Thursday 26 January 2012




BESKERMING

U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou. 
Ps. 91:2

Heer, onder U vleuels neem ek my toevlug.  U is vir my ‘n veilige skuilplek – nou en vir ewig.  In U lig lewe en beweeg ek, en voel ek veilig, waar ek my ookal mag begewe.

Wanneer ek bid, voel ek u teenwoordigheid hier by my, en word ek opnuut daaraan herinner dat U altyd by my is – dat ek nooit van U af weg kan beweeg nie.  U vou my toe in U liefde, beskerm my, en maak my paaie voor my uit gelyk.

Vir geen oomblik gaan ek vandag vergeet dat U my toevlug en veilige vesting is nie.  Voor enige uitdaging staan ek sterk en sonder enige vrese.  Elke geleentheid sien ek raak en gaan ek entoesiasties tegemoet, want my vertroue is geheel en al op U.

Hoe vertroostend is die wete nie dat dit altyd U en ek is in alles wat my aangaan.  Op bekende en onbekende weë – in wat ookal van my gevra word om te doen, dit is U en ek, Heer.  U beskerm my en rig my in alles wat my te doen staan.

Gebed:  Onder U vleuels Heer, neem ek my toevlug!

~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: