Friday 31 August 2012









VANDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps. 118:24


‘n Baie klein seuntjie het sy ma wakker gemaak en gevra:  “Is dit nou môre?”
“Nee,” het sy geantwoord.  “Dis vandag.  Hoekom vra jy?”
“Ek wil hê dit moet môre wees.  Jannie se pappie het gesê ons kan môre saam met hom gaan visvang.”

Baie van ons is net soos daardie seuntjie.  Ons besef nie dat vandag die môre is waarna ons gister verlang het nie.

Deur na môre te verlang vir een of ander iets goeds, verloor ons dikwels die vreugde wat vandag vir ons inhou.  Laat ons dus dankie sê vir die seëninge wat elke dag ons bied, en ons heel beste daaraan gee, want dan kan ons seker daarvan wees dat môre die dag sal wees waarna ons so uitgesien het – ‘n dag om te geniet.

Wat ons taak dus vandag ookal mag wees, of dit nou roetine is of  iets baie spesiaals, laat ons aan onsself sê: “Vandag is ‘n dag wat die Here gemaak het, en ek geniet dit nou!”


Gebed:  Vandag is ‘n dag wat die Here gemaak het!


~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday 30 August 2012










EENHEID


Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder. – Matt. 12:50


Dierbare Heer van my hart, leer my om slegs U wil te doen.  Lei my voetstappe en wys my hoe ek nog meer van U lig in die wêreld kan inbring.

Dit is U wat my lewe so vul met liefde, met lig en lewenskrag – alles wat ek ooit mag benodig op my lewensweg.  Vir die hemelse seëninge so ryklik my toebedeel uit U Vaderhart, hoe kan ek ooit genoeg dankie sê daarvoor?

U is in my, en in U lewe en bestaan ek.  Die band wat ons bind is geestelik van aard, en tog straal U lewenskrag in en deur elke sel en atoom van my liggaam.  U verkwik my elke dag na gees, siel en liggaam.

Nou weet ek hoe dit voel om ‘n kind van die lig genoem te word – om deur U gebruik te word as instrument tot seën van my medemens.

Liefdevolle Heer, alles wat ek is en ooit sal wees, gee ek nou aan U.  Neem U intrek in my hart, want nou weet ek dat ek slegs in U ware geluk en ewigdurende vrede sal vind.


Gebed:  Een met U, Heer, vind ek vrede vir my siel.


~ Uit Daelikse Woord ~







GOD IN BEVEL


Ek vertrou op die goedertierenheid van God vir ewig en altyd. 
Ps. 52:10  OV


As kind was dit vir ons so maklik om te glo.  Geen bewyse was ooit nodig nie.  Ons het geglo in die bekende en die onbekende, en geen twyfel het ons ooit ondergekry nie.

En nou, met Sy waarhede in ons hande en hart, met Gods lig op ons pad, glo en vertrou ons onwrikbaar op Sy goedheid en guns in heel ons lewe.  Met die vreugde van ‘n kind, glo ons en verwag ons net die heel beste, wat ons weet, waar God in bevel is, werk alles ten goede mee.

Daar is ‘n doel met alles wat gebeur waar Hy in bevel is, en Hy in bevel is, en Hy is in bevel van ons lewens – dit glo ons en weet ons.  Die orde wat heers in die heelal heers ook in ons lewens – dit onderskraag ons.  Met wysheid lei Hy ons, met liefde beskerm Hy ons, en in Sy lig, liefde en krag wat ook ons krag is, weet ons wat om waar en wanneer te doen, en ons doen dit dan ook.

Ons geloof in God word al hoe sterker, en met die vreugde van ‘n kind is ons deeglik bewus van die wonder-werke van ons Skepper in ons lewens-ervaringe, en ook oral so duidelik om ons.


Gebed:  Soos ‘n kind geniet ons die seëninge van ons Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday 28 August 2012






SIRKEL VAN GEBED


Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud.  Hulle is almal met die Heilige Gees vervul.  -  Hand. 4:31


Wanneer ‘n groep mense saam bid, word ‘n kragstroom van gebed opgebou – ‘n kragtige sirkel van gebed.  Wyer en wyer kring hierdie sirkel uit, meer en meer word die mense wat daardeur geraak word, tot seën van ons geliefdes, ons vriende, ons eie Ligvriendekring, ons land en ons wêreld.

Ons sê dus dankie, Vader, vir almal met wie ons so kan saam bid, of dit nou ons familie, vriende of bure, lede van ons kerk, ons eie Ligvriendekring of ons aanlynvriende wêreldwyd is.  Hoe wyer hierdie krag uitkring en saamsmelt met die kragstroom komende van andere wat ook bid, hoe meer lig is daar, hoe meer liefde en krag, en hoe kragtiger die werke van God.

Hoe en waar iemand weer die lig sien, hoe en waar iets boos omskep word in ‘n seën, hoe en waar ‘n leier onder mense met ‘n nuwe wonderlike idee vorendag kom, sal ons nooit weet nie, maar dit weet ons, wanneer ons bid, is dit nie net tot ons eie seën nie, maar ook tot seën van die wêreld.


Gebed:  Dankie, Vader, vir die voorreg om so te kan saam bid.


~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 27 August 2012






HELING


U is die bron van die lewe.  -  Ps. 36:10


Die Gees van Christus in ons, is ons bron van lewe en energie.  Hoe sterk en kragtig voel ons nie as ons hierdie waarheid besef nie!  Christus is die lewe en krag in die kern van ons wese!

Ons liggaam weerspieël ook getrou dit waarop ons gedagtes gevestig is.  As ons dus steeds daaraan dink dat ons liggaam stralend is in die stralende lig van ons Christus-Gees, weerspieël ons liggaam meer lewenslus en gesondheid.

Elke dag as ons daaraan dink dat Christus die bron van lewe, van lig en krag, steeds in en deur ons lewe en werk, word Hy opnuut in ons hart gebore.  Ons sien hoe Sy lewenskrag in en deur elke sel, atoom en orgaan in ons liggaamstempel werk en straal, en sê dankie vir so ‘n wonder-krag wat ons heel na gees, siel en liggaam.

Dankie, Heer van ons hart!


Gebed:  Dankie, Heer, vir U lewenskrag altyd daar vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~