Thursday 28 February 2013





VERSTOMMENDE  GENADE

God wat alle genade gee ... sal julle ... self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.  -  1 Petr.  5:10

Die opskrif van vandag se dagstukkie is in Engels,  ‘Amazing Grace,’ en hoe goed ken ons nie almal hierdie pragtige liedjie nie!  Maar kom ons kyk na die wonder van Gods genade.  Die feit dat die mens nog hierdie planeet mag bewoon met al die haat en nyd wat daarin heers,  en die vernietiging van ons natuurlike hulpbronne, is alreeds ‘n groot bewys van Sy verstommende genade teenoor ons.

Maar dit behels nog véél meer!  Hy het ons lief en noem ons Sy kinders – seuns en dogters en mede-erfgename van Sy koninkryk.  Hy is altyd met ons – Hy deel álles met ons, en al wat Hy vra is dat ons op Hom moet staatmaak.  Hoe méér ons dit doen, hoe méér sal ons Sy genade in ons lewens voel en sien.

Soek jy dalk genesing?  Wend jou na binne, in jou diepste heiligdom, en laat Sy wonderwerkende genade – Sy lig, liefde en krag in en deur jou werk om jou te heel en herstel.

Hy lei jou,  Hy rig jou, en in Sy kosbare en nimmereindigende liefde, sal jou lewe ‘n volkome nuwe betekenis kry, want kyk!  Die krag van Sy verstommende genade is aan die werk vir jou, in jou en deur jou!

Gebed:  Dankie dierbare Hemelvader, vir U genade teenoor ons so onbeskryflik groot!

~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 26 February 2013





DANKBAAR

Die Here is groot!  Aan Hom kom al die lof toe.  -  Ps.  48:1

Hoe mooi is hierdie dag net nie!   Hoe wonderlik sal dit net nie wees as ons almal tesame in die wêreld vandag vir God kan loof en dank vir hierdie wonderskone dag nie!  Gelukkig kan ons dit doen as Ligvriendekring!

“Dankie, Dierbare Hemelse Vader, vir hierdie wonder-wêreld waarin ons kan woon!  Dankie vir die lug wat ons kan inasem, vir die son wat die dag so helder verlig, en vir die maan wat lig bring in die nag.  Dankie vir die vrolike melodie van die voëls en talle ander diere en insekte.  Dankie vir die plante wat vol nuwe groei alles om ons so verfraai.  Vir die orde wat heers in U natuur en wêreld, loof en dank ons U uit die diepte van ons hart!

“Dankie, Vader, vir  ons kosbare familie en vriende wat ons lewens soveel voller en ryker maak en elke kennis wie se lewensdrade deurgestrengel is met ons eie, al is ons nie eens altyd bewus daarvan nie.  Seën elkeen van hulle en ook die vreemdeling wat saam met ons hierdie aarde bewoon.  Laat U liefde en lig wat alles deurstraal, ook vir die mensehart lig bring en liefde wat vrede tot gevolg het.

“Dankie Vader, vir U liefde vir ons, U mensekinders.  Maak ons hierdie grootse liefde van U waardig, Heer, in dit wat ons sê, en in dit wat ons doen.”

Gebed:  Dankie, Dierbare Vader, vir U liefde vir ons!

~ Uit Daelikse Woord ~









BESKERMD

Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
 Ps. 91:11

Die grootste krag is nie beperk tot die fisiese nie, nog is onwrikbare moed gegrond op ‘n helder verstand.  Die magtige krag van ‘n geestelike wese en die vaste moed van ‘n wenner is binne-in ons -  binne-in almal wat God ken.  En hierdie krag, hierdie moed, is slegs een gebed ver!

As ons dus ooit bedreig voel, of onveilig waar ons mag woon of werk, bevestig ons net:  God heers hier, en ek is veilig!  Onmiddelik skakel ons in op Sy alles oorwinnende krag, en onmiddelik reageer Hy met Sy beskermende liefde en lig.  Hy gee selfs Sy engele opdrag om ons te beskerm. Ons sien die lig, ons voel die rus wat Sy liefde bring, en ons is veilig.

Is dit nie ‘n seën om ‘n hemelse Vader te hê wat só oor ons waak nie?  Veral nou in hierdie bedreigde land van ons.  Mense sonder geloof kan voorwaar nie meer hier staande bly nie, maar dié wat glo in God en in die krag van Sy mag, hulle is die mense wat vrede gaan bring in hierdie land.  Laat ons dus ook vir ons land sê:  God is hier en ons is veilig!

Gebed:  God is hier en ek is veilig!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday 24 February 2013





GOD  EERSTE

Here, U is my lewe.  – Ps. 16:5

Die Here Jesus is my lewe, en nooit is ek te besig of te moeg om Hom te loof en te dank vir die wonder van Sy teenwoordigheid in my lewe nie.

“Dierbare Heer, ek plaas u eerste in my lewe, en omdat ek dit doen, kom net die beste in my na vore – die beste wat ek is in U.  Nader aan my as my beste vriend is U, altyd getrou daar vir my, in my goeie tye en ook in die tye wanneer dit nie so goed met my gaan nie.  U vat my hand, vou my toe in U kosbare liefde, onderskraag en lei my elke tree van my weg.  Hoe kan ek U óóit genoeg bedank vir die wonder van U nabyheid en liefde, lig en krag in my lewe?

“U waak oor my gedurende die dag en ook deur die donker  nag.  U verhelder my verstand en stel my in staat om my heel beste te lewer, wat die uitdaging waarvoor ek te staan mag kom ookal mag wees.

“U is die liefde in my hart wat harmonie skep tussen my en elkeen wie vandag my pad mag kruis.  U lei my en rig my op al my weë, en aan U bring ek al die lof en eer van ‘n hart wat tot oorlopens toe vol liefde en danksegging is.  Dankie, dierbare Heer!”

Gebed:  Dankie dierbare Here Jesus, vir die wonder van U nabyheid in my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~






Saturday 23 February 2013





LEIDING

U vat my aan die hand.  U lei my met U raad.  – Ps. 73:23-24

Hoe groot die rus en vrede wat ons hart binnevloei met die lees van bogenoemde teks.  Hy wat die wysheid self is, en liefde, en lig – Hy vat ons hand as ons in die diepste duisternis is – Hy lei ons en rig ons, en staan ons by met Sy alwyse hemelse raad.

Maar – ons mag nie negatief wees nie.  Ons mag nie só diep in sak en as gaan sit dat Hý ons nie kan bereik, en Sy uitgestrekte hand dalk ongesiens by ons verby gaan nie.  Dit gebeur wanneer ons ons verbeelding vrye teuels gee en  toelaat om weg te hol met ons gedagtes en soóons al hoe dieper in die moeras van duisternis laat beland.

Al wat ons hier gaan help, is om stil te word, ons diepste heiligdom binne te gaan, en daar  in die stilte diep in ons hart, sal Hý ons hand vat.  Ons sal wéér die lig sien, en sáám met Hom, positief en vol moed, sal ons góú  weer ons voete vind – ons sal maklik om elke hindernis beweeg en wenners aan die anderkant uitkom!

Gebed: Hou my hand styf vas, dierbaar Heer van my hart, wanneer ek swak en op my kwesbaarste is!

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday 22 February 2013





LIG

Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!   Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.   -  Jes. 60:1

Lig, reënboogkleurige, stralende lig deurdring my ganse wese.   Ek dink aan al die wonderlike woorde wat lig beskryf, en ek word opnuut bewus van hoe vaal hierdie wonderlike definisie van lig is in vergelyking met die ewige lig van God wat in en deur my skyn, en my elke oomblik van my lewe ophelder.

Lig – helder, stralende, skitterende lig – verhelder my verstand.   My gedagtes word omskep in liggedagtes en is vol moontlikhede.   In Gods lig sien ek baie duidelik.   Elke ervaring is deurdring en herskep in Sy lig.   In Gods lig kry my ganse lewe ‘n nuwe helderheid en duidelikheid, asook nuwe betekenis.

Lig – lewendig, gloeiend, stralend – deurdring elke sel en elke atoom van my liggaam.   Elke deel van my is met lig gevul en dans op die maat van lig.   Ek gloei van lig, ek straal lig uit.  Loof God vir Sy lig wat in my, rondom my en in die wêreld vir almal skyn!

Gebed:  Ek gloei van lig, ek straal lig uit.  Loof God vir lig!

~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 21 February 2013




DIE CHRISTUS WEG


“Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”   -   Joh.  14:6


Wanneer ons stil word in gebed, en ons diepste heiligdom binnegaan, sal ons die Here Jesus Christus daar vind.   Dit is waar Hy woon en vanwaar Hy regeer, en dit weet elkeen van ons.   En waar ons dan biddend voor Hom staan, neem Hy ons hand, en lei Hy ons Gods koninkryk binne.

Deur Hom vloei die lig, die liefde en krag vanuit hierdie Hemelse Koninkryk ons hart en siel binne.   Dit verkwik ons siel en lei ons op die spore van geregtigheid.   Ons vrees niks en niemand meer nie, want ons het ons stok en ons staf gevind.

Christus is die weg!   Wonderlike woorde van waarheid wat ons enige tyd kan gebruik om die deure tot groter seëninge voor ons oop te maak.  Sy Gees in ons sien baie verder as wat ons kan sien en Hy weet wat vir ons die heel beste is.   As ons Hom dus in beheer plaas, sal Hy ons lei tot ons hoogste heil – tot ‘n wonderlike nuwe dag.


Gebed:  Christus is jou en my weg.  Die enigste weg!


~ Uit Daelikse Woord ~


(Jammer ek sukkel vreeslik om te konnekteer aan internet en kry gladnie prentjies uitgestuur nie.  Ek hoop hierdie boodskappie gaan deur.)



Tuesday 19 February 2013





BEGIN  WEER

Elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.  -  Pred. 3:1

Beginpunte en eindpunte, oopgaande deure en toegaande deure, nuwe ervaringe en die bekende alledaagse roetine – al hierdie dinge is nodig en belangrik.   Elke dag, elke uur, elke oomblik is ‘n nuwe begin.

Ek kan weer begin.   Dankie Here, dat ek weer kan begin.  Dit maak nie saak wat gister gebeur het nie – dit lê in die verlede.   Pynlike herinneringe word weggevee, teleurstelling vervaag.   Op hierdie oomblik word alle dinge nuut gemaak – ook ék word nuut gemaak.

Ek kan weer begin.   Selfs al het die deur toegegaan op ‘n mooi, ryk en sinvolle ervaring, weet ek dat daar nog groter seëninge op my wag.   Daar gaan ‘n nuwe deur oop en ek het die wil en die visie om dit te herken en in te gaan.

Ek kan weer begin.   Ek gaan voort in Gods liefde en genade.   Ek is ‘n heel, volledige mens wat ‘n heel, volledige lewe ervaar.   Ek is gedurig aan die groei, aan die ontvou en aan die ontwikkel.   Ek sê oor en oor ja vir Gods volmaakte wil vir my.

Gebed:  Ek kán wéér begin!

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday 15 February 2013





INSPIRASIE

God is my redder;  Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. 
Jes.  12:2

Vas vertrouend op my Heer, plaas ek my lewe en alles wat my aangaan in Sy liefdevolle sorg.   Ek weet Hy sal my lei en rig op al my weë.   Geen enkele tree hoef ek sonder Hom aan my sy, te neem nie.   Geen uitdaging hoef ek sonder Sy krag en sterkte die hoof te bied nie.   Hy lei my tot die regte optrede op die regte tyd, vandag, môre en elke dag.

Ek vertrou op Hom en is nie meer bang nie, want ek weet daar is niks waaroor Hy nie heers nie, niks wat in in Sy krag nie reggestel kan word nie.   My geloof in Sy krag en mag gee my die krag om die dinge te doen wat ek moet doen.

Die eerste ding wat ek doen is om my tot Christus, Hy wat in my hart woon, te wend vir leiding en lig, en om dan te reageer op die leiding wat Hy my gee.   Kry ek dit nie terwyl ek bid nie, weet ek dat ek my nie daaroor hoef te bekommer nie, want die leiding, die ingewing van wat om te doen, sal op die regte tyd my te binne skiet.   God is my redder, Sy liefde is my inspirasie, en sonder die geringste vrees, gevul met geloof, begin ek elke mooi dag deur Hom aan my geskenk, met my hand styf vas in sy troue Vaderhand.

Gebed:  GOD  IS  MY  REDDER!

~ Uit Daelikse Woord ~









TREE  VIR  TREE

Daarom moet julle jul nie kwel … maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid.  -  Matt. 6:31, 33  OV

Ek neem net een treetjie op ‘n keer en geniet alles so mooi en skoon rondom my.   Ek leef net een oomblikkie op ‘n keer en voel dus nie gejaagd of onrustig nie.   Dinge verloop op ‘n ordelike manier en daar is oorgenoeg tyd vir alles wat ek moet doen of graag wil doen.

Ek maak absoluut staat op God en alle vrees en frustrasie verdwyn uit my lewe uit.   Ek voel seker en veilig want Sy liefdevolle, beskermende Heilige Gees in my gee aan my die sekuriteit wat ek nodig het.  Ek laat alle spanning uit my vloei en laat Sy oneindige liefde my hart binnevloei.

Gods sterkte is my sterkte, Gods krag is my krag en God is altyd daar om aan my die moed en die vertroue te gee wat ek nodig het.   Ek wend my tot Hom en leef in die lig van vandag se goedheid en al die môres wat voorlê kyk na hulleself.   Ek neem een tree op ‘n keer, ek leef een pragtige dag op ‘n keer en een gelukkige oomblik op ‘n keer.

Gebed:  Moedig en bly, neem ek een tree op ‘n keer.

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday 8 February 2013





JOU OOP HEMEL

Ek profeteer oor jou Goddelike DEURBRAKE in jou lewe ... in JESUS Naam. Die hemele is oop oor JOU. Die vloek is gebreek op die Kruis. Jy is vry en los daarvan. Dit kan nie meer op jou werk nie. Dis kragteloos. GENADE werk nou in jou en vir jou. Jy word GESEËN, nie op grond van jou eie goedheid nie, maar op grond van JESUS se GOEDHEID en VERDIENSTE. Jy is nie skaam om seëninge te ontvang nie. Nee, jy ONTVANG graag ... met opregte en kinderlik GELOOF in die Allerhoogste!

~ Pastoor Hansie Smit ~





JA  EN  NEE

Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig. 
Kol. 4:6

JA   en  NEE  is twee belangrike woorde, wat, as ons hulle reg gebruik, getuig van ons goeie smaak en vriendelikheid.

JA  is ‘n woord wat deure oopmaak.   Wanneer ons vir die lewe  JA  sê, betree ons ‘n wonder-lewe, want Hy maak die deure vir ons oop wat lei tot die wonder van ons menswees – tot die wonder van heel Gods skepping.   Ons begin sien met die oë van ons siel, en weet wanneer ons moet  JA  sê, en wanneer  NEE.

Vanuit die liefde van Hom wat in my woon, sê ek  JA, en die deure wat voor my oopgaan, bied my die geleentheid om andere te laat deel in hierdie wonder-liefde.  Ek sê  JA  vir sy Lig, en die deure wat voor my oopgaan bied my die geleentheid om lig te bring, en insig, waar en wanneer nodig.   Met soveel liefde en lig in my en om my, weet ek wanneer om  NEE te sê, en wanneer  JA, tot almal se hoogste heil.

Gebed:  Vanuit die wonder wat U is in my, is my  JA  en my NEE altyd reg.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 7 February 2013

Epos adres vir die dagstukkies is as volg;

poppieoosthuizen@gmail.com 

Ek sal dit dan forward na my daeliksewoord eposgroepie, vanwaar dit na julle aangestuur sal word.
Liewe Lesers-maats

Wanneer julle nie boodskappies van my sien nie, wees maar asb geduldig, ek het julle nie vergeet nie!  Die enigste rede sal wees dat ek netwerk-probleme het en gou die agterstand sal probeer inhaal.   Ek woon in Napier in die Weskaap, 'n ou klein dorpie tussen Bredasdorp en Caledon, waar ons baie kragonderbrekings kry en dit het weer tot gevolg probleme met baie van ons se internet konneksies.

Dankie dat julle my boodskappies lees.  Dit beteken vir my so baie, dat daar honger siele is wat soek vir Sy kosbare Woord.

Ek het ook 'n epos-groep en julle kan ook so jul boodskappies ontvang om weer aan te stuur na mense in jul eie epos-groepe.  Stuur maar net vir my jul epos adres en ek voeg jul naampie by op my eposlys.

Die pragtigste daggie vir julle!

Poppie 




GODS  ORDE

Vanself  bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar.  -  Mark. 4:28

Gods orde heers oor heel die heelal heen, en dit heers ook op hierdie wonderskone planeet wat ek my tuiste noem.   Ek hoef maar net rondom my te kyk om te sien hoe hierdie orde aan die werk is:   die son kom op en hy gaan onder volgens ‘n vasgestelde ordelike patroon.  Die seisoene kom en gaan, terwyl alles wat hier bestaan deur swaartekrag veilig is in die sorg van die aarde.  Dit is so geskep deur God onse Vader.

Vas oortuig daarvan dat hierdie hemelse orde ook in my lewe alles onder beheer het, gaan ek my ook nie staan en moeg maak om die een of ander verandering af te forseer nie.   Ek hou op om te beplan wie wat en wanneer moet doen.   Ek staan vas in my geloof dat Gods orde aan die werk is in my lewe en alles wat my aangaan, en alles werk ten goede mee – vir my en vir wie ookal my lewe en belange met my deel.  Dit het God ons tog gesê en op Sy oplossings kan niemand ooit verbeter nie!

Hoe wonderlik die sielerus wat nou myne is omdat ek glo alles wat my aangaan is reg en goed, want Gods orde heers in my lewe.

Gebed:  Gods orde heers in my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~








TROOS

Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.  -  Matt.  5:4

Toe Jesus Sy oë oor die skares wat Hom gevolg het, laat gaan, het Hy baie meer gesien as wat vir die blote oog sigbaar was.   Hy het diep gekyk en hulle kommer, hulle siektes en hartseer raakgesien en dit dan ook genees, omdat dit is wat hulle van Hom verwag het.

Nadat  Hy met so ‘n skare te doen gehad het, het Hy Sy bergpredikasie gelewer.   Bo-op ‘n berg het Hy gaan sit, met Sy dissipels om Hom, en aan hulle het hy die wonder van die geestelike lewe –‘n lewe in Hom, verduidelik.  Oor elke probleem in die mense se lewe, het Hy ‘n seën uitgespreek.

Lees maar gerus self die bergrede in Matt. 5, en laat die waarheid daarvan diep in u wese insink.  -  “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.   Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”  Geseënd is, geseënd, geseënd …  Wonderlike woorde van vertroosting – maak dit u eie en vind rus vir u moeë siel.

Gebed:  Dankie Heer, vir U seëninge so wonderbaar!

~ Uit Daelikse Woord ~






Wednesday 6 February 2013





‘N  DANKBARE  HART

Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer. 
Ps.  86:12  (OV)

Wanneer is ons so dankbaar dat ons ons Here en God wil loof met ons hele hart en sy Naam vir ewig eer?   Wanneer Christus sy intrek in ons hart geneem het  - wanneer ons gedagtes helder verlig word in die vlam van sy liefde in ons  -  wanneer elke sel en atoom in ons liggaam helder verlig word in hierdie helder stralende vlam wat deur niks en niemand uitgewis kan word as dit eers eenkeer begin brand nie, en ons omskep word in ligwesens, dit is wanneer daar geen perke aan ons lof en dank is nie!   Dit is wanneer ons met ‘n lied in ons hart rondloop, en God vir ewig eer.

En hoe eer ons Hom?   Ons eer Hom deur die liefde en deernis wat ons toon teenoor ons medemens.  Ons eer Hom deur die lig-idees waarmee ons ook lig bring vir andere om ons.  Ons eer Hom met ons diep geloof in sy werke in ons en om ons, in ons land en in ons wêreld.

Voor die wonder van ons mens-wees in Hom, voor die wonder van soveel lig in ons gedagtes en liefde in ons hart, hoe kan ons óóit genoeg dankie sê?

Gebed:  U Naam Heer, eer ek vir ewig!

~ Uit Daelikse Woord ~






Sunday 3 February 2013





JY IS BELANGRIK EN NODIG

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:   Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.   -  1 Joh. 3:1

KINDERS VAN GOD  -  besig om te groei tot volwasse seuns en dogters wat Hy kan gebruik om sy koninkryk meer sigbaar te maak op hierdie aarde.   Ja, Hy het ons só nodig  -  Hy het vir jóú nodig!!   Jou moed is nodig, jou geloof, jou gebede, jou sin vir humor, jou intelligensie, jou deernis en begrip en talle ander kosbare waardes van jou – te veel om op te noem – is so ontsettend baie nodig ter bevordering van ons Hemel Koning se koninkryk!

En moet nou nie skrik nie!   Jy kan alles gee wat Hy só nodig het, want Hy wat binne-in jou woon, is jou krag en moed, liefde, deernis en begrip.  Hy is jou álles en álles wat jy ooit mag nodig kry op hierdie aarde om vir Hom te werk en diens te lewer vir sy Koninkryk!   GLO dit en gebruik al die talente wat Hy so liefdevol in jou hande plaas!  

Plaas Hom maar net élke dag in beheer van jou hele wese en bestaan, en dit wat Hy so graag wil doen vir sy mensekinders sal Hy deur jóú kan doen!  Jou woorde en jou dade sal reg wees, want Hy wat nou in en deur jou werk, se werke is volmaak.  Asb moenie nou jou rug draai en iets anders doen nie, jy kan nóú op hierdie oomblik iets vir Hom doen!!!  Gebruik die geleentheid!

~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 2 February 2013





MENSE VAN DIE LIG

Leef dan as mense van die lig. – Ef. 5:8

Leef dan as mense van die lig – sê Paulus – as ligwesens.  En ons kan ook, want ons het al die krag tot ons beskikking om dit te kan doen.  Nou waarom dan soms so traag om aan die gang te kom?   Waarom te moeg om iets te probeer – miskien as gevolg van van ‘n gebrek aan slaap?  Nee, dit is geen verskoning nie!

Ons leef as normale mense op ‘n normale aarde in normale drie-dimensionele menslike liggame, maar as ons al die geheimenisse ken en daarvolgens leef, leef ons as mense van die lig – ligwesens binne-in die koninkryk van God, vanwaar ons die werk doen wat Hy verlang.

Aan ons energie is daar geen einde nie, en nooit is ons te moeg om nog die ekstra tree te stap waar nodig nie, nooit te verward om nie te weet wat ons hoe en wanneer moet doen nie, nooit te laat en nooit te vroeg nie, maar altyd op die regte tyd op die regte plek waar God ons kan gebruik.  Dit is wat dit beteken om te leef as mense van die lig – ware Ligwesens!

Gebed:  Ek leef as ‘n ware ligwese.

~ Uit Daelikse Woord ~

Friday 1 February 2013





DROME

Die Engel van God het my in die droom geroep:  “Jakob!”  en ek het geantwoord:  “Hier is ek!”  - Gen. 31:11

Ek het ‘n baie goeie rede om nooit feite in my pad te laat kom waar ek my drome nastreef nie.   Feite mag verander, maar die waarheid verander nooit.  Inspirasie van Bo – dit is waar ek my idees vandaan kry, en die vaste oortuiging dat dit wat ek nastreef, reg is vir my.

Ek styg uit bo die menings van andere omtrent dit wat ek kan of nie kan doen nie, en volg my eie innerlike rigtingwysers soos dit aan my openbaar word.  Dit is nie net sommer dagdrome wat ek nastreef nie, dit is idees en drome gegrond op die lig en leiding wat ek kry vanuit my diepste wese wanneer ek stil word in gebed voor God, en Hy my gedagtes helder verlig.

Mense mag sê ek is ‘n regte ou dagdromer, maar wat hulle nie weet nie, is dat my drome God geïnspireerd is.  Dit is lig-gedagtes – engel gedagtes – wat ligdade tot gevolg het, en ek weet ek is op die regte pad – ek weet my Heer is saam met my op hierdie pad!

Gebed:  Saam met U, Heer, is ek ‘n wenner!

~ Uit Daelikse Woord ~