Tuesday 30 April 2013





‘N  SPLINTERNUWE  VROU

Lees – 2 Korintiërs  5:16-21

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  Dit alles is die werk van God (2 Kor 5:17-18)

Wanneer  ‘n mens eers jou lewe aan Jesus oorgegee het, is jy nie meer dieselfde mens nie.  Jy is splinternuut, omdat jy ‘n kind van God is.  Soos ons aan die begin van ‘n nuwe seisoen dié klere wat ons nie meer wil dra nie uit ons kaste gooi, moet jy dan ook gaan sit en kyk of dié dinge wat jy gewoonlik doen, pas by die nuwe mens wat jy nou is.

Die meeste van ons is soms ongeduldig en word te gou kwaad vir ons kollegas, of is effens jaloers op ons vriendinne.   Hierdie gesindhede pas nie by ‘n Christen nie en mag nie meer ‘n plek in jou lewe hê nie.  Onderstreep Efesiërs  4:22-23 in jou Bybel:   Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het;  breek met die ou, sondige mens in julle ... Julle gees en gedagtes moet nuut word.

Onthou, jy sal nie meteens volmaak wees nie.  Heiligmaking is ‘n groeiproses.   Vra God om jou te help om ‘n nuwe mens vir Hom te word, om ‘n nuwe gees en nuwe gedagtes te hê.   Hy kán ‘n oorwinningslewe vir jou moontlik maak!

Gebed:  Here, maak my ‘n nuwe mens.   Dankie dat ek weet dat U dit vir my kán en wíl doen.

Van vandag af gaan ek soos ‘n nuwe mens lewe.


No comments: