Saturday 4 August 2012






DANKIE, HEER


Dogter, jou geloof het jou gered.  Gaan in vrede.  -  Mark  5:34


Dankie, Heer, vir die genesing wat nou in my denke, my liggaam en belange plaasvind.  Ek verwelkom elke bewys van genesing, maar ek sê ook byvoorbaat dankie vir die wonder van U werke wat nog nie vir die menseoog sigbaar is nie.

Die voorreg wat U my bied  om vooruit te kan dankie sê, maak my vry van alle kommer en sorge.  Ek gee alles wat ek is, wat ek het of nog gaan bekom, onvoorwaardelik in U bekwame hande.

In U krag kan ‘n genesing onmiddellik plaasvind, maar ek weet ook dat dit soms ‘n tydjie neem.  Hoe dit ookal sy, my dank teenoor  U werke ken geen perke nie, want ek weet dat dit wat ek begeer, nie so belangrik en so goed vir my is nie, as dit wat U vir my in gedagte het nie.  My hart, my siel, my liggaam, my belange, my geliefdes, lê ek alles onvoorwaardelik in U hande, Heer, en ek weet dat alles in U krag en mag, in U liefde en lig, ten goede meewerk vir myself en elkeen vir wie ek bid en ook wie vir my bid.

Dankie, Heer, vir die wonder van U genesende krag in my, in my geliefdes en in my wêreld.


Gebed:  Dankie Heer, vir die wonder van U Helende Krag.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: