Wednesday 4 January 2012




Jou Altyd-by-jou-God

Die Feesvier-dae, familiebyeenkomste en rustyd het saam met die laaste 2011-brander weggesypel en 2012 lê uitgetrek voor ons. Natuurlik sou dit lekker wees om nog so ‘n paar sorgvrye dae in ons tasse te pak sodat ons dit deur die jaar weer kan gebruik. Ons sou ook graag die vrede wat ons in hierdie tyd mekaar toegewens het in ons strandhanddoeke wil toedraai sodat ons dit deur die jaar weer op ons harte kon strooi. En dan wens ons heimlik dat wáre seën werklik vanjaar ons deel sal wees. Want saam met die opwinding en uitdagings van ‘n nuwe jaar, lê daar tog maar onsekerheid en vrees oor die onbekende.

Kom ons pak 2012 aan met moed, verwagting en die stille wete dat ons ‘n Verlosser het wat gekom het om ewige vrede te bring, dat ons ‘n Vader het wat vir ons wíl en sál sorg en dat sy Gees hier en nou ín ons is. En tot in ewigheid by ons sal bly. Kom ons word vir ‘n oomblik stil by die Een wat ons lewensreis ken, lank reeds ons pad vir ons beplan het, ons eindbestemming voorberei het en ons so graag ook in hierdie jaar met sy goedheid en teenwoordigheid wil bederf...


Here, dankie vir u geskenk van donskombers-vrede 
wat ek in hierdie dae kon ontvang. 
Dankie dat ek weer daaraan herinner kon word 
dat U Mens kom word het 
sodat ek u koningskind kan wees

Dankie vir die gawe van u oorloop-liefde 
wat U elke dag aan my wil uitdeel en 
dat u Woord en Gees my elke dag 
daaraan wil herinner 
dat ek u geliefde is.

Dankie Here, vir die kosbaarheid 
van u altyd-se-bý-my-wees. 
Help my om te onthou 
dat U nooit u verbintenis met my sal verbreek nie 
omdat ek u uitgesoekte bruid is.

Vanjaar wil ek vashou aan 
u onwankelbare beloftes van trou, 
die waarheid van u Woord, 
en die wonder dat U my elke dag 
wíl seën.

Ek wil nie die 2012-pad sonder u loop nie, Here! 
As ek dalk soms van U vergeet ... 
sal U asseblief dan aan my hart se deur klop 
en my net weer kom herinner aan die 
sagtheid van vrede, 
die onvoorwaardelikheid van u liefde 
en die sekerheid dat U, my Bruidegom, 
altyd by my ís?

No comments: