Tuesday 24 January 2012





WOORDE

Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
Ps. 141:3  (OV)

Stel vandag ‘n wag voor my mond, Heer.  Ek weier om enige gedagtes in woorde te omskep as hulle nie liefdevol, vriendelik en waar is nie.  Ek sal streng toesig hou oor my woorde, en slegs gedagtes oordra wat ‘n seën inhou vir my, vir almal om my en in my wêreld.  Bewus van die mag van die gesproke woord, hou ek die gesprekke wat ek met andere voer fyn dop.  Ek kleur elke woord wat ek sê met die liefde van Hom wat woon in my hart, gevleuelde woorde van liefde en lig wat almal om my opbeur en gelukkig maak.

In sy krag beskik ek oor die mag om elke onnadenkende, onvriendelike woord wat skielik by my opkom, te verwerp voordat ek hulle uitspreek.  Ek hoef nie op ‘n ander se onvriendelikheid te reageer nie.  Ek hoef nie vrees of twyfel uit te spreek nie.  Ek het geen rede om my woede te lug nie – binne-in my is die antwoord op al my behoeftes!

Dankie, Heer, vir die wonder van U teenwoordigheid in my denke en in my hart, wat my in staat stel om met my lig-woorde U vriendelike, goedige, opregte kind van die lig te wees.

Gebed:  Stel U vandag ‘n wag voor my mond, Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~

No comments: