Sunday 30 November 2014

AMBASSADEURS





Laat daar Lig wees!  -  Gen. 1:3


Laat daar lig wees!   Klink ons bede oor berg en dal, en die Ligdraers van God wat nou opstaan in ons land, stel alles reg wat nou so verkeerd is in hierdie lig.  ‘n Land staan op met die regte oplossing vir Afrika, waar kommunisme en demokrasie misluk het!  En wat sê Buchan wat die voortou geneem het?  “Bid en glo”, sê hierdie man, en weldra sal julle sien wat julle glo!

Moenie moedeloos en bang raak nie – God het ‘n doel met ons land, dit glo ons, en as ons ons voetstappe Lig-gerig hou en ons hande Liefdesgerig, sal ons uiteindelik  sien wat ons glo!  Moeilik?  Met so ‘n Leidsman in ons hart, hoe anders?!

Vanaf die eenvoudigste gehuggie tot die grootste kasteel, weerklink die magtige refrein oor berg en dal – Christus het opgestaan!  In ons harte het Hy opgestaan met al sy liefde vrylik tot ons beskikking – in ons denke het Hy opgestaan met al sy lig wat alles helder verlig – in ons land het Hy opgestaan en die werking van sy krag in ons en deur ons kan niemand meer stuit nie!


Gebed:  Christus het opgestaan in my hart!


~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!

Monday 24 November 2014

Verlossingsgebed





VERLOSSINGSGEBED

Die belangrikste verhouding in jou lewe is ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus.  As jy Hom as jou Here en Verlosser wil aanvaar, en die wonderlikste verhouding wat jy nog ooit gehad het beleef, bid asseblief die gebed hieronder:

Vader,

          U het die wêreld so liefgehad dat U u eniggebore Seun gegee het om vir ons sondes te sterf sodat wie ook al in Hom glo nie sal verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
          U Woord sê ons word gered uit genade deur geloof, ‘n geskenk van  U.  Daar is niks wat ons kan doen om verlossing te verdien nie.
          Ek glo en erken met my mond dat Jesus Christus u Seun is, die Verlosser van die wêreld.  Ek glo Hy het aan die kruis vir my gesterf en al my sonde op Hom geneem, en die prys daarvoor betaal.
          Ek glo in my hart dat  U Jesus uit die dood opgewek het en dat Hy vandag leef.
          Ek is ‘n sondaar, ek is jammer oor my sondes en ek vra U om my te vergewe.  Ek ontvang Jesus Christus nou as my Here en Verlosser.  Ek glo dat ek gered is en die ewigheid saam met U gaan deurbring!  Dankie, Vader.  Ek is so dankbaar!  In Jesus se Naam.

AMEN


~ Joyce Meyer ~


Koningsdogters vir Jesus @ Facebook
Al die eer aan JESUS!

Saturday 15 November 2014

Taal van die Hart






Laat alles by julle in liefde geskied. - 1 Kor 16:14


Die swaaiende stert en entoesiastiese groet van ‘n klein hondjie dra net een boodskap oor: “Ek is so bly om jou weer te sien!”  Hierdie klein hondjie praat nie met ‘n taal van woorde nie, maar wel met die taal van die hart.

Dit is ‘n universele taal hierdie wat almal kan verstaan.  Dis die taal van liefde – hierdie taal van die hart.  ‘n Vriendelike glimlag dra dit oor, ‘n helpende hand en ‘n gebaar van liefde, dra dit oor.  Kom ons praat vandag die taal van die hart teenoor ‘n ieder en ‘n elke wat ons mag teëkom.  Ons praat van Christus tot Christus, want dis Sy liefde wat in ons hart woon en praat.

As ons ander met ‘n glimlag groet, raak die liefde van Christus in ons harte hulle harte aan, en herinner hulle aan die seëninge van ‘n diep innerlike vreugde en blydskap – hulle glimlag vir ons terug.

‘n Vrolike glimlag bring lig en bemoediging waar dit nodig mag wees, en harmonie waar onenigheid heers – kom ons praat vandag die taal van die hart wag lig bring.


Gebed:  Vandag praat ek die taal van U liefde in my hart, U stem wat deur my praat met elkeen wat deel is van my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook

(Poppie Oosthuizen)



Geloof





Jesus sê toe vir hulle:  “Julle moet geloof in God hê!”  - Mark 11 v 22


JESUS  het gesê ons moet geloof in God hê, en omdat gebede die boustene is van geloof, en ons geloof nou so bitter nodig het, laat ons saam bid:

“Hemelse Vader, ons gló in U!  Ons glo in die magtige werke van  U lig,  U liefde en  U krag in ons en om ons.  Ons glo waar U in beheer is sál alles ten goede meewerk, dáárom plaas ons nou álles wat ons lewe aangaan  in  Ú bekwame hande.
Hemelse Vader, ons gló in U!  Maak ons oë oop sodat ons U werke kan sien in ons en om ons.  Maak ons hárte oop, Heer, en vul dit met  Ú liefde, sodat ons in oorvloed daarvan kan gee waar en wanneer nodig.  Maak ons sterk in die krag van U mág, Heer, sodat ons vréésloos en met vaste tred kan voortgaan op ons pad van lig.
Hemelse Vader, hóé heerlik om só te kan glo.  Ons hoef net om ons te kyk om die wonder van Ú werke te sien, en te glo  U is nog steeds daar -  U is nog áltyd in beheer.  Dánkie, dierbare Vader!”


Gebed:  In  Ú  Heer, glo ek met my héle hart!


~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus Een @ Facebook
(Poppie Oosthuizen)



Woorde





Hoor my gebed, o God, luister na my woorde.  – Ps 54:4

Is ons soms geneig om sommer maar net te praat, sonder om eintlik aandag te gee aan wat ons eintlik besig is om te sê?  As ons wel sou let op wat ons sê, sal ons miskien verstom wees om die woorde te hoor wat ons regtig gebruik ...

Dit is belangrik dat ons moet probeer oplet wat ons sê, selfs in die oppervlakkigste geselskap, want woorde beskik oor ‘n skeppende krag wat, as ons hulle reg gebruik, tot seën kan wees vir andere om ons.  Ons woorde kan ook kragtige bevestigings wees wat die goedheid van God in ons  lewe laat seëvier.

Dis nie net ons eie lewens wat beïnvloed word deur die woorde wat ons uiter nie, dit raak ook die lewens van almal wat dit aanhoor.

Ons gereelde tye van gebed – van kommunikasie met die Heer van ons hart, sal dit vir ons al hoe makliker maak om slegs mooi, opheffende woorde te gebruik, tot ons eie sowel as ons medemens se seën.

Deur gebed word ons denke verander, en ons woorde weerspieël die mooi en aangename gedagtes wat ons dink.

Gebed:  My gedagtes en woorde gaan vandag net opheffend wees!

~ Uit Daelikse Woord ~

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
(Poppie Oosthuizen)



Wednesday 12 November 2014

Christene se Taak in die Wêreld







13“Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi.
14“Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo.
“Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is.
15“Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie. 16Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”



Matteus 5:13-16 Die Boodskap


Dierbre Jesus @ Facebook (Poppie Oosthuizen)



Geloofsdade





Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.  -  Joh. 8:32

Het jy al ooit daaraan gedink hoe jou gedagtes , woorde en geloofsdade ander mense om jou kan beïnvloed?   “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak”  (Joh. 8:32), het Jesus gesê.  Die wonder hiervan is dat as jy die waarheid wat jy ken, daagliks met andere deel, en in sover as wat jy in die waarheid handel en wandel, in soverre maak jy ook jou medemense vry.  Jou woorde van geloof, liefde en wonderwerkende krag, hef dié wat siek is op en bring genesing mee.  Jou woorde van vergifnis, begrip, vrede, liefde en lig, hef jou medemens op en as elkeen van ons dit doen beweeg die héle wêreld só nader aan Christus.

Daarom, geliefdes, in die woorde van Paulus, “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak van God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie te verkondig as skoene aan die voete”  (Ef. 6:14).  Dan sal jy ‘n boodskapper van die goeie, blye tyding word – helende boodskappe van vergifnis, van liefde en krag, van vryheid, vrede en harmonie – ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele wêreld sal wees – dit is wat jy sal bring!

Is dit nie wonderlik dat enigeen van ons só die Ligbring-liefde wat Jesus in óns harte uitstort na die wêreld kan bring en so God se droom kan voortsit: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  (Joh. 3:16)  Jóú liefde wat jy deel met ander op watter manier ookal, sit daardie wonderlike liefde van God voort.  En van  JOU  af kring dit verder en verder uit en uiteindelik die wêreld deur!!

Gebed:  Baie dankie Dierbaarste Heer dat óns,  ÉLKEEN  van ons, boodskappers van Ú woord kan wees en dit kan uitdra na álmal om ons.  Dankie Here Jesus, dat U dit vir ons moontlik gemaak het deur middele soos Facebook, WhatsApp, Twitter, Blogspot, Wordpress, Gmail, Mxit en talle ander om grense oor te steek, wat andersins ónmoontlik sou wees.  Seën wat elkeen van ons doen en gee dat ons nie één geleentheid sal laat verbygaan om  Ú  lieflike  Naam  groot te maak nie!  Amen

Koningsdogters vir Jesus Page (Poppie Oosthuizen)

Thursday 6 November 2014

Heerlike Wete



Ek het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. - Ps 34:5 OV


Wanneer ons begin bekommerd raak oor een of ander situasie, gaan ons net ons diepste heiligdom binne.  Ons soek ons Heer, ons vind Hom en plaas ons las net so in Sy hande. Hy wat die liefde self is, neem oor. Daar kom rus in ons gemoed, en ons besef opnuut *hoe* groots Sy liefde werklik is.

God het ons lief!  Hy praat met ons in 'n taal wat ons siel verstaan, en die heerlike wete dat Hy in beheer is van ons lewens en alles wat ons aangaan, neem pos in ons denke.

God het ons lief! Al kan ons dit nie in soveel woorde hoor nie, Sy boodskap van liefde kom helder en duidelik na ons toe - ons weet dit met ons hart en ons verstand. 'n Heerlike wete wat ons dae mooi en ons lewens vol en ryk maak.

God het ons lief! Geen probleem is onoorkomelik nie - geen bedreiging groot genoeg om ons met vrees en kommer te vul nie. Al wat saak maak - die enigste ding wat saak maak - is dat God ons lief het en ons nooit sal begewe of verlaat nie!


Dankie, Heer, vir die wonderlike wete dat U ons liefhet!


~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 2 November 2014

Ek is meer





Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.  -  Filip. 4:13


Vandag maak ek hierdie teks my éie,  en leef soos dit, want in die Krag van Hom wat in my woon, kán ek!  Nooit weer sal ek sê “Ek wens ek kon” nie, want ek weet in Sy krag kan ek alles!  Ek kan weer begin!  Ek kan ‘n wenner wees, en leer en groei sover ek gaan, want ek is en bly ‘n geestelike wese op Gods helderverligte pad.  Nooit ooit sal ek weer sê, “As dinge net anders was, kon ek ...” nie.  Nee, ek bevestig – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee,” en GLO elke woord wat ek so bevestig!


Ek kán wees wat ek so graag wil wees. 
Ek kán bereik wat ek graag wil bereik.
Ek kán vry wees van alles wat my tot dusver aan bande gelê het.
Ek kán gelukkig, skeppend, stralende gesond en ‘n waardige, gebalanseerde mens wees.
Ek kán ‘n omgeemens teenoor my medemens wees, en so lig bring in die wêreld.
Ek is méér as dít wat met die oog gesien kan word.
Ek is ‘n geestelike wese op ‘n pad van lig!


Gebed:  In  Ú krag, Heer, is ek tot álles in staat!


~ Uit Daelikse Woord ~