Thursday 7 February 2013





TROOS

Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.  -  Matt.  5:4

Toe Jesus Sy oë oor die skares wat Hom gevolg het, laat gaan, het Hy baie meer gesien as wat vir die blote oog sigbaar was.   Hy het diep gekyk en hulle kommer, hulle siektes en hartseer raakgesien en dit dan ook genees, omdat dit is wat hulle van Hom verwag het.

Nadat  Hy met so ‘n skare te doen gehad het, het Hy Sy bergpredikasie gelewer.   Bo-op ‘n berg het Hy gaan sit, met Sy dissipels om Hom, en aan hulle het hy die wonder van die geestelike lewe –‘n lewe in Hom, verduidelik.  Oor elke probleem in die mense se lewe, het Hy ‘n seën uitgespreek.

Lees maar gerus self die bergrede in Matt. 5, en laat die waarheid daarvan diep in u wese insink.  -  “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.   Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”  Geseënd is, geseënd, geseënd …  Wonderlike woorde van vertroosting – maak dit u eie en vind rus vir u moeë siel.

Gebed:  Dankie Heer, vir U seëninge so wonderbaar!

~ Uit Daelikse Woord ~






No comments: