Monday 31 October 2011



STIL TOT GOD


My siel is stil tot God.  – Ps. 62:2  OV


My siel is stil tot God.  In hierdie gewyde oomblikke saam met Hom, hoor ek Sy stem:

“Kom, vat My hand, My kind, en stap saam met My.  Lig op jou hoof en kyk na die wêreld om jou met oë wat die goeie en die mooie soek, en jy sal alles wat reg is met die wêreld, sien.

“Ek skenk jou die houer van My hart wat liefde is.  Neem dit, laat dit jou hart vul, om mildelik daarvan te gee so ver jy gaan.  Dan sal dit nie vir jou moeilik wees om andere met respek en vriendelik te benader nie, en jy sal ‘n vredemaker wees – ‘n ware kind van die lig.

“Alles wat negatief en seer gemaak het in jou lewe, behoort aan die verlede – laat dit daar, en gaan ‘n heerlike, vry toekoms saam met My binne.

“Moenie bang wees nie, want kyk, Ek is met jou.  Ek is langs jou, en hou jou hand styf vas.  Ek is voor jou om jou pad gelyk te maak.  Ek stap saam met jou, elke tree van die weg wat jy moet gaan, en ‘n helder toekoms wink jou toe.  Glo dit!”


Gebed:  Dankie, Vader!  Hou my hand styf vas!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: