Saturday 30 June 2012






My kind …


Ek glo in jou!!

Ek wil jou seer wegvat, jou glimlag weer terug sit op jou gesig.

Ek wil jou weer laat glo jy kan .
Ek wil jou optel en styf teen My bors vasdruk en vir jou wys Ek beplan vir jou ‘n mooi toekoms.

Ek wil hê jy moet My toelaat om My liefde vir jou te wys.

Praat met My, Ek is by jou...

Jou Hemelse Pa.

Jesusliefde!





GENADE


Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.  -  Joh. 1:16


Heer, ek het gedink ek het die mooiste van alles wat mooi is gesien, en tog het u nog meer skoonheid aan my gewys met ‘n asemrowende mooi sonsondergang – met kleure wat oor wolke gespoel het wat ek nooit gedink het moontlik is nie.  Heer, U genade is so pragtig!

Toe ek gedink het ek het al die liefde wat enigeen ooit mag nodig hê, ontvang, het U deur ‘n magdom van mense en omstandighede nog meer liefde op my uitgestort.  U genade is altyd daar!

Toe ek gedink het ek het voor ‘n probleem te staan gekom wat vir my onmoontlik is om te oorkom, het U my hand gevat, aan my ‘n oop deur gewys en my daartoe gelei.  Heer, U genade gee so baie krag!

Al skiet my gedagtes ver te kort wanneer dit kom by U skoonheid, U liefde en krag in my lewe, is daar geen einde aan my dankbaarheid teenoor U nie.  Uit  die diepte van my hart sê ek nou dankie, en my oë gaan oop vir U grootse liefde en genade in my lewe.  U genade verseker my daarvan dat U my liefhet en waardeer.  Dankie, Heer!


Gebed:  Dankie Heer, vir U genade!


~ Uit Daelikse Woord ~


Friday 29 June 2012





SKAKEL IN BY DIE HEMELSE KRAGSTASIE


As ek kniel voor die Heer,

En vir die Here sê: "Ek het so seer!

O Heer U weet, ek kan net nie meer."

Dan hoor ek hoe sê die liewe Heer:

"Kom sit hier by my, bring jou seer,

Kom sit jou las en pyn by my voete neer."


As ek vandag by die Here kla,

Sal ek sê: "Ek is so jammer om te pla!

Maar die las word te swaar om te dra."

Dan sê die liewe Heer: "Jy mag maar kla.

Jy mag maar aanhou om vir my te vra!

Ek sal jou wel die krag gee om jou kruis te dra."


En as ek vanaand my hart leeg huil,

Vir die Here vra dat my boot op kalm water seil.

Vir die Here vra vir 'n hoekie om te kan skuil.

Sal die Here sê: "Jy sal weer op kalm water seil.

Jy mag maar jou leed op My skouer uithuil.

By my is daar rus, 'n plek om te kan skuil."


"Here, my hart is in 'n knoop gebind!

Ek is moeg baklei teen hierdie sterk wind!

Ek wil tog net weer rus en vrede vind."

Die Here sê: "Jy is mos My lieflingkind.

Jy is met My anker van liefde gebind!

Raak stil. Raak rustig! Jy sal weer vrede vind!"

Dankie my liefste Heer!!!

Amen







LIG


My juk is sag en my las is lig.   -  Matt.  11:30


Dit was die woorde van Jesus, en as ek nou daaroor nadink, en die woordjie  “lig” ‘n ander betekenis gee, dan word my las “lig”  -  soos sonlig -  en dit is nie meer ‘n las nie!  Nou gaan ek alles in my lewe wat ek as ‘n las beskou het, verander in lig – helder stralende lig waarin daar geen duisternis is nie – waarin geen swaar las hoegenaamd kan bestaan nie.

In my werk, in my huis, in my verhouding met andere om my, maak ek alles lig.  Ek probeer nie die wêreld dra nie, en bied enige uitdaging met ‘n lied in my hart die hoof.

Met die hulp van Christus in my, word alle verpligtinge maklik en volmaak gedoen, en alles word in ‘n oogwink afgehandel.  Dus, wie gaan my keer om saam met Hom in die lig te werk – Hy wat elke las omskep in lig!

In hierdie wonder-lig is daar geen gebrek aan energie nie, daar is geen twyfel of onsekerheid nie, daar is net die ligte aanraking van my hand en my hart, en Lig neem oor.


Gebed:  Dankie, Heer, vir U lig so helder in elke las!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 27 June 2012





BESKERMD


Hieraan weet ons dat Hy in ons bly:  Hy het ons Sy Gees gegee.   
1 Joh. 3:24


God het ons sy Gees gegee, en as ons hierdie grootse waarheid ons eie maak, en die teenwoordigheid van hierdie Heilige Gees in ons erken, sal Hy sorg vir ons veiligheid – Hy sal oor ons die wag hou, waar ons ons ookal mag woon, werk, loop of ry.

Hy is my konstante metgesel.  Hy is met my in die stilte van die nag om my nie alleen te laat voel nie, Hy ry saam met my in die besige verkeer, Hy stap saam met my waar ek ookal heem mag stap.  In die kwaaiste storm is Hy daar as my veilige hawe, en voor ‘n wonderskone sonsondergang is Hy daar om dit saam met my te geniet.

Ek praat met Hom – soms saggies of soms selfs hardop.  Hy hoor alles, en as ek stil word, sal ek sy antwoord hoor, diep in my siel.

Dankie Vader, vir die wonder van U Heilige Gees in my.  Maak my hierdie grootse geskenk waardig, Heer, in my handel en in my wandel deur elke mooi en kosbare dag geskenk deur U.


Gebed:  Dankie Vader vir die seën van U Heilige Gees.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 22 June 2012





BEMOEDIG


Ons Here is groot en magtig, Sy kennis is onbegrens.  -  Ps. 147:5


Ek is opgewek, entoesiasties en optimisties.  Terneergedruktheid, treurigheid en teleurstellings het geen plek in my lewe nie.  Ook het negatiewe emosies geen houvas op my nie want ek is vervul met die onoorwinlike Gees van Christus.  Hierdie almagtige Gees verhef my, bemoedig my en staan my by.  Ek is nooit alleen nie want ek word gedurigdeur gerusgestel en geïnspireer deur Sy lewende, liefdevolle Gees binne-in my.  Ek word gelei, krag geskenk en gevul met vrede, liefde en blydskap.  Ek is gemotiveerd en vervuld.  Wat ookal die behoefte en wat ook al die begeerte, ek word bemoedig deur Christus binne-in my wat my verseker van volmaakte vervulling.

Die Psalmis sing op verskillende plekke: 

“Die Here ondersteun almal wat val en Hy rig almal op wat neergeboë is”, 
“Die Here rig die wat geboë is, op”, 
“Hy kroon die hulpeloses met oorwinning.” 

Ek wil ook so sing.  Ek voel bemoedig deur die Gees van Christus binne-in my en ek weet dat Sy ewigdurende liefde met my is.


Gebed:  Christus kroon my met oorwinning en sukses.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 21 June 2012





FORGIVENESS  LEADS  TO  FREEDOM


How do you know if forgiveness has taken place?

"You'll know that you are forgiven if you can let God's love flow through you to that person," says Doug Easterday. "If the person walked in, would you let that love be expressed?

"If you answered no, then forgiveness has not taken place.

"'Well, he or she doesn't deserve it.' Then forgiveness has not fully taken place.

"'Well, I don't know if I can.' Then forgiveness needs to go deeper. Forgiveness is like an onion; there are layers to it. The first layer of an onion is still an onion, but there is more onion underneath. Forgiveness often has layers to it. Forgiveness is not entirely complete until all the layers are gone, and then you can say, 'I can forgive, because I choose to.' When you can let the Lord flow His love through you, then you can say, 'I know that I'm walking right with God in forgiveness.'"

When you have forgiven, you are free and released from self-induced bondage.

"For if you forgive men when they sin against you, your heavenly Father will also forgive you. But if you do not forgive men their sins, your Father will not forgive your sins" (Matthew 6:14-15).


Father, grant me the ability to forgive and free my heart to love again. Amen.






INNERLIKE VREDE


By God is alle dinge moontlik.  -  Mark. 10:27 OV


Watter sleutel sluit die deur tot algehele vrede oop?  Jesus het ons die antwoord en ook die sleutel hiervoor en vir talle ander heerlike hemelse skatte gegee toe Hy gesê het. “By God is alle dinge moontlik.”

As ek hierdie waarheid my eie maak, sal daar vrede kom in my gemoed en in my hart, ‘n vrede gebaseer op Sy grootse liefde vir my, en met vreugde sal ek uitroep:  “Dankie Vader, dat u my so vry maak van alle kommer en sorge – dankie dat ek in U lig, liefde en krag enige situasie met vertroue kan benader.  Dankie dat ek een is met U – een met U vrede en liefde.”

Ek ken Hom op al my weë, en vergeet vir geen oomblik hoe na aan my Heer ek werklik is nie.  In Sy grootse liefde lei Hy my, rig Hy my en onderskraag Hy my, maak my gesond en verkwik Hy my siel.  Hoe diep my dank en hoe groot die vrede in my hart as ek my Heer ken op al my weë!

Aan u Heer al my lof en dank vir die diep innerlike vrede wat ek net by U kan vind, omdat ek weet – by U is alle dinge moontlik!


Gebed:  By God is alle dinge moontlik!


~ Uit Daelikse Woord ~







Wednesday 20 June 2012






BID VIR ANDER


Bid vir mekaar. – Jak. 5:16


Of ek nou baie aan almal wat na aan my hart is dink omdat ek besorgd is oor hulle, of omdat ek ‘n spesiale vreugde met hulle deel, my gebede vir hulle bly dieselfde – gebede van geloof en seënwense.

“Dierbare, ek wens jou die vrede toe wat jy sal ontdek in die teenwoordigheid van jou eie  inwonende Christus.

Ek wens jou die tevredenheid toe wat jy sal vind in Sy liefde wat jou steeds omvou.

Ek wens jou die vreugde toe wat joune sal wees as jy Hom jou metgesel maak deur jou dae heen.

Ek wens jou die krag toe wat jou in staat sal stel om ‘n wenner te wees in die arena van die lewe – Sy krag in jou!

Ek wens jou die vervulling toe wat jy sal ondervind as jy jou vrede, jou liefde en vreugde vandag met andere deel.”

My gedagtes en gebede wat ek in harmonie bring met Gods lig, liefde en krag, vorm ‘n kragtige baan van lig waarlangs God Sy wonderwerke kan doen.  Dit bring heling mee, maak foute reg, en bring vrede, liefde, vreugde en geluk, ons lewens binne.


Gebed:  Dierbare, ek wens jou net die beste toe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 19 June 2012





WOORDE


“Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” – Ps. 141:3


Ek sal weier om my gedagtes uit te spreek as hulle nie liefdevol, vriendelik of waar is nie.  Vandag sal ek op my woorde let en alleen daardie woorde en gedagtes uitspreek wat ek graag sal wil sien vermenigvuldig in my lewe en in my wêreld.  Ek erken die mag van die gesproke woord en let fyn op na wat ek sê, sodat my woorde tot seën sal wees vir alles en almal met wie ek hierdie mooi dag mag deel.

Deur Sy teenwoordigheid in my het ek die mag om die onnadenkende en onvriendelike woorde wat by my opkom te verwerp voordat ek hulle uitspreek.  Ek hoef nie op ‘n ander se onvriendelikheid te antwoord nie.  Ek hoef nie vrees of twyfel uit te spreek nie.  Ek het geen rede om my woede te lug nie.  Binne-in my is die Antwoord op al my behoeftes.

Vandag sal ek God aanstel oor my gesprekke.  Ek sal my woorde aan die waarheid toets en net dit wat mooi en goed is in woorde uitspreek.


Gebed:  Stel vandag ‘n wag voor my mond, o Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 17 June 2012





BESKERMING


Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?   - Ps. 27:1


Waar ek ookal vandag mag gaan en wat ek ookal mag doen, ek weet my Heer is met my om my te beskerm en te onderskraag.  Ek kan nêrens wees waar Hy nie is nie.  Daar is niks wat Hy nie kan heel nie – geen uitdaging waardeur Hy my nie veilig kan lei nie.

Die wete dat ek nooit alleen is nie, vul my met die nodige moed en krag om blymoedig voort te gaan.  Hy voorsien my van al die krag wat ek ooit nodig mag hê, van die wysheid en intelligensie om die regte besluite te neem en die moed en durf om dit deur te voer.

Is ek in die diepste duisternis – my Heer is met my.  Sweef ek oor die bergtoppe van suiwer geluk – ook daar is Hy steeds met my.  In my smart en in my vreugde is Hy die troue vriend aan my sy.  Hy help my om positief te bly onder alle omstandighede, en saam met Hom word elke probleem slegs ‘n geleentheid om nog nader aan Hom te groei.

Elke oomblik, elke uur, is Hy met my – vir wie sou ek dan vrees?


Gebed:  Die Here is my toevlug.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 16 June 2012





DEUR DIE LEWE HEEN


Dierbare Heer,
Dankie vir U lewe
En vreugde en liefde;
Dankie vir die wete
Dat ook ek ‘n plek en ‘n doel het
In U grootse plan …
Dankie dat U altyd daar is
Om my hand te neem en my te lei
Deur al die probleme van die lewe heen.

Ek praat met U Heer,
Ek luister na U stem diep in my hart.
Met blink idees inspireer U my –
So natuurlik, so eenvoudig is dit
Dat ek dink ek het alles self uitgedink!
Wanneer ek egter terugkyk,
Sien ek dit was nie ek nie,
Dit was al die tyd U!
En opnuut besef ek hoe U my lei en rig
Wanneer ek stil word en luister.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 15 June 2012





DRA DIT OOR


As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra. 
Matt. 21:22


‘n Probleem wat yslik groot lyk wanneer ons dit alleen aanpak, krimp sommer baie as ons dit deel met ‘n betroubare vriend.  Ons grootste, mees medelydende vriend is Christus wat in ons woon.  Ook is die sekerste manier van kommunikasie met hierdie altoos-luisterende Teenwoordigheid in ons, die gebed.  Deur middel van gebed kan ons al ons kommer, ons verwarring, ons besluite en ons drome met Hom deel.

Wanneer ‘n saak swaar op ons gemoed lê en ons dra dit oor aan Hom in die gebed hou dit op om ons tyd en ons aandag in beslag te neem.  Ons kan op Hom vertrou vir die harmonieuse verloop en vir die regte oplossing van alle situasies.

Wanneer ons ons tot ons Heer in die gebed wend, is ons gevul met lig en hoop, is ons geseën met liefde en vrede en ons sake floreer.  Dan voel ons die volle maat van Sy goedheid in en deur ons lewe vloei, tot oorlopens toe.


Gebed:  Ek bid en verwag die regte oplossing.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 14 June 2012





VERGEWE


Spreek vry (vergewe), en julle sal vrygespreek word.  – Luk. 6:37


As daar een ding was wat Jesus beklemtoon het, dan was dit vergifnis.  Luister: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.  Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”

Ons weet maar alte goed hoe vergifnis ons lewe voller en ryker maak, met liefde en vrede wat die botoon voer waar ons ookal mag woon of werk.  Daarom bid ons elke dag vir die nodige wysheid en begrip – wysheid en begrip wat dit vir ons makliker maak om te vergewe waar en wanneer nodig.

Daar is egter net een probleem, al bid ons HOE hard, as daar nie liefde in ons hart is nie, sal ons nie kan vergewe nie.  Ons sal sê ons vergewe, maar diep in ons hart sal die wrok bly.

Hierdie hemelse liefde is so na aan ons – diep in ons diepste heiligdom sal ons al die liefde vind wat ons ooit nodig mag hê by Hom wat daar woon.  In Sy liefde kan geen wrok of seer staande bly nie, en daar sal vrede wees, in ons en om ons.


Gebed:  U liefde Heer, is my vergifnis.


~ Uit Daelikse Woord ~



Wednesday 13 June 2012




EK KAN!


Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Fil. 4:13



Dit help as iemand anders vir ons sê: "Jy kan!" maar die mees oortuigende stem is die innerlike stem wat sê: "Ja, ek kan!"

Elkeen wat iets van waarde bygedra het  tot wat ook al, het dit gedoen omdat hy in sy hart oortuig was: "Ek kan!" As ons mismoedig voel oor skynbare gebrek aan sukses, as ons luister na die stem van pessimisme wat sê: "Ek kan nie, dis onmoontlik", laat ons daardie stem stil maak en na die versekering wat van Christus kom, luister: "Ja, jy kan".

Ja, ek kan!  Ek kan gelukkig wees.  Ek kan genees word.  Ek kan suksesvol wees.  Ek kan vry wees.  Ek kan alles wees wat God bedoel het ek moet wees.

Ja, ek kan!


Gebed: JA, ek kan!!


~ Uit Daelikse Woord ~



Tuesday 12 June 2012





EK IS DIE CHRISTUS

‘Ek is dit in jou wat lewe,
Ek is dit in jou wat beweeg.
Ek is dit in jou wat skyn
            Ek is die Christus

Ek is dit in jou wat mooi is,
Ek is dit in jou wat onbevrees is,
Ek is dit in jou wat onverganklik is
            Ek is die Christus.

Ek is dit in jou wat goddelik is,
Ek is dit in jou wat heilig is,
Ek is dit in jou wat volmaak is,
            Ek is die Christus.’


Bly in My, soos Ek in julle.   Joh. 15:4





BID VIR ANDER


Julle is die lig vir die wêreld.  – Matt. 5:14


Daar is baie maniere waarop ek tot seën kan wees vir ander;  daar is baie maniere waarop ek my lig kan laat skyn.  Die volgende is my gebed vir vandag:

Liewe Here, help my om aan te bied:

my hand vir iemand wat vriendskap nodig het,
my hart vir iemand wat liefde nodig het,
my begrip vir iemand wat wil hê ‘n ander moet luister,
my bedagsaamheid vir iemand wat nodig het om te weet
          dat ‘n ander omgee,
my vriendelikheid vir iemand wat onvriendelik deur die
          lewe behandel word,
my geselskap vir iemand wat eensaam is,
my kalmte vir iemand wat onseker, verward
of verdwaas is,
my vertroosting vir iemand wat treur,
my welwillendheid teenoor heel U skepping,
my deernis vir alles wat lewe.

Liewe Here, help my om my lig te laat skyn.


Gebed:  Liewe Here, Help my om vir ander tot seën te wees.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 11 June 2012





BID SAAM


Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.
Matt. 18:20


Die krag van gesamentlike gebede is baie groter as wat ons ons kan indink.  Dis ‘n krag wat opgebou word deur die gebed en geloof van duisende gelowiges dwarsoor die wêreld.  Ons geloof dat wondere sal geskied wanneer mense verenig in gebed, is gegrond op die belofte van Jesus:  “Waar twee of drie in My naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Ons vra ook nie vir die verwesenliking van drome en ideale wat ons weet heeltemal buite ons bereik is nie.  Ons gebede is ons manier om God te loof vir dit wat ons alreeds het, en vir dit wat ons kan wees saam met Hom!  Ons sê ook op hierdie manier dankie vir al Sy heerlike seëninge wat daagliks op ons uitgestort word.

Om dankie te sê nadat ons gebede beantwoord is, is ‘n manier om ons waardering te toon vir dit wat Hy vir ons doen en is;  om vooruit dankie te sê terwyl ons nog vra, is ‘n demonstrasie van ons geloof in God en in Sy goedheid en liefdevolle sorg vir ons.

Kom ons bid vandag saam – in geloof en in danksegging.


Gebed:  Laat U Lig skyn dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~