Thursday 28 February 2013





VERSTOMMENDE  GENADE

God wat alle genade gee ... sal julle ... self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.  -  1 Petr.  5:10

Die opskrif van vandag se dagstukkie is in Engels,  ‘Amazing Grace,’ en hoe goed ken ons nie almal hierdie pragtige liedjie nie!  Maar kom ons kyk na die wonder van Gods genade.  Die feit dat die mens nog hierdie planeet mag bewoon met al die haat en nyd wat daarin heers,  en die vernietiging van ons natuurlike hulpbronne, is alreeds ‘n groot bewys van Sy verstommende genade teenoor ons.

Maar dit behels nog véél meer!  Hy het ons lief en noem ons Sy kinders – seuns en dogters en mede-erfgename van Sy koninkryk.  Hy is altyd met ons – Hy deel álles met ons, en al wat Hy vra is dat ons op Hom moet staatmaak.  Hoe méér ons dit doen, hoe méér sal ons Sy genade in ons lewens voel en sien.

Soek jy dalk genesing?  Wend jou na binne, in jou diepste heiligdom, en laat Sy wonderwerkende genade – Sy lig, liefde en krag in en deur jou werk om jou te heel en herstel.

Hy lei jou,  Hy rig jou, en in Sy kosbare en nimmereindigende liefde, sal jou lewe ‘n volkome nuwe betekenis kry, want kyk!  Die krag van Sy verstommende genade is aan die werk vir jou, in jou en deur jou!

Gebed:  Dankie dierbare Hemelvader, vir U genade teenoor ons so onbeskryflik groot!

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: