Monday 30 January 2012





GEE U GAWE

Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet  julle mekaar daarmee dien.
1 Pet. 4:10 (OV)

Het ons al aan onsself gedink as nodig en belangrik in ooreenstemming met die geskenk wat ons as individue aan die wêreld kan gee?  Ons behoort dit te doen want ons elkeen is uniek en spesiaal en elkeen van ons het ‘n geskenk wat wonderlik en goed is.  Iemand wag nou om die geskenk te ontvang wat ons het om te gee.

Wat is ons eie spesiale geskenk?  Dit kan die volgende wees: 

Waardering – ‘n warm handdruk of ‘n klop op die skouer;
Vriendskap – ‘n helende hand of ‘n aanbod van diens;
Kommunikasie – ‘n telefoonoproep of ‘n briefie of selfs net ‘n glimlag;
Vredemaking – ‘n oop gemoed en ‘n begrypende hart;
Ondersteuning – materieel of geestelik om iemand wat in nood is te help;
Aanmoediging – ‘n luisterende oor of ‘n woord van aanmoediging;
Gebed – positiewe geloof.

Wat ookal ons geskenk is, die wêreld het dit so nodig en ons word honderdvoudig geseën wanneer ons dit aan iemand gee.  Wat ook al ons geskenk is, die wêreld is onvolledig daarsonder!

Gebed:  Vandag gee ek ‘n geskenk aan my naaste, wat eie aan myself is en wat net ék in staat is om te kan gee!

~ Uit Daelikse Woord ~







EK SAL LAAT GAAN

Hemelse Vader,

ek het lank genoeg vermeende onreg

en klein griewe

in my binneste geherberg.

Ek sal alle frustrasie

          selfbejammering,

          en terneergedruktheid,

laat gaan, en ek weet

deur dit te doen, deur te

          vergeet

          te vergewe,

word my hart en gemoed gevul met

          die positiewe

          en die goeie.

Dankie, Vader,

vir die invloei van

          U hemelse gedagtes.


Sunday 29 January 2012





DANKIE, HEER!

Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.
Openb 21:6

Met blydskap en ‘n lied in my hart, begin ek elke nuwe dag.  Ook vandag is ‘n geleentheid om nuwe seëninge  en nuwe geleenthede tegemoet te gaan.

Ek begin vandag met geloof, waardigheid en krag.  Dit is ‘n dag om die lewe, liefde en vrede van my inwonende Christus ten volle uit te leef.  Wat ookal op my wag, of van my verwag word, ek weet alles is wel, want Hy is elke tree van die weg met my.

Opbouende aangename gedagtes heers vandag in my gemoed.  My hart is vrolik en bly want ek weet hierdie dag gaan ‘n dag van vervulling en oorwinning wees.

Vandag is ‘n geskenk van God – ‘n ryk, vol dag om te geniet en Hom te eer.  Dis ‘n dag waarin groot en wonderlike dinge bereik kan word – ‘n dag wat ook ‘n nuwe begin kan beteken.

Ek geniet hierdie mooi dag – ek leef tot eer van die Heer van my hart, en so dra ek my diepe dank aan Hom oor.

Gebed:  Dankie Heer, vir hierdie mooi dag!

~ Uit Daelikse Woord ~



Thursday 26 January 2012




BESKERMING

U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou. 
Ps. 91:2

Heer, onder U vleuels neem ek my toevlug.  U is vir my ‘n veilige skuilplek – nou en vir ewig.  In U lig lewe en beweeg ek, en voel ek veilig, waar ek my ookal mag begewe.

Wanneer ek bid, voel ek u teenwoordigheid hier by my, en word ek opnuut daaraan herinner dat U altyd by my is – dat ek nooit van U af weg kan beweeg nie.  U vou my toe in U liefde, beskerm my, en maak my paaie voor my uit gelyk.

Vir geen oomblik gaan ek vandag vergeet dat U my toevlug en veilige vesting is nie.  Voor enige uitdaging staan ek sterk en sonder enige vrese.  Elke geleentheid sien ek raak en gaan ek entoesiasties tegemoet, want my vertroue is geheel en al op U.

Hoe vertroostend is die wete nie dat dit altyd U en ek is in alles wat my aangaan.  Op bekende en onbekende weë – in wat ookal van my gevra word om te doen, dit is U en ek, Heer.  U beskerm my en rig my in alles wat my te doen staan.

Gebed:  Onder U vleuels Heer, neem ek my toevlug!

~ Uit Daelikse Woord ~





VEILIG

Vir hulle het Hy veilig gelei en hulle was nie bang nie. – Ps. 78:53

Ek wandel in die liefde van God waar ek ook al gaan, en weet dat ek nooit alleen is nie. Die pad vorentoe mag uitdagend wees maar ek voel nie oorweldig nie want ek is verseker van Sy beskerming elke tree van die pad.

Ek wandel in die liefde van God. Ek volg waar Hy my lei en die pad ontvou voor my. Ek gaan uit op my lewenspad met ‘n geloof en vertroue wat verseker dat ek geleenthede tot groei sal vind in elke nuwe ervaring.

Ek wandel in die liefde van God en ‘n stille rustigheid omring my. Daar is by my geen kommer of twyfel oor my veiligheid nie. As ek in die liefde van God wandel, wandel ek ook in Sy lig wat alle duisternis verdryf.

Ek wandel in die liefde van God en ek dink net positiewe, skeppende gedagtes. Ek sien duidelik dat daar niks te vrees is nie. Ek wandel in die volkome veiligheid van die liefde van God.

Gebed: Ek wandel in die liefde van God



~ Uit Daelikse Woord ~




LAAT LOS,  LAAT GOD

Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 
Matt. 6:32 (OV)

Elke oggend plaas ek God met volle vertroue in beheer van my dag.  Elke mikpunt, elke uitdaging, plaas en onvoorwaardelik in sy bekwame hande.  Hy weet baie goed wat ek nodig het, en ek weet die dag wat voor my lê, is vol wonderwerke, en ryk aan aangename verassings.

Dit beteken egter nie dat ek maar net agteroor gaan sit en niks gaan doen nie – ek gaan nog steeds my doelwitte nastreef en my probleme oplos.  Maar as ek laat los en God laat oorneem, en ek doen dit met my hele hart en my hele verstand, dan lei sy wysheid my deur elke gebeurlikheid wat ek deur die dag mag ervaar, en ek hoef my nie te bekommer oor wat op my wag nie.  Hy is daar!

En in die aand wanneer ek gaan slaap, laat los ek al my malende gedagtes en soekende idees weer net so in sy hande.  By Hom is alles veilig tot die dag weer breek, en aan sy werke is daar geen einde nie, of ek nou slaap en of en wakker is.  Ek laat los, laat God – in die dag werk ek saam met Hom, in die nag slaap ek rustig in sy koesterende arms.

Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem.

~ Uit Daelikse Woord ~

Tuesday 24 January 2012





SIRKEL VAN LIEFDE

God is liefde.   1 Joh. 4:8

God is liefde, en Sy seun wat die liefde self is, woon in my hart.  Sy liefde vloei in my en om my.  My gedagtes word omskep in liefde-gedagtes, en in my gesprekke met  andere word die erbarming en passie wat ek vir my medemens het, duidelik oorgedra.

As enige wrewel of gebrek aan vergifnis in my gedagtes opkom, wis Sy liefde dit sag maar ferm uit.  Die volgende bevestiging maak die liefde in my hart al hoe sterker:  Ek leef in die nimmer-eindigende sirkel van Gods liefde!  Hierdie sirkel van liefde wat steeds om my vloei kring al hoe wyer uit tot seën van my geliefdes, my Ligvriende, my land en my wêreld, en alle leiers oraloor.

In my gebede vir andere is ek daarvan bewus dat God in Sy grootse liefde niemand te gering ag nie.  Liefde heel die siekes, troos die gebrokenes van hart en gee nuwe krag aan almal wat gebroke en wanhopig is.  Liefde seën alle mense in heel Gods skepping.

Dankie Heer, dat ook ek kan leef in die sirkel van U allesomvouende liefde.

Gebed:  Ek leef en beweeg in die sirkel van Gods liefde!

~ Uit Daelikse Woord ~





WOORDE

Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
Ps. 141:3  (OV)

Stel vandag ‘n wag voor my mond, Heer.  Ek weier om enige gedagtes in woorde te omskep as hulle nie liefdevol, vriendelik en waar is nie.  Ek sal streng toesig hou oor my woorde, en slegs gedagtes oordra wat ‘n seën inhou vir my, vir almal om my en in my wêreld.  Bewus van die mag van die gesproke woord, hou ek die gesprekke wat ek met andere voer fyn dop.  Ek kleur elke woord wat ek sê met die liefde van Hom wat woon in my hart, gevleuelde woorde van liefde en lig wat almal om my opbeur en gelukkig maak.

In sy krag beskik ek oor die mag om elke onnadenkende, onvriendelike woord wat skielik by my opkom, te verwerp voordat ek hulle uitspreek.  Ek hoef nie op ‘n ander se onvriendelikheid te reageer nie.  Ek hoef nie vrees of twyfel uit te spreek nie.  Ek het geen rede om my woede te lug nie – binne-in my is die antwoord op al my behoeftes!

Dankie, Heer, vir die wonder van U teenwoordigheid in my denke en in my hart, wat my in staat stel om met my lig-woorde U vriendelike, goedige, opregte kind van die lig te wees.

Gebed:  Stel U vandag ‘n wag voor my mond, Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~

Monday 23 January 2012





DANKIE, HEER!

Laat my elke môre U liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.
Ps. 143:8

Goeiemôre, Heer!  Dankie vir U liefdevolle sorg en beskerming deur die nag, en vir die lig van hierdie nuwe dag!

Dankie Heer, vir U grenslose lewegewende Gees in my, wat my altyd herstel en vul met nuwe lewenslus.  Verfris en hernu, is ek gereed vir ‘n wonderlike dag in U wonderlike wêreld.

Dankie Heer, vir hierdie dag, tot oorlopens toe gevul met die belofte van aangename, waardevolle aktiwiteite en ervaringe.  Dankbaar ontvang ek vandag met al sy seëninge.

Steeds bewus van U teenwoordigheid, waardeer ek die orde, skoonheid en volmaaktheid van elke oomblik.  Die opwindende inspirasie van die oggend bly my by dwarsdeur die dag, en ek beskik oor die nodige belangstelling, krag en energie om elke taak suksesvol af te handel.

Dankie Heer, vir hierdie wonderskone môre wat my dwarsdeur hierdie dag gaan ophef en onderskraag.

Gebed:  Goeiemôre, Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 22 January 2012




LEIDING

Praat, Here, U dienaar luister!  - 1 Sam. 3:9

Hier is ek, Here.  Ek glo – ek luister na wat U vir my wil sê.  In die stilte, diep in my binneste, neem ek U hand, en met my hoop op U gevestig, glo ek, nee, weet ek, alles is wel met my en my siel.

Hier is ek, Here. Stil en ontspanne maak ek my gedagtes oop  vir U en ek luister.  En terwyl ek luister, omskep U sag en teer my gedagtes in lig-gedagtes – lig-gedagtes wat lig-idees tot gevolg het – lig-idees wat ek moet navolg en uitvoer, en in U krag altyd daar vir my, kan ek!

Hier is ek, Here.  Stil en ontspanne maak ek my hart oop vir U liefde om dit tot oorlopens toe te vul.  Gepantser in U lig in my gedagtes en liefde in my hart, dra ek ligbring-liefde oor aan elkeen wat vandag my pad mag kruis.

Hier is ek Here, neem my hand.  Help my om stil te word voor U – om te luister na U, sodat ek nie een enkele tree afwyk van U pad van lig vir my nie, en altyd tot seën kan wees vir andere.

Gebed:  Hier is ek, Here – vat my hand!

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday 21 January 2012




KIND VAN DIE LIG

Christus is in julle,  Hy is julle hoop op die heerlikheid.  – Kol. 1:27

Kind van die Lig, jy wat jou voete op hierdie geestelike pad van lig gesit het, weet jy hoe na aan My jy werklik is?  As jy maar net My lig kon sien wat elke dag so helder in jou, om jou en voor jou uit skyn – as jy maar net kon voel hoe Ek jou hande saggies in myne neem terwyl ons sy aan sy voortstap op hierdie pad van lig – as jy maar net My stem kon hoor wat vir jou vertel van die Vader se liefde so groot en so wonderbaar!

As jy maar kon besef wat Ek en jy saam kan vermag wanneer jy hierdie grootse mylpaal wat jy nou voor oë het, bereik het – die plek waar Ek en jy een word in Gods Lig, Liefde en Krag – sal jy verstaan waarom jy so kosbaar is vir My.  Moenie moedeloos raak as dit volgens jou begrip van tyd te lank neem nie – glo net, en hou aan met aanhou.  Ek sal jou dra oor elke struikelblok heen,  Ek sal jou bystaan deur elke donker nag.  Ek sal jou lig, jou liefde en jou krag wees, totdat jy die volwasse seun/dogter van God is – een met My, jou eie inwonende Christus-self.

Gebed:  Ek kom, Heer!  Hou net my hand styf vas!

~ Uit Daelikse Woord ~

Thursday 19 January 2012




VRY

Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.  Hulle vlieg met arendsvlerke.  – Jes. 40:31

Hoe bang moet die ou voëltjie net nie voel wanneer sy ouers hom vir die eerste keer uit die nes uit stoot sodat hy moet leer vlieg nie!  Met die aanmoediging van sy ouers, wat by hom is, sprei hy sy vlerkies uit en begin hy vlieg.  In die begin maar lomp en onseker, maar hoe groot die vreugde wanneer hy skielik daarin slaag om in die lug in op te styg!

Net so kan ons ook sweef – vry en bly met ‘n geestelike vryheid wat deur niemand gebind of ingeperk kan word nie.  God is die liefdevolle Vader wat ons voorberei en aanmoedig om ons vlerke uit te sprei en te vlieg, sodat ons alles wat ons in Sy naam doen, kan geniet.

En tog, soms mag ons so vol vrese wees, dat ons net nie die vryheid wat ons in Christus het, kan benut nie.  Dan dink ons aan die vlug van die jong voëltjie, en ons hoor Sy stem diep in ons wese:  “Kom, sprei uit jou vlerke en styg uit tot nuwe hoogtes in My krag.”

Ons kan, ons wil en ons vlieg!  Dankie, Vader, vir ons vryheid in U!

Gebed:  Dankie Heer, vir my vryheid in U Krag!

~ Uit Daelikse Woord ~




LIEFDE

God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 
1 Joh. 4:16

Hoe groot hierdie geskenk, hoe diep my dank!  Ek sal hierdie liefde my eie maak – ek sal in God bly, sodat Hy in my kan bly – sodat Hy my hart tot oorlopens toe kan vul met sy Liefde so groot, want dan sal ek nie ‘n klinkende metaal of galmende simbaal word nie.

Ek sal geduldig wees en vriendelik, ek sal nie afgunstig wees nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie.  Ek sal nie onwelvoeglik handel nie, ek sal nie my eie belang soek nie, ek sal nie liggeraak wees nie, nie boekhou van die kwaad nie.

Ek sal nie meer soos ‘n kind dink of praat nie, want ek is nou geestelik volwasse, klaar met die dinge van ‘n kind.

Ja, ek sal liefde wees, soos Jesus Liefde was en is.  Hy wat in my woon, is die bron van die liefde wat ek gee – die liefde wat ek ontvang en waarin ek bly – en dit stel my in staat om alles te glo, alles te hoop, en alles te wees wat Hy in my is.

Gebed:  God is Liefde, en ek bly in Sy Liefde!

~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday 18 January 2012




TROOS

Die ewige God is ‘n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou.  
Deut.  33:27

Ek vind troos in die wete dat my Heer van liefde so na aan my is. Hy is altyd daar, gereed om enige kommer of las wat ek aan Hom wil oordra te verlig. In Sy grootse liefde vir my, in Sy nabyheid, voel ek nooit eensaam of alleen nie.

As ek my tot Hom wend in alles wat my aangaan, vind ek die vrede in my gemoed wat my help om seëvierend enige aanpassing of uitdaging te oorkom.

Hy woon binne-in my, en geen verdriet of berou is te groot om tussen Hom en Sy liefde vir my te kom staan nie. Hy is die veilige hawe waar ek altyd rus vind vir my moeë siel.

Die verdriet, die smart oor die groot verlies wat ek mag ervaar, neem geleidelik af. Aangename herinneringe oor die mooi tye wat ek ‘n geliefde saam deurgebring het is soos balsem vir my seer gemoed, en niks en niemand kan die skoonheid van hierdie mooi herinnering van my af wegneem nie. Soos kosbare juwele koester ek hulle diep in my hart, en ek vind rus in Sy ewige arms wat altyd onder my is.

Gebed: In U arms Heer, vind ek rus.

~Daelikse Woord~


Monday 16 January 2012




EK IS NODIG

Maar wat ek het, gee ek vir jou.  -  Hand.  3:6

Ek is nodig omdat ek alle mense en alle situasies benader met ligbring-liefde.  Die ligbring-liefde wat ons so nodig het  in hierdie wêreld van ons.

Ek is nodig omdat ek optimisties van aard is, en my geloof in God en in sy goedheid vir ons, sy mensekinders, maak andere om my ook optimisties, vrolik en bly.

Ek is nodig omdat ek opgeruimd is.  Ek neem alles in ‘n goeie gees op, sien die ligkant van dinge, en help ander om ook opgeruimd te wees.

Ek is nodig omdat ek andere aanspoor om altyd hul bes te doen.  Ek sien net die mooie en die goeie in almal om my.  Ek sien hulle eie inwonende Christus as die Stuurman in hul lewens, en spoor hulle aan om Hom te volg.

Ek is nodig omdat ek die krag van Gods Heilige Gees binne-in my, my eie gemaak het.  Sterk en fier staan ek tussen andere – sterk en fier staan hulle saam met my –  as oorwinnaars in Gods krag.

Gebed:  Loof God, want ek U mensekind is nodig!

~ Uit Daelikse Woord ~







BID VIR ANDER

Hoor my gebed, o God, luister na my woorde.  – Ps. 54:4

As ek vandag bekommerd is oor ‘n dierbare, herinner ek my daaraan dat die heel grootste hulp wat ek aan hom kan verskaf, is om te besef dat die Gees van Christus binne-in hom woon en hom inspireer, hom lei, hom genees en die regte antwoorde aan hom verskaf.  Ek kan vryelik en liefdevol  so al my dierbares in Gods sorg plaas en weet dat daar aan ál hul behoeftes voldoen word.

As ‘n dierbare vir wie ek bid fisies of emosioneel van my verwyder is, herinner ek my daaraan dat daar geen verwydering is tussen God en en Sy kinders nie.  Ons is een in Sy liefde.

Vandag is my dankbare gebed:

Dankie Here, dat U vir my sorg waar ek ook al is en dat U vir my dierbares sorg waar hulle ook al is.  Hulle is geseënd en ek is geseënd.  Daar is vrede in my hart wat hulle aangaan.  Ek is daartoe in staat om my eie lewe gelukkig en ten volle te lewe in die wet dat U liefdevolle sorg ons almal omvou.

Gebed:  My dierbares is in Gods liefdevolle sorg elke oomblik van elke dag!

~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 15 January 2012




TEL JOU SEËNINGE


Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie.
Ps. 103:2 OV


Kom ons staan vandag ‘n bietjie stil om ons seëninge te tel, want as ons dit begin doen, sal ons voorwaar saam met die Psalm-digter uitroep – Loof die Here, o my siel!

Wanneer dit lyk asof ons hele wêreld heeltemal onderstebo is, kan ons help om dit weer reg te stel deur ons seëninge te begin tel – en daar is altyd seëninge, selfs in die donkerste nag.  So stuur ons ons gedagtes in ‘n ander rigting – ons kyk weg van die probleem af en ons sien die lig.

Ons sê dankie vir elke vriend wat ons bystaan in ons uur van nood – maar ook vir elke vriend vir wie ons kan bystaan. Ons sê dankie vir die son wat nog skyn bedags en die bed waarop ons kan rus in die nag.  Vir voedsel om te eet en die feit dat ons lewe, vir ons hande waarmee ons God kan dien, ja, vir alles waaraan ons kan dink sê ons dankie, tot ons soos die parapleeg uitroep – “Van alle mense is ek die mees ryklik geseënde!”

Elke uitdaging wat ons oorkom in Gods lig, is ook ‘n seën, want dit wys ons waartoe ons werklik in staat is in Sy krag, en dit neem ons een tree nader aan Hom!


Gebed:  Van alle mense is ek die mees ryklik geseënde!


~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday 14 January 2012





LAAT LOS,  LAAT GOD


Leer my om U wil te doen, want U is my God! Laat U goeie Gees my op 'n gelyk pad lei. - Ps. 143:10


Dankie, Vader, dat U ons altyd so sag en tog ferm, laat verstaan dat ons moet ophou worstel en spook met ons probleme. Ons moet laat los, sodat U kan oorneem. Wanneer ons dit doen, neem U werklik oor, dit het ons nou al oor en oor ervaar in ons lewens, en die regte oplossing, tot ons eie en andere se seën, geskied.

Help ons Heer, om nie so meegevoer te raak deur 'n uitdaging nie, dat daar nie plek oor is vir U lig-gedagtes nie. Neem weg alle vrese en kommer. Maak ons hart stil, sodat ons U stem kan hoor wat rus en vrede bring, U stem wat ons altyd lei en rig op die regte weg vir ons.

Met ons hand in dié van U, lei U ons op U pad van lig - 'n gelyk pad wat nuwe deure voor ons oopmaak, en nuwe lig werp op al ons vrae en twyfel. U het ons al so baie geleer, Heer, maar daar is nog so oneindig baie wat ons kan leer. Nuwe horisonne gaan voor ons oop, en met 'n lied in ons hart gaan ons die toekoms saam met U tegemoet!


Gebed:  Dankie, Vader, dat ek alles net so in U hande kan los!


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday 11 January 2012




SELFBEELD


God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
1 Joh. 4:16


Ons besef dat ons kinders van God is, geseën met ongekende potensiaal en moontlikhede.  Hierdie selfbeeld maak ons suksesvolle, stralende, goddelike geïnspireerde Koningskinders.

Ons persoonlike tekortkominge of mislukkings doen geen afbreek aan die waarheid dat ons geestelike wesens is nie, steeds gerig en gelei in die lig, die liefde en krag van ons hemelse Vader.  Met Hom as ons Leidsman en Stuurman, kan ons seker daarvan wees dat die besluite wat ons neem reg en goed is, altyd tot ons hoogste heil.

Met ons vertroue gevestig op Hom wat in ons woon, beskik ons oor die vermoë om selfs die mees uitdagende situasie met welslae te oorkom.  Hy maak ons wenners in die arena van die lewe want ons weet waartoe ons in staat is met Hom aan ons sy.  Ons lewe is een groot seën – nie net vir ons nie maar ook vir hulle wat ons lewe met ons deel, want ons bly in die liefde van God.


Gebed:  Ek bly in die liefde van God.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 10 January 2012





VAT ONS BY DIE HAND

Here, Hier in die aanduur van hierdie jaar wil ons U kom vra om ons by die hand te vat.

Om ons te omgord met krag en moed vir die moeilike dinge op ons lewenspad. Sonder U kan ons nie, durf ons nie die pad te loop nie. By U alleen lê ons heil.

Vul ons met vrede en vreugde, Here. Laat ons beker oorloop van liefde en omgee vir ons naaste. Laat ons daagliks uitreik na dié in nood. Laat ons dit doen met opregtheid van hart en tot U eer alleen.

Vul ons harte met 'n lied, 'n soete melodie. Laat ons loflied weerklink oor die aarde. Here, ons harte, ons lewe behoort aan U.

Die Nuwejaar behoort aan U. Laat ons met dankbare harte leef en werk tot U eer. Laat ons hele lewe daarvan getuig dat ons aan U behoort.

Laat ons ja en ons nee wees volgens U wil. Laat ons daagliks ons dag begin en eindig met U Woord wat vir ons die pad aandui.  Laat ons voete U gewillig volg.

Maak ons bruikbaar en diensbaar vir U goeie werk. Here, laat ons U LIEFDE, HOOP en GELOOF uitleef.

Skenk ons vergifnis vir ons sonde, en help ons asseblief om ander te vergewe soos wat U van ons vra.  Ons smeek dit om U NAAMS ontwil alleen.

Laat ons hierdie jaar van 2012 'n JUBELJAAR beleef.  Dankie dat ons vir U mag vra. AMEN!

~ Lorraine Paynter ~








NUWEJAARSBOODSKAP

Dis ‘n nuwe jaar.

‘n Kans om die sleg en seer

van al die gisters te vergeet en

net die vreugde-mooi saam te neem.

Vanjaar, Here, wil ek regtig oor begin:

ek wil elke dag met ‘n skoon hart leef,

‘n rein gewete gaan slaap en

‘n vervullende lewe lei.

Vanjaar wil ek minder “ek” wees, en meer U;

minder kerm en kla en meer lag en dankie sê.

Ek wil nader aan U leef,

U en u Woord beter leer ken

en meer soos U wees.



My gebed vandag is:

Wees asseblief by my:

Wees elke oomblik van elke dag

my ewig Metgesel, my alwyse Raadgewer

en my begripvolle Trooster.

Help my om so op U gefokus te bly

dat ek elke dag met oorgawe sal leef

in die wete dat U die God van die Heelal

agter, langs, voor, onder en bo my is.

Van nou af tot in ewigheid.

AMEN

uittreksel uit Moed vir elke môre / en ons Kerkblaadjie van Die Vriendelike Gemeente Napier