Saturday 29 October 2011



GOD MET MY


Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde. – Jer. 31:3 OV


Ek is nooit alleen nie en ek hoef nooit alleen of verlate te voel nie, want God is met my – Hy het my lief met ‘n ewige liefde.  Hoe groot die wonder, hoe diep my dank!  Hy vou my toe in sy liefde, Hy sorg vir my, en stap saam met my elke tree van die weg wat ek moet gaan.

God is met my as krag.  Na gees, siel en liggaam is ek sterk, staan ek sterk, en wandel ek my pad van lig vol moed en krag.  Ek weet ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee!

God is met my as Lig.  Met my denke helder verlig in sy wonder-lig raak ek nooit die pad wat ek moet gaan byster nie – met sy Lig-idees maak ek ‘n sukses van my lewe.

God is met my – hoe heerlik, gelukkig maak hierdie woorde my nie!  Uit die diepste smart hef Hy my op, deur die grootste uitdaging lei Hy my heen, en voor die grootste gevaar is Hy my skild en my pantser.  Hy leef in my en ek leef in Hom en aan my dank is daar geen perke nie!  Dink net!  Nooit is ek alleen nie! God is altyd met my!


Gebed:  God is met my, elke oomblik!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: