Wednesday 1 May 2013




GOD  GOOI  MY  SONDES  IN  DIE  DIEPSEE


Lees  -  1 Johannes  1:6-10


Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid  (1 Joh 1:9).

Gister het jy van al die “ou klere” in jou kas ontslae geraak.  Miskien was jy verbaas om te ontdek presies hoeveel verkeerde gesindhede en dade daar in ‘n mens se lewe is.

Sonde bring altyd skeiding tussen die mens en sy Skepper, maar ook tussen mens en mens en tussen die mens en die skepping.  Daarom moet jy as nuwe mens werk daaraan om ontslae te raak daarvan:  Gaan bely jou sondes, en God sál dit vergewe.  Miga 7:19 sê:  U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. 
“Bekering” beteken letterlik “om jou na God toe te draai”.   Wanneer jy die Here aanneem en jou sondes bely, maak jy dus as’t ware ‘n U-draai na God toe.  Bekering is egter nie iets wat net een maal gebeur nie, jy moet élke dag na God toe draai.  Soos Paulus, sal jy vind dat jy daagliks moet stry.  Wanneer jy weer sondig, bely dit onmiddellik voor God – Hy sál jou vergewe.   Aanvaar dan sy vergifnis en gee die beheer van jou lewe opnuut aan Hom oor.

Gebed:  Hemelse Vader, ek bely vandag my sondes voor U.  U ken elkeen van hulle.  Dankie dat U elke keer bereid is om my te vergewe.

God trek ‘n kruis deur ons sondes en dink nooit weer daaraan nie.



No comments: