Monday 31 October 2011



STIL TOT GOD


My siel is stil tot God.  – Ps. 62:2  OV


My siel is stil tot God.  In hierdie gewyde oomblikke saam met Hom, hoor ek Sy stem:

“Kom, vat My hand, My kind, en stap saam met My.  Lig op jou hoof en kyk na die wêreld om jou met oë wat die goeie en die mooie soek, en jy sal alles wat reg is met die wêreld, sien.

“Ek skenk jou die houer van My hart wat liefde is.  Neem dit, laat dit jou hart vul, om mildelik daarvan te gee so ver jy gaan.  Dan sal dit nie vir jou moeilik wees om andere met respek en vriendelik te benader nie, en jy sal ‘n vredemaker wees – ‘n ware kind van die lig.

“Alles wat negatief en seer gemaak het in jou lewe, behoort aan die verlede – laat dit daar, en gaan ‘n heerlike, vry toekoms saam met My binne.

“Moenie bang wees nie, want kyk, Ek is met jou.  Ek is langs jou, en hou jou hand styf vas.  Ek is voor jou om jou pad gelyk te maak.  Ek stap saam met jou, elke tree van die weg wat jy moet gaan, en ‘n helder toekoms wink jou toe.  Glo dit!”


Gebed:  Dankie, Vader!  Hou my hand styf vas!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 30 October 2011


HARMONIE


“As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry.” – Matt. 18:19


As ek stil word en my Heer nader in gebed, kom my hele wese in harmonie met die orde en ritme van Gods lewe en krag.  Hierdie orde en harmonie wat in my heers, werk ook deur my en om my, en my dag verloop volgens ‘n volmaakte patroon, wat veroorsaak dat ek op die regte tyd op die regte plek sal wees, besig om die regte ding te doen.

Ek leef in ‘n omgewing waar orde en harmonie heers.  Ek is in harmonie met elkeen wat ek mag teëkom.  Na gees, siel en liggaam is ek een ordelike volmaakte mens.  Liefde en harmonie voer die botoon in my lewe, en die wysheid en goeie oordeel wat ek aan die dag lê, maak my lewe vol en ryk.

Elke dag maak ek tyd om stil te word in gebed. Ek ontspan en harmonie en orde neem oor in my en om my.  Alles werk ten goede mee want ek is in harmonie met die werkinge van God wat ordelik in en deur alles en almal werk.


Gebed:  Ek is in harmonie met die werkinge van God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 29 October 2011



GOD MET MY


Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde. – Jer. 31:3 OV


Ek is nooit alleen nie en ek hoef nooit alleen of verlate te voel nie, want God is met my – Hy het my lief met ‘n ewige liefde.  Hoe groot die wonder, hoe diep my dank!  Hy vou my toe in sy liefde, Hy sorg vir my, en stap saam met my elke tree van die weg wat ek moet gaan.

God is met my as krag.  Na gees, siel en liggaam is ek sterk, staan ek sterk, en wandel ek my pad van lig vol moed en krag.  Ek weet ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee!

God is met my as Lig.  Met my denke helder verlig in sy wonder-lig raak ek nooit die pad wat ek moet gaan byster nie – met sy Lig-idees maak ek ‘n sukses van my lewe.

God is met my – hoe heerlik, gelukkig maak hierdie woorde my nie!  Uit die diepste smart hef Hy my op, deur die grootste uitdaging lei Hy my heen, en voor die grootste gevaar is Hy my skild en my pantser.  Hy leef in my en ek leef in Hom en aan my dank is daar geen perke nie!  Dink net!  Nooit is ek alleen nie! God is altyd met my!


Gebed:  God is met my, elke oomblik!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 27 October 2011


SEËN DIE WÊRELD


Mag die Here julle seën, Hy wat die hemel en aarde gemaak het.
Ps. 115:15


Dankie Heer, vir die wonder van heel U skepping.  Dankie vir die spesiale mense in ons lewe – vir alle mense oraloor.

Dankie Heer, vir die planeet aarde, ons tuiste en bron van voorsiening.  Dankie vir die plante wat ons voed, die lug wat ons inasem, die water wat ons drink, en die geleentheid om midde-in al hierdie skoonheid en verskeidenheid te mag lewe.

Dankie Heer, vir diere.  Hulle vorm ‘n belangrike deel van die familie van hierdie wêreld.  Hul help ons in ons werk, is ons getroue metgeselle, en gee ons onvoorwaardelike liefde.  Net hul teenwoordigheid is genoeg om ons gelukkig te maak.

Dankie Heer, vir riviere, berg en dal – vir die wêreld wat U so mooi gemaak het vir ons om in te woon.  Wees U die lig en die liefde in elke mensehart, sodat elkeen wat hier woon, slegs bydra tot die skoonheid om ons.

Deur ons dank, Heer, seën ons ons wêreld, en ons sien al die skoonheid om ons raak.


Gebed:  Seën ons, Heer, en seën ons wêreld o Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~






WAARDERING


Ek hou ook nie op om God vir julle te dank nie.  – Ef. 1:16


In ‘n gebed van waardering seën ek my geliefdes: 

“Dierbaarste, ek het jou lief, ek seën jou en ek waardeer jou.  Ek sê vir jou dankie want vir my is jy spesiaal en uniek, en daar is niemand wat my of my wêreld tot soveel seën kan wees as juis net jy nie.

“Ek het jou lief en help jou om altyd jou bes te doen. Al stem ek nie altyd saam met alles wat jy wil doen of wat jy sê nie, een ding weet ek – elkeen van ons het verskillende doelwitte om na te streef, verskillende drome om te vervul.

“Ek aanvaar jou net soos jy nou is.  Die persoon wat jy laas jaar, of selfs nog gister was, laat ek gaan.  Ek is só bly om te sien hoe jy ‘n nuwe mens word namate jy groei en ontvou op jou lewenspad – om te sien hoe die lig van jou eie inwonende Christus al hoe helderder in jou, deur jou en om jou begin skyn. 

“Baie dankie dat jy jou lewe met my deel, en my eie lewe vir my soveel ryker en voller maak.  Dit is vir my ‘n seën om jou as metgesel te hê op my lewenspad.  Ek het jou lief, en waardeer jou elke dag al hoe meer.”


Gebed:  Dierbaarste, ek het jou lief!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 25 October 2011



GELOOF


Ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. -  2 Kor. 5:7 OV


Ons eerste reaksie op ‘n groot uitdaging mag dié angs of verset wees.  As ons egter onthou dat enige uitdaging slegs ‘n geleentheid tot verdere geestelike groei beteken, ‘n geleentheid om te groei in wysheid en begrip, begin die krag van Christus vanuit ons diepste wese die situasie binnevloei.  Dit is die krag wat ons in staat stel om enige uitdaging in ons lewe met geloof, moed en durf tegemoet te gaan.

Ons raak ontslae van alle twyfel, spanning of gevoel van onwaardigheid.  Ons weet daar  is geen probleem wat groter is as die krag van God nie, en in plaas daarvan om met kommer te reageer op omstandighede, gaan ons gelowig voort op ons pad van lig, van oomblik tot seëvierende oomblik.  Ons sien dieper as wat die menseoog in staat is om te sien – ons sien die onderliggende seën in elke uitdaging.

Ons sien die waarheid wat nooit verander nie, al verander alles om ons.  Ons werk saam met ons Heer, en met Hom aan ons sy kan ons nie faal nie.  Ons woorde weerspieël ons geloof, en ons positiewe benadering tot die lewe stel ons in staat om enigiets wat ons pad mag kruis met sukses te hanteer.


Gebed:  In Gods krag glo ons en wandel ons.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 23 October 2011



WENNER


God was met hom, en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk.  – Hand. 7:9-10  (OV)


Voordat ek nie baie goed verstaan wat dit beteken om ‘n wenner in die lewe te wees nie, mag ek nooit voel dat ek ‘n wenner is nie.

Ek is altyd ‘n wenner as ek die krag van Christus in my gebruik om te seëvier oor alle negatiewe gedagtes, gewoontes en handelinge.  ‘n Ware wenner is nie iemand wat daaraan dink om met ander mense te kompeteer nie, dus gaan ek my ook nie daarop toelê om beter as andere te wees nie.

Ek mag nie die top-presteerder in ‘n toets wees nie, maar ek is ‘n wenner as ek nie die geringste twyfel in my vermoë om die toets te ondergaan, toelaat om my daarvan te weerhou om my daarvoor voor te berei nie.  Ek is altyd ‘n wenner as ek van my kant af my bes doen.

Met my hand in dié van my Heer, sien ek en wandel ek in die lig, en ek is en bly ‘n wenner in die arena van die lewe.  Niks en niemand kan my hoegenaamd laat twyfel aan die waarheid van hierdie stelling nie.  Niks en niemand kan my minder as ‘n wenner maak nie!


Gebed:  Ek is ‘n wenner!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 22 October 2011




VOORSPOED


Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
Matt. 6:8


Kinders mag glo dat hulle gelukkig en tevrede sal wees as hulle presies dit wat hulle wil hê, kan kry, wanneer hulle dit wil hê.  Ouers weer weet dat hulle nie hulle kinders onvoorwaardelik hulle sin kan gee nie, want dit kan later probleme skep.

Hierdie reël geld ook vir ons.  As kinders van God vra ons soms vir iets wat nie tot ons hoogste heil sal wees nie, en dan is on aangenaam verras met dit wat Hy wel vir ons gee as antwoord op ons gebed, want dit bring soveel meer seëninge mee.  Wat ons hieruit leer, is dat Hy altyd baie beter as ons weet wat die beste vir ons is.

As ons Hom dus nader in gebed, moet ons alles in Sy hande laat, en op Sy wysheid staatmaak vir die volmaakte antwoord.  Hy weet so goed wat ons nodig het, en sal dit voorsien nog voordat ons dit van Hom vra.  In Sy oorvloed sal ons ‘n vol en ryk lewe geniet, en ons sal Hom loof en dank vir die wonder van Sy alwysheid en troue sorg.


Gebed:  Laat U wil geskied, Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~






WEES STIL


Bedaar en erken dat Ek God is.  – Ps 46:11


Saggies en liefdevol rig ek die volgende woorde tot my malende gedagtes en emosies:  wees stil, wees stil, wees stil, en ek voel hoe my gedagtes tot rus kom en my liggaam ontspan.

Wees stil en laat los.   Hoe maklik is dit nie om van alle kommer ontslae te raak as my gemoed stil en my liggaam ontspanne is nie.  Ek laat vaar alle vreesaanjaende, angstige en onvriendelike gedagtes.

Wees stil en laat dit aan God oor.   In hierdie oomblik van stilte maak ek my hart oop tot God, en Sy helende, verkwikkende liefde, lig en krag vloei my ongestoord binne.  ‘n Lied van vreugde ontwaak in my siel.

Wees stil en luister.   Daar is so baie wat God aan my wil openbaar.  Deur te laat los en Hom te laat oorneem berei ek my voor vir Sy leiding en lig.

Nou rus ek in die diep stilte van my siel.   Ek weet ek is God se geliefde kind, en dat alles wel is met my, met my geliefdes en die wêreld waarin ek woon.


Gebed:  Dankie, Heer, vir die stil oomblikke saam met U.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 21 October 2011



GELUKKIG


Hy wat op die Here vertrou, is gelukkig.  Spr  16:20 OV


Goeiemôre, nuwe dag!  Goeiemôre nuwe ek!  Wat ‘n wonderlike dag om te lewe!  Wat ‘n wonderlike dag om in te gaan!

Ek verwag gelukkige dinge vandag. 
Ek verwag ‘n dag waarop alles glad en ordelik gaan verloop. 
Ek verwag dat harmonie en goeie begrip vandag die oorhand sal hê. 
Ek verwag dat vandag ‘n dag sal wees waarop ek met goedkeuring en liefde behandel sal word, waarop ek my doel en mikpunt sal behaal, waarop ek meer gebruik sal maak van die talente en vermoëns waarmee ek geseën is.

Vandag sal ek glo dat God my in alle dinge lei, of dit nou belangrik is of minder belangrik.  Vandag sal ek my heil verwag en aanvaar.

“Kyk na hierdie dag,
want gister is slegs ‘n droom
en môre net ‘n visioen.
Maar vandag goed gelewe
maak van elke gister ‘n droom van geluk,
en elke môre ‘n visioen van hoop.”


Gebed:  Ek is en gaan vandag gelukkig wees!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 20 October 2011


MY DEEL


God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.  – Ps 73:26 OV


Liewe Heer, maak my vandag so bewus van U  teenwoordigheid, van U lig, liefde en krag, dat niks my kan steur of ontstel nie.  U lig skyn helder op my pad, en as ek begin twyfel, is dit U lig wat my voetspore op die regte pad lei.

Liewe Heer, maak my vandag so bewus van U liefde in my en om my, dat ek deurgaans versorg en vertroos voel.  En hier waar ek in U liefde rus, kyk ek na die wêreld met oë van liefde.  Ek sien alles wat mooi en skoon is om my raak.  Ek leef U liefde uit, en U seën my met dae vol en mooi.

Liewe Heer, maak my vandag so bewus van U krag dat ek geen onheil vrees nie.  U stok en U staf is ook my stok en en staf.  U krag is my krag, en stel my in staat om bo enigiets wat nie van die lig is nie, uit te styg.  Ek styg bo griewe en neerslagtigheid uit, ek styg bo alle vrese uit. en staan sterk en vry in U krag.

Liewe Heer, vir U lewenskrag wat in my hart pols en deur my are vloei, sê ek nou uit die diepte van my hart, dankie!  Dit maak my gesond.  Dit maak my sterk.  Dankie, Heer van my hart!


Gebed:  Dankie, Heer, vir U!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 18 October 2011



GOUE  URE


Wonderbaar is U werk!  En my siel weet dit alte goed. 
Ps. 159:14  (OV)


Ons dink aan goud as ‘n waardevolle kosbare metaal.  Wat is waardevoller, kosbaarder as die lewe self?  Vier-en-twintig goue ure van lewe – ‘n kosbare gawe van God!  Hoe geseënd is ons nie!

Vandag is ‘n geseënde dag, ‘n dag vol goue ure.  Laat ons hierdie goue ure goed gebruik.  Laat ons dwarsdeur hierdie dag onthou om bly te wees en om dankie te sê vir die vreugde van die lewe, vir ons gesondheid en krag, vir ons kosbare familie en vriende, vir liefde en begrip, vir vryheid en vrede.

Dwarsdeur hierdie dag vol goue ure gaan ons dink, praat en wandel soos geseënde kinders van die Allerhoogste.  Dwarsdeur hierdie dag vol goue ure, gaan ons die minute en die ure so gebruik dat die waarde en rykdom van hierdie dag bydra tot ons geestelike groei, en tot hulp vir en seën van ander.

Ons juig en is bly oor hierdie mooi dag wat die Here gemaak het.


Gebed:  Vandag is ‘n geseënde dag, ‘n dag vol goue ure.


~ Uit Daelikse Woord ~





Symptoms of Inner Peace

A tendency to think and act spontaneously rather than on fears based on past experiences.

An unmistakable ability to enjoy each moment.

A loss of interest in judging self.

A loss of interest in interpreting the actions of others.

A loss of interest in conflict.

A loss of ability to worry (this is a very serious symptom).

Frequent overwhelming episodes of appreciation.

Contented feelings of connectedness with others and nature.

Frequent attacks of smiling.

An increasing tendency to let things happen rather than make them  happen.

An increased susceptibility to the love extended by others as well as the uncontrollable urge to extend it.





INNERLIKE  VREDE


Om U wil te doen, my God, is my begeerte, U woord is my hele lewe.  Ps. 40:9


Heer van my hart, weet U wat dit vir my beteken om so met U te kan praat hier in die stilte van my binnekamer. Die rus en vrede wat my gemoed binnevloei so saam met  U, ken geen perke nie.  Dis ‘n diepe rus en vrede wat nie in woorde beskryf kan word nie, dis ‘n rus en vrede waarvoor nie met woorde dankie gesê kan word nie.

Ek praat met U, en U luister na wat ek vir U wil vertel.  Al my kommer en sorge, al my vrese, my geliefdes en alles wat my aangaan, kan ek hier aan U oorhandig, en U neem oor.  En wanneer ek klaar met u gepraat het, Heer,  is U nog steeds daar. Wanneer ek klaar oorhandig het, vul U elke leë plekkie met U liefde – ‘n liefde wat my siel laat sing en my hart jubel.

U was met my Heer, in wat ookal my te beurt geval het in my lewe, en net so sal U ook met my wees vorentoe.  Wat is daar nog om voor bang te wees? Sag en liefderik vou U my toe in U liefde – ‘n liefde wat heel en vertroos, dit bied U my.

Dankie Heer, vir hierdie hemelse plek van stilte waar U altyd op my wag – waar U altyd my hand vat en my sorge in U lig toevou.


Gebed:  U woord Heer, is my hele lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 17 October 2011



‘N  RUSOORD


Jully sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.
Jer. 29:13 (OV)


As ek moeg is en uitgeput na siel en liggaam, hef ‘n stil, rustige dag of twee by ‘n rusoord my sommer weer op.  Net weg van alle kommer en stres is al wat nodig is.

Maar daar is ‘n ander rusoord ook.  Dit is die rusoord wat ek te enige tyd, op enige plek, kan binnegaan. Die spesiale plek waar my Heer altyd op my wag – die plek waar Hy my hart en gemoed vul met die helende krag van Sy liefde en lig.

Nooit is Hy te besig vir my nie – nooit sal ek daar kom en vind dat Hy nie daar is nie.  My eie inwonende Heer van my hart – hoe wonderlik om so ‘n boesemvriend te hê as die eise van die lewe te veel word vir my!

Hierdie heilige rusoord wat Hy my bied, beskerm my teen alles wat nie van die lig is nie, want dit is ‘n plek van lig.  Dit bring vrede in my gemoed, want dit is ‘n plek van liefde.  Dit inspireer my om voort te gaan, want dit is ‘n plek van krag.  Dit is die plek van die Heer van my hart!


Gebed:  By U Heer, vind ek rus.


~ Uit Daelikse Woord ~




ONTDEKKING

Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.  -  Matt. 13:45

Dit is asof ek per ongeluk van die grootste ontdekkings in my lewe gemaak het op plekke waar ek dit die minste verwag het, onder mense en dinge.

Dit is egter nie per ongeluk dat hierdie ontdekkings gemaak word nie – waardevolle dinge word so ontdek, of dit nou ‘n nuwe produk is, ‘n finansiële bate, ‘n nuwe verhouding, beter gesondheid of ‘n dieper geestelike insig.

Wat gaan ek vandag ontdek? Ek hou my oë oop en my gemoed ontvanklik vir iets moois en goeds wat deur die Heer van my hart aan my openbaar gaan word.  Miskien is dit die leiding waarna ek soek wat deur die woorde van iemand anders of deur iets wat ek lees aan my openbaar word, of die versekering wat ek kry oor iets in my stil tyd van gebed saam met my Heer, of een of ander nodige inligting en besonderhede wat ek skielik onthou.

Wat dit ookal is, en hoe dit ookal na my toe kom, vandag is ek gereed om iets groot en nodig te ontdek.

Gebed:  Vandag ontdek ek iets groot.

~ Uit Daelikse Woord ~









IN GODS SORG


Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. - 1 Petr. 5:7


Een van die belangrikste stappe wat ek kan doen tot groter gemoedsrus, is oorgawe.  Ek gee my, my gedagtes en my gevoelens oor aan God.  Ek plaas alles wat my aangaan in Sy troue sorg en bewaring.

Elke keer as ek begin om my te bekommer, gee ek my kommer oor aan Hom. Ek sê vir myself: "God is alles. Hy is nou hier met my. Hy is die enigste krag en teenwoordigheid aan die werk in my lewe en belange. Ek gee alles oor aan Hom, en vertrou volkome op Sy werke in my en om my."

In die vervulling van my dagtake bly ek kalm en rustig, want ek hou my gedagtes positief, en herinner myself kort-kort daaraan dat ek nie alleen is nie – my Heer is met my.  In alles wat ek doen of sê, doen ek in Sy liefde en lig.

Ek het geen ander behoefte as om te weet dat Sy Heilige Gees in my is nie, om my te lei en te rig, elke tree van my lewensweg. In hierdie wete is ek rustig, kalm en vol vertroue.


Gebed: Dankie Hemelvader! Vandag werp ek AL my bekommernisse op U o Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~


Sunday 16 October 2011



TEN GOEDE


Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Rom. 8:28


Vandag begin ek met die wete dat God alles in my lewe ten goede laat meewerk:

          In al my belange,
          In al my verhoudings,
          In elke orgaan en funksie van my liggaam,
          En in en deur my geliefdes.

Hierdie wonderlike hemelse kennis vul my hele dag.  Ek sien ook hoe die krag van God in en deur alle situasies en omstandighede ten goede meewerk:

          In alle weersomstandighede,
          In my land en in die wêreld,
          In my gemeenskap,
          Vir alle mense oraloor.

My geloof dat alles ten goede meewerk, word al hoe sterker.  Vrede vul my gemoed.


Gebed:  God laat alles ten goede meewerk.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 15 October 2011



TROOS


Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, ek sal vir hulle uitkoms gee.  – Jer. 31:13


God is die bron van verligting vir enigeen wat treur, die bron van sekerheid vir enigeen wat vol twyfel is, en die bron van bemoediging vir enigeen wat moedverlore langs die pad sit.  God is alles vir almal.

Ook vir ons, is Hy alles.  Hy is die lewe waarin ons lewe en die wysheid wat ons lei en inspireer.  Na Sy beeld het Hy ons geskape, en as Sy kinders het Hy ons lief.  Tot in ons diepste wese dring hierdie hemelse liefde deur om te heel en te genees dit wat heling en genesing nodig het.  Om te vertroos dit wat vertroosting nodig het, en wonde te heel wat te diep is vir mense om te heel.

Nou en vir ewig, is Hy alles vir ons.  Nooit voel ons verlore or verlate nie, want by Hom vind ons al die aandag en belangstelling wat nodig is vir ‘n vol en ryk lewe. Uitdagings is tydelik van aard, maar Sy seëninge en alles wat daarmee saamgaan, is vir ewig daar.  Hoe heerlik om te lewe in soveel liefde en sorg wat net ‘n hemelse Vader vir ons kan gee.


Gebed:  U, Heer, is alles vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~





VOORSPOED


In alles wat hy onderneem het … het hy met sy hele hart gevra na die wil van God, en daarom was hy voorspoedig.  -  2 Kron. 31:21


Christus woon in my hart, en as ek Hom ken in alles wat my aangaan, en Sy leiding volg op elke gebied van my lewe, sal Hy my ‘n wenner maak.

Gedagtes aan gebrek, gedagtes wat sê ek kan nie, enigiets wat my inperk en aan bande lê, is soos onkruid en soos onkruid roei ek dit uit. Slegs die lig, die liefde en krag van God groei in die altaar wat my hart is.

God het my lief en Hy sorg vir my. Nuwe weë tot voorsiening gaan voor my oop.

God het my lief en lei my.  Hy voorsien my van die nodige insig, wysheid en goeie oordeel.

God het my lief en help my om nuwe talente te ontwikkel en om my vaardighede op lonende maniere te benut.  Nuwe idees inspireer my tot verdere optrede.

God het my lief en maak my voorspoedig.  Liefdevol lei Hy my op die pad wat strek tot my hoogste heil, en sonder die geringste twyfel of vrees volg en soek ek Sy wil in alles wat my aangaan.


Gebed:  Laat U wil geskied, o Heer in alles wat in my lewe gebeur!


~ Uit Daelikse Woord ~