Wednesday 12 November 2014

Geloofsdade





Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.  -  Joh. 8:32

Het jy al ooit daaraan gedink hoe jou gedagtes , woorde en geloofsdade ander mense om jou kan beïnvloed?   “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak”  (Joh. 8:32), het Jesus gesê.  Die wonder hiervan is dat as jy die waarheid wat jy ken, daagliks met andere deel, en in sover as wat jy in die waarheid handel en wandel, in soverre maak jy ook jou medemense vry.  Jou woorde van geloof, liefde en wonderwerkende krag, hef dié wat siek is op en bring genesing mee.  Jou woorde van vergifnis, begrip, vrede, liefde en lig, hef jou medemens op en as elkeen van ons dit doen beweeg die héle wêreld só nader aan Christus.

Daarom, geliefdes, in die woorde van Paulus, “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak van God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie te verkondig as skoene aan die voete”  (Ef. 6:14).  Dan sal jy ‘n boodskapper van die goeie, blye tyding word – helende boodskappe van vergifnis, van liefde en krag, van vryheid, vrede en harmonie – ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele wêreld sal wees – dit is wat jy sal bring!

Is dit nie wonderlik dat enigeen van ons só die Ligbring-liefde wat Jesus in óns harte uitstort na die wêreld kan bring en so God se droom kan voortsit: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  (Joh. 3:16)  Jóú liefde wat jy deel met ander op watter manier ookal, sit daardie wonderlike liefde van God voort.  En van  JOU  af kring dit verder en verder uit en uiteindelik die wêreld deur!!

Gebed:  Baie dankie Dierbaarste Heer dat óns,  ÉLKEEN  van ons, boodskappers van Ú woord kan wees en dit kan uitdra na álmal om ons.  Dankie Here Jesus, dat U dit vir ons moontlik gemaak het deur middele soos Facebook, WhatsApp, Twitter, Blogspot, Wordpress, Gmail, Mxit en talle ander om grense oor te steek, wat andersins ónmoontlik sou wees.  Seën wat elkeen van ons doen en gee dat ons nie één geleentheid sal laat verbygaan om  Ú  lieflike  Naam  groot te maak nie!  Amen

Koningsdogters vir Jesus Page (Poppie Oosthuizen)

No comments: