Tuesday 28 August 2012






SIRKEL VAN GEBED


Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud.  Hulle is almal met die Heilige Gees vervul.  -  Hand. 4:31


Wanneer ‘n groep mense saam bid, word ‘n kragstroom van gebed opgebou – ‘n kragtige sirkel van gebed.  Wyer en wyer kring hierdie sirkel uit, meer en meer word die mense wat daardeur geraak word, tot seën van ons geliefdes, ons vriende, ons eie Ligvriendekring, ons land en ons wêreld.

Ons sê dus dankie, Vader, vir almal met wie ons so kan saam bid, of dit nou ons familie, vriende of bure, lede van ons kerk, ons eie Ligvriendekring of ons aanlynvriende wêreldwyd is.  Hoe wyer hierdie krag uitkring en saamsmelt met die kragstroom komende van andere wat ook bid, hoe meer lig is daar, hoe meer liefde en krag, en hoe kragtiger die werke van God.

Hoe en waar iemand weer die lig sien, hoe en waar iets boos omskep word in ‘n seën, hoe en waar ‘n leier onder mense met ‘n nuwe wonderlike idee vorendag kom, sal ons nooit weet nie, maar dit weet ons, wanneer ons bid, is dit nie net tot ons eie seën nie, maar ook tot seën van die wêreld.


Gebed:  Dankie, Vader, vir die voorreg om so te kan saam bid.


~ Uit Daelikse Woord ~



No comments: