek nie bang nie, want Hy wat saam met my stap, hou deurgaans my hand stewig vas, en vir die seëninge sê ek dankie vir Hom wat saam met my stap deur al my lewensavonture heen.

Gebed:  My lewe is een heerlike avontuur!

~ Uit Daelikse Woord ~










Die Here sê vir jou ......................


EK SIEN JOU HARTSEER


Jesus het self gehuil by die dood van sy vriend  (Joh 11:35).  Daarom het Hy groot simpatie met jou.  Hy verstaan jou hart.  By Hom alleen is daar troos.  Hy bring berusting, en Hy droog die trane af  (Openb 21:4).










VERGEWE

Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees.   -  Ps. 51:12

Wat moet ek doen om ‘n rein, vergewende hart te bekom?  Ek vra en ek ontvang.  Ek vra vir liefde, en soveel liefde vloei my hart binne, dat ek sonder enige inspanning maklik vergewe en vergeet.  Liefde en vergifnis is nodig vir God om Sy werke deur my te doen.

‘n Hart vol liefde is vry van enige wrok of kwade gevoelens.  Vrede vul my gemoed.  Hoop, geloof en blye afwagting omskep my in ‘n stralende ligmens.  Ek is gereed, en God skep ‘n vergewende hart in my.

Hierdie vergewende, liefdevolle hart is egter nie iets wat sommer aangeskakel kan word nie.  Dit mag ‘n tydjie neem voordat ek hierdie eienskappe my eie kan maak en regkry om dit met oorgawe uit te leef.  Ek raak dus nie moedeloos as ek nie daarin slaag om onmiddellik alles en almal te vergewe nie.  Ek doen net my deel – ek lees elkde dag my Bybel en my dagstukkie, ek word stil voor die Heer van my Hart, en die vergifnis, liefde en geloof wat ek daagliks toepas en uitleef omskep my stadig maar seker in ‘n stralende Ligmens, met ‘n rein, vergewende, liefdevolle hart.

Gebed:  Skep vir my ‘n rein hart, o God.

~ Uit Daelikse Woord ~









Tien Beloftes uit Tien Gebooie

PDF
Print
E-mail

Omdat Jesus Christus die wet vir ons volkome vervul het, word die Tien Gebooie in Hom tien beloftes aan ons.


Eerste gebod:  Ek belowe jou dat, as Ek die eerste plek in jou lewe inneem, jy geen ander gode sal wil dien nie - Ek sal die eerste en ereplek in jou lewe hê.

Tweede gebod:  As ek in jou hart is, belowe Ek dat jy geen gesnede beeld van my sal maak nie. Dit sal nie nodig wees nie, want jy sal self my beeld dra.

Derde gebod:  As jy My liefhet, sê Jesus, belowe Ek jou dat my Naam nooit ‘n vloekwoord oor jou lippe sal kan wees nie, maar steeds en in alle omstandighede deur jou in ere gehou sal word.

Vierde gebod:  As Ek die ereplek in jou lewe het, belowe Ek jou dat die Sondag die hoogtepunt van die week vir jou sal wees. Dit sal vir jou ’n vreugde wees om kerk toe te gaan – nie om ’n dag om teen op te sien nie, maar om na uit te sien!

Vyfde gebod: As Ek in jou lewe is, belowe Ek vir jou dat dit vir jou ’n voorreg sal wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal vir jou nie moeilik wees nie, want agter hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies en geleen het.

Sesde gebod: Ek belowe jou dat jy nooit iemand sal wil seermaak nie, wat nog te sê doodmaak.

Sewende gebod:  Ek belowe jou dat, as jy My liefhet, dit nie moeilik sal wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. Gee My ’n plek in julle huwelik en Ek sal julle liefde vir mekaar en julle geluk in my hande bewaar en vashou.

Agtste gebod:  As Ek op die troon van jou hart sit, belowe Ek dat jy nie daarop ingestel sal wees om iets van ander te neem nie. Jy sal daagliks vra: Aan wie en waar kan ek aan ’n ander iets GEE?  Maar néém?  Nee, nooit...!

Negende gebod:  As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ’n ander kwaad te praat nie. Ek belowe jou dat Ek deur my Gees jou ’n lojale mens sal maak wat van ander geen woord sal sê as dit nie iets goeds kan wees nie.

Tiende gebod:  Ek belowe dat Ek deur my Gees jou so sal vul met dankbaarheid dat jy niks meer sal begeer nie. Jy sal vergenoeg wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat Hy dit nodig vind en as Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat niks jou sal ontbreek nie.


Saturday 20 April 2013





HEER  VAN  MY  HART


U is met my, élke oomblik van élke dag.

U stok en U staf dié vertroos my - élke oomblik van élke dag.

U lei my en rig my voetstappe – élke oomblik van élke dag!

U lig skyn helder in my en rondom my  - élke oomblik van élke dag.

U liefde vul my hart en is duidelik sigbaar in die mens wat ek is - élke oomblik van élke dag.

U krag is my lewenskrag - élke oomblik van élke dag.

En ek is die lig, die liefde en die krag wat U is binne-in my  - élke oomblik van élke dag.

Élke oomblik van élke dag lewe ek vanuit die Grootse Wonder van U aanwesigheid in my, en aan my dank vir U is daar géén perke nie!

Ek dank U in die oggend as ek opstaan.

Ek dank U deur die dag.

En ek dank U in die aand wanneer alles stil word om my.

Ek dank U wanneer U my versterk.

Ek dank U wanneer U my bemoedig.

Ek dank U wanneer U die trane van my oë afvee.

En ek dank U wanneer U my dra as my bene mý nie verder kan dra nie.
In Ú lewe, beweeg en bestaan ek!

Dankie, dankie, Heer van my hart, vir Ú wat my dra élke tree van die pad!





Tuesday 9 April 2013





DIE  REGTE  PAD

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.  -  Spr.  3:6

Het ek nou by ‘n kruispad in my lewe gekom en ek weet nie watter pad om te volg nie?   Dan wend ek my tot die opgestane Christus in my hart vir leiding en inspirasie.

Hy werk deur my as intelligensie en wysheid.  Deur Hom is ek in staat daartoe om die regte besluite te neem!  Hy werk deur my as leiding en openbaarmaking.  Ek is geïnspireer!  My hart en gemoed is oop vir Sy goddelike idees.

Christus is my innerlike wegwyser.  Ek wend my tot Hom im my stil oomblikke van gebed, en ek weet wat om te doen en hoe om dit te doen.

Géén keuse is te moeilik en geen aksieplan te onduidelik as ek op Hom staatmaak vir leiding nie.  Die weg wat ek moet volg, lê duidelik en oop voor my, want Christus sélf laat Sy lig voor my uit skyn op die weg wat ek moet volg.

Gebed:  Die Lig van Christus skyn duidelik op my pad!

~ Uit Daelikse Woord ~