Monday 20 August 2012






SEISOENE


Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.  -  Job 33:4


As ek by ‘n perskeboom kom in die hartjie van die winter, kan hy so dood lyk met al sy droë takke, dat ek mag dink hierdie boom sal nooit weer enige vrugte dra nie.  En tog, as ek na daardie selfde boom sou terugkeer in die lente sal die skoonheid van sy bloeisels die waarheid uitjubel:  “Kyk, ek lewe nog!”

En net soos die voorkoms van die perskeboom met die seisoene verander, so verander my voorkoms.  Maar dit weerspieël geensins die waarheid omtrent my nie.  Hoe moeilik die tyd wat ek moet deurgaan ookal mag lyk, een feit staan soos ‘n paal bo water – diep in my wese lewe my Christus-self voort, sterk, onveranderd en standvastig.  En die dag gaan seer sekerlik aanbreek wanneer dit wat verborge is in my sal uitblom vir almal om te sien, en ek sal jubelend uitroep: “Ja, ek lewe – met die lewe wat die asem van die Almagtige my gee – met die gees van Christus wat in my woon en my steeds help om ‘n wenner te wees!”


Gebed:  Laat U krag in my, Heer, in al sy glorie uitblom.


~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: