Tuesday 21 August 2012





GELOOF


Jesus sê toe vir hulle:  “Julle moet geloof in God hê!”  -  Mark. 11:22


Hemelse God en Vader, hoe kan ek ooit nie in U glo nie – U die Skepper van die grootse heelal, so wonderlik en asemrowend mooi.

En Heer, vir U troue sorg en liefde is ek so innig dankbaar.  Die grootsheid van U liefde laat my stom wanneer die warm strale van die son op ‘n koue dag deur die uitgestrekte hemelruim my gesig liggies aanraak.  En wanneer ‘n kind uit pure vreugde en liefde sy hande na my uitstrek, besef ek nog meer hoe groot U liefde vir my werklik is, en my geloof in U neem steeds toe.

Hoe meer ek kyk na die wonder van U skepping om my, hoe meer ek U teenwoordigheid in my en om my begin ontdek en raaksien, hoe beter verstaan ek dit wat U vir my sê met die woorde: “Kyk, Ek is met jou.  My koninkryk is binne-in jou.”

Dankie Vader, vir U, en dankie vir U liefde, U grootse wysheid en intelligensie so duidelik sigbaar in die gang van die son, maan en die sterre, en in elke saadjie wat op aarde ontkiem.


Gebed:  In U, Heer, glo ek!


~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: