Wednesday 15 August 2012









BLYDSKAP


‘n Vrolike hart maak die aangesig bly.  -  Spr. 15:13 OV


Hoe heerlik die wete dat ons geliefde kinders van ‘n hemelse Vader is, nooit alleen op ons lewenspad nie en nooit sonder Sy krag en bystand elke oomblik van elke dag nie.  Soos die blomme en die bome om ons die wonder van Sy lewenskrag weerspieël, so weerspieël ons doen en late ook die wonder van Christus in ons – ‘n waarheid wat ons siel laat sing.

Op mooi dae, wanneer alles met ons goed gaan, klink die melodie helder en suiwer – dit maak ons aangesig bly.  En op minder mooi dae, wanneer die eise te veel word, die seer te diep, word die melodie vir ‘n rukkie miskien stil, maar in ons diepste wese kan niks of niemand dit uitwis nie, en die rus en vrede wat dit bring, is al wat ons nodig het om weer voort te gaan op ons pad van lig.

Ons vrolike hart maak ook andere om ons bly.  Al hoe wyer kring dit uit, en hoe wyer dit uitkring, hoe meer harmonie is daar, hoe meer liefde en laggies, en hoe mooier word elke dag in Gods liefde en lig.


Gebed:  My vrolike hart maak almal bly.


~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: