Wednesday 29 May 2013





GOD  DIE  VADER


Lees  -  Psalm  148


Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep ... sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel  (Ps 148:5, 13).


God die Vader is die Skepper van die hemel en die aarde.   Die berge, die bome, die blomme, die see, die mense en diere is sy handewerk.   Hy onderhou sy skepping dag na dag.   God is ook ons hemelse Vader wat vir ons liefhet en elke dag vir ons sorg;  wat sy Seun prysgegee het sodat ons sonde vergewe kan word.

Alhoewel niemand God nog ooit gesien het nie, kan ons Hom leer ken uit sy skepping, uit die Skrif waarin Hy met ons praat, maar veral in Jesus wat die Vader aan ons kom bekend stel het.

Die belangrikste eienskap van ‘n vader is sy liefde.   En God ís inderdaad liefde (1 Joh  4:8).   Ons mag Hom ons Vader noem omdat Jesus ons Saligmaker is.   En as Vader sorg Hy dat alles wat met ons gebeur tot ons beswil is.   As God se kind kan jy seker weet dat jy in die sorg en beskerming van ‘n liefdevolle Vader is.


Gebed:   Hemelse Vader, ek loof U omdat ek U my Vader mag noem.   Dankie vir alles wat U so mooi gemaak het – dat U elke dag vir my sorg en my liefhet.


*God, die Skepper van die hemel en die aarde, is my Vader!*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





No comments: