Thursday 8 August 2013

HOU OP! BEDAAR!





Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see:  “Hou op!  Bedaar!”  -  Mark. 4:39


Wanneer ek bekommerd is, as ek nie heeltemal op my gemak is nie, of as ek disharmonie van watter aard ookal ervaar, vind ek die woorde,  “Hou op!  Bedaar!”  baie effektief.

Hou op!  Bedaar!  Hoe strelend is hierdie woorde nie!  Dit bring voorwaar rus in my siel, en maak my al hoe meer bewus van die heerlikheid van Gods koninkryk in my.  Ongestoord vloei Sy lig, Sy liefde en krag my wese binne om te heel en te genees, op te hef en te seën, en my dae vol en mooi te maak.

Hou op!  Bedaar!  Soos ‘n ligtoring in die nag bring hierdie woorde lig waar duisternis was, sekerheid waar daar twyfel was, en gemoedsrus waar daar verwarring was.

Hou op!  Bedaar!  Vrede begin by my, en hierdie wonder-woorde is die sleutel tot Gods liefde en lig wat my hart en siel binnevloei.  Wyer en wyer, soos rimpels op ‘n watervlak, kring hierdie liefde van my af uit, wyer en verder gaan die boodskap van liefde en vrede tot seën van elkeen wat daardeur aangeraak word.  Storms word stil gemaak – die onstuimige see bedaar.


Gebed:  Hou op!  Bedaar!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: