Sunday 12 August 2012








TROOS


Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God.  1 Joh 3:2


Dierbare kind, jy hoef nie uit te roep om hulp nie, want Ek is en was nog altyd hier by jou, en Ek sal altyd by jou bly.  Ek sal jou troos wanneer jy vertroosting nodig het, en Ek sal jou krag gee wanneer jy swak voel.

Wanneer  die tye waardeur jy gaan baie moeilik word, en jy voel jy kan nie meer nie, sal Ek jou dra, en daar sal net een ry voetspore in die sand wees.  Deur enige teleurstelling, enige uitdaging, sal Ek jou troos.  Deur aangename tye sal Ek ook met jou wees – Ek sal saam met jou fees vier en juig.

Luister mooi en weet dat alles wat Ek het – eindelose blydskap, absolute liefde, onvoorwaardelike aanvaarding – altyd tot jou beskikking is wanneer jy gereed is om dit te aanvaar.  Ek is jou krag en jou vertroosting.  Ek is die liefde wat jou omvou en beskerm.  Ek is die lig op jou pad – die vrede en rus in jou gemoed.

Ek is die Gees van Christus in jou, en Ek is met jou, nou en vir ewig.  Nooit sal Ek jou begewe of verlaat nie.  Geliefde – hier is Ek!  Kom, vat my hand.


Gebed:  Ek kom Heer, vat my Hand!


~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: