Wednesday 28 August 2013

LAAT LOS, LAAT GOD






Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.    
1 Petr. 5:7


Dit is soms bitter moeilik om orde in ‘n probleem-situasie te sien.  Wanneer ek egter daarin slaag om God in beheer te plaas, is dit nie so moeilik nie en dit is vir my moontlik om sy orde raak te sien in selfs die mees ongewone omstandighede.

Ek laat los.  Ek laat los alle kommer en laat ook nie toe dat die kommer van andere my ontstig nie.  Ek laat los herinneringe wat dit vir my moeilik maak om te vergewe.  Ek laat los die drang om die blaam op myself of iemand anders te plaas.

Ek laat God.  Ek laat Sy lig in my denke en Sy liefde in my hart die werk doen, want waar lig is, en liefde, daar heers harmonie en vrede.  Niemand en niks kan dan die harmonie tussen my en my medemens versteur nie, en elke dag is ryk aan seëninge.

Dit is wanneer ek laat los en God toelaat om oor te neem, wat Sy lig helder in en deur my skyn, op alles en almal om my.  Ek weet dat alles wat met my mag gebeur, slegs bydra tot my geestelike groei as ek dit reg benader.  Sy wil is altyd tot my hoogste heil.


Gebed:  Ek laat los en laat God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 24 August 2013

VASTE GELOOF






En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.    
Jak. 1:4



Soms wanneer dit voel asof my hele lewe om my in flarde lê, is al wat my staande hou my geloof.

My geloof is in God en in Sy almag, waarteen geen duisternis ooit staande kan bly nie.

My geloof is in God en Sy geregtigheid, wat sal toesien dat niks wat myne is van my af weggeneem kan word nie.

My geloof is in God en Sy lewegewende krag wat enige ongesteldheid na liggaam of gees kan en sal genees.

My geloof is in God en Sy liefde wat altyd vir my sê "Ek is hier", hoe alleen en verlate ek ookal mag voel.

My vaste geloof laat my rus in Sy ewige arms wat altyd onder my is om my te onderskraag.



Gebed:  Ek glo in God en in Sy almag.




~ Uit Daelikse Woord ~

Wednesday 14 August 2013

GOD MET MY





Vir my help God altyd, die Here hou my lewe in stand.  -  Ps. 54:6

Heer, U is nou hier met my – hóé waardeer ek net nie die teenwoordigheid van U teenwoordigheid nie!   Wat ookal die uitdaging wat ek moet deurgaan, U is met my.  Niks kan tussen ons kom staan nie – niks kan my laat twyfel aan U liefde, krag en lig in my en om my nie!

Elke las word ligter, elke dag skyn helderder, elke verpligting word makliker, want ek weet U staan hier langs my.

U vra nooit dat ek my optrede moet verduidelik nie, of dat ek moet verskoning maak vir iets wat ek gedoen het of nie gedoen het nie.  U vra net dat ek U hand moet vat, dat ek my ou inperkende en uitgediende manier van lewe moet agterlaat en saam met u ‘n nuwe toekoms moet binnegaan – ‘n toekoms baie ryker en meer vervullend as dit wat ek agterlaat.

Dankie dat U altyd met my is, altyd besig om my te lei, te ondersteun en na my om te sien.  In U liefde voel ek veilig en beskermd.  U Heer, hou my lewe in stand – vandag, móre en elke dag.

Gebed:  U Heer, hou my lewe in stand!

~ Uit Daelikse Woord ~

Tuesday 13 August 2013

TROOS





Soos ‘n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel.  -  Jes. 66:13

Liewe Heer, laat my U liefdevolle teenwoordigheid voel.   Temidde van verwarring, laat my U sterk ondersteunende arms voel.  Wanneer ek alleen en diep bedroef voel, laat my in U vrede rus, U vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Liewe Heer, daar is uitdagings wat ek nie alleen kan hanteer nie.  Wat ‘n onbeskryflike vertroosting is dit nie om te weet dat ek op U krag, U mag en U vrede kan staat maak nie.   Ek gee álles aan Ú – my verlies en my smart, my pynlike herinneringe, my teleurstellings.  Ek voel hoe die helende aanraking van U liefde my streel en ophef.  Ek weet dat U my met ‘n ewigdurende liefde liefhet en dat U my altyd ondersteun.

Liewe Heer, dankie dat  U met my is, dat U my hand vat en my na die lig toe lei.   Dankie vir U liefde en troos wat my deur elke probleem en elke uitdaging ondersteun en onderskraag.  Saam met U gaan ek die ervaringe van die lewe met moed en vrede tegemoet!

Gebed:  By U Heer, vind ek vertroosting.

~ Uit Daelikse Woord ~

Thursday 8 August 2013

HOU OP! BEDAAR!





Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see:  “Hou op!  Bedaar!”  -  Mark. 4:39


Wanneer ek bekommerd is, as ek nie heeltemal op my gemak is nie, of as ek disharmonie van watter aard ookal ervaar, vind ek die woorde,  “Hou op!  Bedaar!”  baie effektief.

Hou op!  Bedaar!  Hoe strelend is hierdie woorde nie!  Dit bring voorwaar rus in my siel, en maak my al hoe meer bewus van die heerlikheid van Gods koninkryk in my.  Ongestoord vloei Sy lig, Sy liefde en krag my wese binne om te heel en te genees, op te hef en te seën, en my dae vol en mooi te maak.

Hou op!  Bedaar!  Soos ‘n ligtoring in die nag bring hierdie woorde lig waar duisternis was, sekerheid waar daar twyfel was, en gemoedsrus waar daar verwarring was.

Hou op!  Bedaar!  Vrede begin by my, en hierdie wonder-woorde is die sleutel tot Gods liefde en lig wat my hart en siel binnevloei.  Wyer en wyer, soos rimpels op ‘n watervlak, kring hierdie liefde van my af uit, wyer en verder gaan die boodskap van liefde en vrede tot seën van elkeen wat daardeur aangeraak word.  Storms word stil gemaak – die onstuimige see bedaar.


Gebed:  Hou op!  Bedaar!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 6 August 2013

BID VIR ANDER





Mag Hy u gee wat u hart begeer, en al u voornemens laat geluk. 
Ps. 20:5


As ek onaangenaamhede in my geliefdes se lewens kon verander, sou ek nie vir ‘n oomblik wag om dit te doen nie.   Maar ek weet, die héél beste wat ek vir hulle kan doen, is om vir hulle te bid – om God in beheer van hul lewens te plaas, want dán, weet ek, word hulle in Sy lig gelei, in Sy liefde beskerm en vertroos, en kan hulle in Sy krag, sterk staan en wenners wees.   Ek bid en sê dankie:

“Dankie, Heer, vir U lig wat wysheid bring, en my geliefdes in staat stel om te kan onderskei tussen wat reg en wat verkeerd is.

Dankie, Heer, vir U liefde wat hulle toevou en beskerm, en vertroosting bring wanneer hulle diep bedroef langs die pad bly sit.

Dankie, Heer, vir U lewenskrag wat in en deur hul are pols om hulle te heel en te genees – U krag wat ook hulle krag is, en hulle sterk laat staan in wat ookal die uitdaging voor hulle is.

Dankie, Heer, dat ek my geliefdes, só in U troue sorg kan plaas en te weet  – U is daar!”


Gebed:  Seën U my geliefdes, Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~







Thursday 1 August 2013

GELOOF






Vertrou volkome op die Here. – Spr. 3:5


Heer, of dit nou goed gaan met my, of sleg, ek weet U is áltyd daar vir my!  Ek gló dit en ek wéét dit, want hoé baie kere het U my nie al bygestaan deur al die op en af tye in my lewe nie!  

Dánkie Heer, vir U lig en leiding elke liewe dag – dankie dat ek kan wandel in Ú lig.

Dánkie Heer, vir die vrede in my gemoed – vrede gebore uit U liefde in my hart.  In U liefde Heer, voel ek beskermd en veilig.

Dánkie Heer, vir die kosbare mense in my lewe.  Help my Heer, om altyd vir hulle tot seën te kan wees, soos hulle ook vir mý tot seën is.

Dánkie Heer, vir die lug wat ek kan inasem en wat my aan die lewe hou – dankie vir voedsame kos wat ek kan eet.  Klere om aan te trek en ‘n plek om te woon.

Dánkie Heer, vir U lig waarin ek elke dag kan wandel saam met my Ligvriendekring – dankie vir U liefde waarin ek kan handel en vir U krag waarin ek sterk en vol moed kan voortgaan.  Die heel gróótste dankie wat ek U kan gee, Heer, is my liefde en geloof in U, en dit gee ek vandag met my héle hart!


Gebed:  Dánkie, Vader!


~ Uit Daelikse Woord ~